Monday 16 January 2012

Tamatiebredie

25 November 2011

Die wind het effe bedaar, die see het beduidend bedaar. Dis my eerste beurt om skottelgoed te was en op te ruim. Ek gebruik maar die veiligheidsharnas en sit wanneer ek oorboord werk. Mens is nie meer so rats soos in jou jeug nie. Die skipper dring telkens aan dat ek moet vasmaak. Ek hoop nie dis 'n “downer” nie, maar 'n opregte omgee vir sy bemanning. H ymaak nie so met Driekus nie, maar dan ìs ek die oudste.

Netnou my eerste sonhoek gemeet met die sekstant. Sal later vandag weer 'n lesing neem en dan begin berekeninge maak.

My handskrif is duidelik beter, waarskynlik oor die kalmer see.

Aandete: Tamatiebredie

400g blokkies beesvleis
1 blik tamaties
1 koevert tamatiepasta
½ t heel koljander
½ t heel komyn
1 steranys
3 korrels allspice
stukkie kaneelbas
1 groot ui, gekap
½ soetrissie, gekap
1 klein brandrissie, gekap
2 eetl sojasous
1 eetl maizena
1 pakkie smash
1 blik soetmielies
ryssslaai met mayonnaise en 1 gekapte ui
1 eetl botter

Metode:

Bak die droeë speserye in 'n droeë pan tot dit geurig word. Verwyder van die stoof en hou eenkant. Gooi 2 eetlepels olie in die pan en braai die vleis tot bruin. Verwyder die vleis en hou eenkant om te rus.
Voeg nou die droeë speserye, gekapte uie, soetrissie en brandrissie by bietjie olie in die pan en braai tot die uie deurskyn. Voeg die tamatiepasta en die geblikte tamatie by. Prut nou die sous tot dit deurgekook is en die geur deurkom.

Voeg nou eers die vleis by en prut tot alles deurkook. Maak die sous dik met maizena en skep op.

Jy kan die smash maak met bietjie botter. Ek het die knoffel vergeet in die hoofdis, Die manne het hulle vingers af geëet. Die toertjie met die vleis uithaal en laat rus, werk. Die vleis word sag in die rustyd.

Vingers af eet beteken die manne het elkeen twee rondtes geëet. Ek vat lank om die kos te maak, maar dis in die aanloop. Al die speserye is in hulle pakkies en dit moet eers oopgemaak en herverpak word .

Maar dit bly die moeite werd.

Die lewe is te kort oom afskeepkos te eet.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment