Saturday 21 January 2012

Venus en malende gedagtes

2011-12-16 19h45



Vrydag 16 Desember. In die Republiek is dit langnaweek. Op die boot is dit bad-dag. En klere was. En terwyl ons op spit & polish uit is het ons sommer die roes afgepoets waar ons kon bykom en die see toelaat.
Die stort is met koue water, maar dis vars water. Behoorlike sjampoe en stort-gel. Jy exfoliate nogal woes; mens sal smaak jy vervel. Maar dis lekker om daaruit te kom. Dis nogal heel warm en bedompig hier naby die ewenaar. Die manne reken dit gaan nog beduidend warmer word en die wind gaan lê. Wanneer dit gebeur gaap die kraaie. Renier het vandag 'n foto gewys van die doldrums. Dit lyk soos die Vaaldam op 'n laat somermiddag as daar nie wind is nie: Plat soos 'n spieë, behalwe dis nou die groot oseaan in die middel van nêrens. Ons hoop maar dit hou nie te lank aan nie.

Ons het vandag weer 'n bier gedrink. Een bier per persoon na ete. Ek moet bieg en erken dat die onthouding en uitdroog mens goed doen. Jou gesondheid voel sommer beter en jy kan selfs die bier se smaak waardeer.
Ons begin glad nou al ons spyskaart vooruit beplan. Dit werk goed so, want dan kan ons verseker wees van variasiein die disse. En steeds eet ons uithaler kos. Dis nou wel meesal groente uit blikkies, maar ons het steeds baie rys, vars aartappels en uie en ook meel. Oormore is dit rotis met dhal en blokkies beesvleis. Ek sal maar vroeg begin kook.

My navigasie is steeds op standaard met 'n fout kleiner as twaalf myl op 'n oornag stel berekeninge. Dit gee selfvertroue. Die sekstant is steeds op 'n koers van sy eie. Die instrument behou nie sy indeks kalibrasieverstelling nie. Nie eers vir die vyf minute wat die drie lesings neem nie. Miskien doen ek iets snaaks, maar daar is geen instruksies of raad te dien effekte in die handleiding nie. Nou kalibreer ek voor elke stel lesings, meet die indeksfout agterna en pas al die lesings aan met die helfte van die fout.
Die weerpatroon is nogal interessant. Die wind gaan lê heeltemal in die dag. Dis warm en bedompig met wolke en squalls. Maar in die nag is daar nie squalls nie en die wind waai bestendig suid-oos tot oos. Ons seil dan heel lekker op 'n basiese plat see.

Ek het vandag 'n seevoël gesien, die eerste een sedert die dag van ons vertrek uit St Helena. Dit is die eerste teken dat ons nou nader aan die land is. Ons sal nou seker meer begin sien soos ons die land nader. Ek het nog geen dolfyne gesien nie. Om presies te wees is dit net Renier wat al dolfyne gesien het op hierdie reis, en dit was eenmalig iewers voor St Helena.

Vandag het ons weereens geen vis gevang nie. Ek het 'n byt op die bungi-lyn gehad en Renier het 'n vis gehaak op die visstok. Myne was net 'n byt wat die poliesman getrip het. Maar op die visstok het die vis behoorlik gevat. Hy het egter na 'n minuut of wat losgekom. Dis bietjie bemoedigend na 'n paar dae van geen aktiwiteit. Ons het nie regtig nog kos nodig nie, maar die visvangery bied darem 'n bietjie afwisseling en opgewondenheid in die daaglikse roetine. En 'n groot brag foto is nie noodwendig onvanpas nie. 'n Mens mag maar spog met die resultate van jou byvoordele, of hoe? Hierdie byvoordele verryk jou ervaring, nie jou sak nie. Dis nogal iets om te onthou.

Vanaand is dit baie donker buite. Die maan is nog nie op nie en dis erg bewolk. Ek kan Venus sien. Die planeet is só helder dat mens vanaand die ligbaan mooi op die water kan sien. So hier en daar is nog 'n ster of twee te sien, so tussen die wolke deur.

Die gemoedstoestand op die boot is in 'n heel humoristiese luim. Ons speel nou gereeld kaart en daar is 'n jolige oor-en-weer geskertsery oor die punte. Hierdie reis is vir my 'n uitmuntende ervaring van hoe lekker 'n seereis per seilboot kan wees. Dis half jammer Carol dit nie wil deel nie. Renier het nogal vandag skertsend gesê dat hy my saamgebring het om te sien of hy dit nog sal kan doen op sy oudag. Ons het lekker gelag. Al drie van ons is op een of ander manier sportief georienteer. Ek is nou die verste op my lewenspad en begin afskaal op die fisiese uitdagings en ontberings. Ek vermoed dis 'n openbaring vir die ander twee om die perspekitewe te sien.

Die sterrenavigasie is nog 'n ding. Ek het raak gekorrel met my keuse van tydverdryf. Ons het 'n lang bespreking gehad oor tydverdrywe aan boord.Dit kom toe uit dat albei my skeepsmaats idees het van verder studie, hetsy diplomas of sommer net iets soos die aanleer van 'n nuwe taal. Dis miskien iets om in gedagte te hou by die beplanning van 'n reis, veral 'n aflewering, soos hierdie een. Daar is altyd 'n vlak van onkunde en/of ervarenheid. 'n Mens kan dit gebruik om 'n taal of ander vaardigheid aan te leer. Ek het, byvoorbeeld, begin om hierdie joernaal by te hou. Iets wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie.
Eers was ek bang vir die leë papier. Toe was ek bang vir foute maak. Iewers kom daar toe die openbaring dat dit my eie boek is. Ek kan enigiets daarin opskryf, teken, skoonskrif oefen of iets dergeliks. Van toe af sukkel ek nie meer om te skryf nie. Een pen opgeskrywe. Of is dit nou leeggeskryf? Wat ook al, dit reflekteer my gedagtes en gemoedstoestand.

Ek het altyd gedroom daarvan om my ervarings op te teken. Maar dit werk nie op 'n post facto-beginsel nie. Nou skryf ek dit elke dag neer, bietjie vir bietjie. Nie alles op een slag nie. Jy eet bietjie vir bietjie, slaap bietjie vir bietjie, werk ook so en speel ook so. Dit gee mens kans om ook te rus, so tussen al die dinge deur.

En bowenal, dit verskaf geleentheid om oor jou lewe te besin, te beplan en te besluit. Alles bietjie vir bietjie. Ek is half bly my storm-en-drang jare is verby, waar ek roem en geld nagejaag het. Nou het ek tyd om te besin oor wat ek wil aanvang en daarvoor te beplan. Nou geniet ek die ervaring soveel meer en daar is groter waardeering in my gemoed oor die rykdom van ervarings. Daar is nie net groot dinge in mens se lewe nie, daar is 'n duisternis klein dingetjies. Die groot goed, so begin ek vermoed, is 'n samegooi en groeperings van bondels klein dingetjies. Dit belemmer mens se insig omdat detail, die klein dingetjies, weggesteek raak en verlore gaan.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment