Wednesday 18 January 2012

Roerbraai vark, groente en skoonmaak

2011-12-10 04h00

Ons het gisteroggend 'n dorado gevang. So een meter lank. Nadat hy afgeslag is en mooi verpak is, is die laaste porsie van die bonito oorboord gegooi; die skipper en eerste offisier hou duidelik nie van bonito nie. Dit was ook stortdag en mens kom heel verfris uit die koue stort. Dan sit jy sonder 'n hemp in die son om mooi droog te word.. Die koue water tap steeds mens se energie en 'n uur later was ek ver weg in droomland.

Die see is nou amper heeltemal plat. Gister het dit nog gekabbel, maar nou is die kabbelings selfs weg en die water se oppervlakte lyk sommer blink in die maanlig. Die wind is stadig maar seker besig om te draai.

Ons seil tans heel lekker op 'n bakboord “tack,” maar sal eersdaags moet omskakel na stuurboord. Dis nie die weer wat draai nie, ons is besig om uit die Suid-Atlantiese hoogdrukstelsel te seil. Op die oomblik is ons omtrent aan sy bokant, met die wind oos-suidoos. Binne 'n paar dae behoort die wind oos te wees soos ons nader aan die Brasiliaaanse kus kom.

Ons is nou nader aan Brasilië as aan Afrika. Nie dat ons naby aan die enigeen is nie. Inteendeel, ons is naby aan die middel van die see, aan die noordelike deel van die Suid-Atlantiese Oseaan. Teken 'n driehoek tussen St Helena, die suid-westelike punt van Wes-Afrika en die noord-oostelike punt van Brasilië op die bog van Suid Amerika, dan is ons iewers in die middel van die onderste been.

Dit was weer my beurt om te kook.

Roerbraai vark met roerbraai groente en noedels.
Bestanddele:
400 g varktjops
1-2 brandrissies, gekap
3 eetlepels maizena (cornflour)
1 eier
Glasuursous:
¼ koppie sojasous
¼ koppie asyn
¼ koppie suiker
skeut kookolie
Gemengde groente na smaak. Ek het kool, wortels, uie en soetrissie gehad. 'n Ui en kool is nodig, die res na smaak. Ons het nie sampioene gehad nie.
1 teelepel knoffel
peper
skeut sojasous
4 porsies 2-minuut noedels

Metode:

Meng die eier en die mazeina. Die beslag moet redelik dik wees, amper soos goue stroop. Sny die vleis in blokkies en voeg by die deegbeslag. Kleiner vleisblokkies is beter, dan kry jy meer geur. Braai die vleis met deeg in vlak olie. Tot die deeg bruin word. Verwyder uit die pan. Braai nou die brandrissie sodat die ergste brand uit is. Dis nou soos in erg skrikmaak. Wees versigtig om nie die rissies aan te brand nie, dan is alles bitter. Sit nou weer die vleis terug in die pan met die rissies. Meng goed . Voeg dan die glasuursous by. Dis nou die suiker, sojasous en asyn-mengsel. Kook die spulletjie totdat die sous dik genoeg is na smaak. Vewyder die vleis en sous uit die apn en laat dit eenkant rus.

Voeg 'n skeut olie by die pan en braai die peper en knoffel tot gaar. Pasop vir aanbrand. Voeg nou die gesnipperde groente by en roerbraai tot die groente “al dente” gaar is. Voeg die gaar noedels by en meng goed. Die noedels word apart gaargekook.
Voeg 'n skeut sojasous by, meng deur en dis op.

Die manne het elkeen twee porsies geëet en daar was 'n groot stilte tydens die ete. Mens mors nie tyd met gesels terwyl jy weglê nie.

Ons het vandag gesit en nabetragting hou oor ons dieet. Dit kom toe uit dat ons nie retig al disse herhaal het nie. Daar was wel 'n paar pasta-geregte op die spyskaart, maar verskillend genoeg om te kwalifiseer as aparte geregte.

Ek wonder hoe lank ons dit kan volhou. Ons het letterlik net vyf eiers oor. Ek beplan om binnekort roti te maak. Sal nog sien wat daarmee saamgaan. Sal net meel sout en water gebruik, met bietjie botter(?)

My navigasie-oefeninge is nou tops. Ek het vandag ons posisie geplot met 'n lopende peiling (“running fix”) tot binne ses seemyle van waar die boot se GPS aandui. Nou is dit die beurt van die sterre. Ek het bietjie ingestudeer, maar vannag is bewolk. Die maan is ook te helder, dan sien mens nie juis die sterre nie.

Ek is effe bekommerd dat die ander nie juis my belangstelling deel nie, maar dis miskien miskien my eie entoesiasme wat oordonder. Ek geniet egter die oefening. Dis darem positiewe afleiding en stimulasie, teenoor Soduko, wat net afleiding is.

Ek voel sterk genoeg oor my navigasievermoë om sonder 'n GPS te kan klaarkom op lang reise. Mens het nie daardie presisie van die GPS nodig in die middel van nêrens nie. Teen die kus is dit 'n perd van 'n ander kleur, met die kans op swak sig. Mens kan dan in die moeilikheid raak as jy nie ordentlike kaarte het nie. Ek is bly ek het my nek uitgesteek oor die navigasie-ding. Ek sou maar redelik verveel gewees het van boeklees en Soduko invul.

Gisteroggend was my skottelgoed-was beurt. Gisteraand was my kookbeurt. Drie-uur is hierdie skof verby, dan gaan ek net lekker slaap en rus vir die res van die dag. Ek sal weer twee stelle sonlesings neem en dit verwerk, dan bywerk by gister se stel lesings en dit plot. Dan kan ek begin om my kaart by te werk.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment