Monday 16 January 2012

Onderweg



23 November 2011

Die oggendskof sien my uit die bed om 04h30. 'n Uur te vroeg. Skipper giggel, toe gaan slaap ek weer. Darem die daeraad ervaar. Toe ek aanmeld om 05h45 is die son reeds uit. Die wind het deur die nag bedaar, toe moes ek die enjin gebruik. Dis maar goor met die gedreun. Maak gou-gou die dek skoon van my tee wat omgeval het.

Maak 'n koppie tee op my nagskof, toe val dit om. Herhaal toe die hele prosedure: Gas oop, gasklep aan, stoof aan, water op. Wag vir water om te kook, gas toe, gasklep af stoof af. En so aan. Renier kom wys hoe om water uit die see te skep sonder om in te val, toe was ek gou die tee van die dek af voor dit vlek.

Ek eet beduidend minder as normaal. Die draaikolk in my maag het seker iets daarmee te doen. Vanoggend is die draaikolk weg. Vanaand sal ek 'n stewige maaltyd moet eet. Ek hoop die see bedaar 'n bietjie. Dan hoef mens nie die heeltyd vas te hou met een hand en jou belly-button nie.

Ons is nou iewers op reis na Luderitz, parallel met die kus. So om en by 80 seemyle van Saldanha af. 

Die laaste sien van die land was die weerkaatsing van die lig van Kaap Columbine se vuurtoring teen die wolke.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment