Monday 16 January 2012

Frikkadelle, squalls en Cindy Lauper


3 Desember 2011

Dis nou net so na 00h00 op Saterdag. Die wind het heeltemal gaan lê vroeëer in die nag, nou motor ons. Die “squalls” is weg. Mens moet wakker sit as die squalls kom wanneer jy seil. Die wind kom skielik op en dis koud. Ek het die rekord squall. Die wind het binne vyf minute verander van so 12 knope na 35 knope. Ek moes vinnig die seil inrol, anders was daar perde!

Die lewe is amper luilekker wanneer die wind matig en bestendig is en die see kalm. Dan is ons meesal almal wakker hier van drie-, vieruur af in die middag, selfs vroeër. So het ons vandag so van eenuur af na Cindy Lauper geluister waar sy jazz sing. Haar sterk stem het mens sommer meegesleur en 'n baie rustige atmosfeer geskep.

Dit was weer my beurt om kos te maak.


Frikkadelle, wortels, skorsies en aartappels

Bestanddele:
400g maalvleis
2 snye brood, fyngemaak
9 klein aartappels
3 skorsies
½ ui, fyngekap
¼ soetrissie, fyngekap
1 klein brandrissie, fyngekap
knypie knoffel
sojasous
2 eiers
varsgemaalde swart peper
suiker, sout, botter
Maizena (of koekmeel)
1 bees of groente-ekstrak blokkie
6 geelwortels
kookolie

Metode:

Meng die vleis, brood, uie, soetrissie, eier, knoffel en 'n skeut sojasous baie deeglik. Voeg varsgemaalde swart peper by en 'n bietjie sout na smaak. Onthou die sojasous is ook sout.

Verhit 'n skeut olie in die pan. Maak nou klein bolletjies van die vleismengsel, rol dit in die maizena en bak dit in die pan tot die meel mooi bruin word. Verwyder van die hitte en laat rus.

Kook intussen die wortels in vars water. Ek het hulle net grof gesny. Stowe die aartappels tesame met die gehalveerde skorsies.

Gebruik die water van die wortels as basis vir die sous, tesame met die vleisblokkie.

Braai die brandrissie in die pan tesame met die sappe van die vleisbolletjies.. Voeg die sous by en prut tot gaar. Voeg dan weer die vleisbolletjies by en kook deur.

Jy kan nou opdien. Ek het die aartappels net so in die skil opgedien en die skorsies met met botter en suiker. Nadatt ek die wortels se water gebruik hetvir die sous, het ek 'n bietjie suiker by die wortels gesit.

En daar is my ete. Alles vars kos.

Ek het vandag weer 'n sonlesing geneem. Dis nou so tussen die wolke deur. Ek begin om hierdie joernaal oor te tik in in elektroniese vorm. Dan het ek iets om aan te stuur per e-pos. Ek sien nogal uit na die oorstaan op St Helena. Ons is nou so 200 seemyle weg en behoort teen more (Sondag) middagete daar te wees. Ek wonder of ek nog reguit kan loop! Ek sien nie juis uit na die kos aan wal nie. Ek vermoed ons eet lekkerder aan boord!

Ek het 'n skaakbord gemaak uit 'n vel viniel en maskeerband. Dit lyk goed en is waarskynlik heel duursaam. Ons sal maar sien hoe dit werk en of dit lank gaan hou.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment