Monday 16 January 2012

Sekstantlesings, viskerrie en tegniese lesse



27 November 2011

Ek was lekker deurmekaar in die nag. Staan toe mos 23h00 op om te begin werk. Drikus lag hom slap, ek moet eers om 03h00 begin. Ek gaan slaap toe maar weer. Iewers in die nag word ek toe wakker, kyk op die horlosie en besluit dis tien minute voor my skof begin. Ek trek toe warm aan en meld aan vir diens, net om te verneem dis toe eers 02h00, ek het nog 'n uur van rus oor.

Gmf.

Na my skof gaan slaap ek toe tot so agtuur die oggend. Renier is besig met sy visgerei se voorbereiding. Nie te lank nie, toe is daar breiwerk op die tol lyn, wat lyk asof die katte daarmee gespeel het. 'n Uur of wat later is dit uitgesorteer en die kuns-aas word uitgesit. Renier is nog besig om te vertel hoe mens nou geduld moet gebruik, dit vat soms twee dae voor jy iets haak, toe sing die katrol. Dis toe 'n bonito van so agt kilogram.

Na 'n kort gesperk word daar besluit om die vis te hou en ek moet viskerrie maak.

Viskerrie
Bestanddele

1 koppie rys
½ koppie bruin lensies
1 blik klapperroom
1 blik ertjies
1teelepel knoffel (en gemmer)
2 teelepel groen masala
1 teelepel heel koljander
1 steranys
1 teelepel heel komyn
1 tee borrie
2 teelepel vismasala poeier
1 stukkie kaneelbas
4 kerrieblare
4 kardamompeule
1 ½ medium ui (of 1 grote)
½ soetrissie (green pepper)
1 klein brandrissie
½ t gemaalde komyn
500g vis in klein blokkies gesny
sout

Metode

Maak 'n klein koevert van aluminiumfoelie en plaas die gemaalde speserye daarin.
Kap die kardamompeule fyn en en braai dit tesame met die ander heel speserye en die koevert gemaalde speserye in 'n droeë pan.

Verwyder die koevert gemaalde speserye sodra die speserye se geur uitkom.
Voeg nou 'n skeut olie by die heel speserye in die pan en braai nou die uie, soetrissie, brandrissie en ander nat speserye tot die uie deurskynend is.

Voeg die klapperroom en die water van die ertjies by, asook die res van die speserye in die koevert. Die kerrieblare kom ook nou by.

Prut die sous totdat dit mooi deurgekook is en voeg dan die rou vis by. Prut die volledige dis tot die vis gaar is en voeg dan die ertjies by. Prut tot alles deurgekook is en haal dan van die hitte af om te rus. Sout na smaak.

Kook die rys en lensies tesame. Verwarm die vis-dis eers wanneer die rys gaar is en dien dan op.

En siedaar, Renier eet vis wat hy gedink het is goor en wou teruggooi!

Volgende keer sal ek meer kaneel en kardamom insit en minder komyn. Die dis sal dan effe soeter smaak met minder byt.

Ons het vandag vir langer wakker gebly en begin kaartspeel. Meer sosiaal verkeer. Dit was 'n lekker warm dag.

Daar was ook 'n paar tegniese lesse. Die boot het 'n magnetiese vloedhek kompas wat saam met die stuuroutomaat werk. Die sensor is reg onder die werkoppervlak in die kombuis. 'n Skroewedraaier op die werkoppervlak het die kompas heel deurmekaar gemaak. Dieselfde vir enige metaalvoorwerp op die werkoppervlakte, inklusief potte, ketel, blikborde, messegoed en blikkieskos. 'n Groot caveat. Die boot het amper in die rondte gedraai.

Die ander les was die enjinolie. 'n Koue enjin wat jy aan die gang sit, hou al die olie terug. Jy sal smaak die enjin het nie olie nie. Laat loop maar die enjin warm en wag dan so tien minute voor jy die olievlakke nagaan. Anders gaan jy groot skrik!

Vandag was ook 'n verdere mylpaal vir my.

Ek kon vir die eerste keer op die reis twee sonlesings met die sekstant neem.Ek sal later die berekeninge doen en ons posisie op die kaart aanstip. Dis die begin van my navigasie praktiese oefening en behels die toepassing van matriek-vlak driehoeksmeting.

Ons is nou al oor die halfpadmerk na St Helena, tans so knap noord van die Valdivia-banke. Dis 'n ondersese gebergte wat die see heel vlak maak en wat groot golwe en 'n deurmekaar see tot gevolg het. 'n Plek wat mens liefs vermy.

Die wind waai betreklik bestendig suid-oos teen so agtien knope met vlae na 25 knope. Die see is redelik plat, met die gevolg dat ons fluks vorder teen so 6-7 knope. Dit onder slegs die genoa. Die wind waai in elk geval in so 'n rigting dat die hoofseil net die genoa sal blok.

Ek het so pas vir my 'n porsie oorskiet viskerrie gaan opwarm en geëet. Dit smaak lekkerder noudat die geure verder kans gehad het om te ontwikkel. Vir 'n eerste viskerrie-gereg voel ek glad nie beskroomd nie. Die kos smaak hengse lekker en is nie te sterk nie.

Dit het vandag by my opgekom dat dit 'n bestiering is dat ek nie die deeltydse doseerwerk gerky het nie. Ek is duidelik meer in my element hier aan boord as voor 'n klas vol studente. Miskien wel later. Maar nou is dit tyd vir my persoonlike katarsis, 'n reiniging van die siel en die liggaam.



Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment