Thursday 19 January 2012

Nuwe resepte en verlange

2011-12-16 00h15

Dis 'n soel maanlignag. Die maan skyn so na halfmas. Die wind waai teen 'n gesellige spoed en ek sit met 'n koppie tee op die agterdek sonder 'n hemp. Die boot seil rustig aan oor 'n kalm see en die wind is net reg om die omgewing af te koel na draaglike temperatuur toe. In my kajuit begin dit reeds bedompig voel en ek gaan met 'n oop luik moet seil.

Maar vir nou is alles mooi rustig vir ek en myself en ons twee. So, met die koppie tee saam.
Dit was weer my kookbeurt en ek het weer viskerrie gemaak op versoek van die manne. Dis duidelik 'n wenresep. Hierdie keer het ek gewone masala (medium) gebruik instede van vismasala. Dit was per ongeluk. Renier reken dit was sterker as vantevore, maar ek het dieselfde hoeveelhede van die bestanddele gebruik en minder komyn, met vier peule kardamom die keer. Die dorado wat ons nou het proe egter beduidend beter as die bonito vantevore. Ek het die vis in kleinerige blokkies gesny, sodat die geur makliker kon deurtrek. Dit het goed gewerk so. Die resep is herhaalbaar en baie lekker, hoewel effens meer moeite. Die droë speserye wat jy droog rooster/bak in die pan maak 'n hengse verskil aan die geur van die dis. Ek het die vis weer rou ingesit nadat al die ander bestanddele eers behoorlik in volgorde, in 'n sous omskep is. Die vis het dus gaar gekook.

Die rys met die hand vol bruin lensies is ook 'n wenner.

Volgende keer maak ek 'n dikkerige dal-kerrie met blokkies beesvleis. Ek hoop die soetrissies hou tot dan. Daarby sal ek rotis maak. Meel, sout en water. Ek vermoed dat as jy botter by die meel sit, gaan jy so 'n modified scone kry, en dit wil jy sekerlik nie hê nie. Ek sal die roti braai in die wok in botter. Dit behoort te werk. Een koppie meel, sout en water. Knie die deeg behoorlik sodat jy stokbrood kan maak. Verdeel in 25-30mm balletjies en rol dit uit tot dit baie dun is. Gebruik 'n Asiatiese rolstok of 'n Tabasco-bottel. Dit behoort te werk. Ek vermoed die pan moet redelik droog wees, dus sal ek die rotis botter smeer soos hulle uit die pan kom. Miskien selfs 'n skeut heel komynsaad in die deeg.

Ons is nou so drie dae se seil weg van Brasilië. Nou gaan ons meer noord draai om teen die kus af te seil saam met die seestrome. Renier verwag dat ons 'n hele paar dae meer as 200 seemyle sal vorder, teenoor 120-140 seemyle per dag tot nou toe. Ons verwag ook meer verkeer, so ons sal maar mooi op die uitkyk moet wees. Dis heel anders as tot nou toe. Ons het presies een skip gesien sedert ons vertrek uit St Helena. Mens is half vies as jy ander verkeer teekom, dit breek die rustige bestaan en jy moet wakker wees oor waar watter verkeer om jou verbygaan. Ons het het mos nie radar nie, so dinge raak ernstig teen die tyd wat jy 'n groot skip sien. Hy is dan baie naby, net 'n paar myl weg en, teen die die spoed wat hulle en ons vaar, so so tien tot vyftien minute weg.

Ons het gister geen byte gehad op die kunsaas nie. Dit kon die weer wees, maar ek vermoed daar is gewoon nie so baie vis in die see dat mens kere per dag 'n byt sal kry nie. Die laaste keer het het ons 'n baie groot vis gehaak, wat toe losgekom het. En binne 'n uur nog 'n grote gesien.

Die lewe aan boord is verder nog heel gesellig en aangenaam. Ek skud nog steeds die vetjies af en is besig om mooi sonbruin te word, hoewel ek soos krismisvader begin lyk. My baard is nou by die jeuk-stadium verby, en bedek my gesig behoorlik. Ek vermoed soveel so dat my wange nie juis verbruin in die son nie. Ek sal maar before & after fotos neem en kyk of ek 'n barbier in Tortola kan opspoor.

Ek hou nog my navigasie-oefeninge by. Elke dag leer ek iets by. Gister se lesings was baie akkuraat en nadat ek een weggegooi het uit die drie, was die fout steeds kleiner as 10 myl. Die oop lug en die goed gedefinieerde horison maak die lesing baie eenvoudiger. 'n Mens moet telkens voor elke lesing die sekstant nagaan vir foute en kalibreer. Dan is die lesings mooi hehaalbaar en baie akkuraat. My berekende posisie is na 18 uur se seil steeds binne 7 myl van die GPS-posisie af. Die sekstantlesings se plot is binne omtrent 2 myl van mekaar. Ek begin my lesings te vertrou en sien kans om nou reeds die eksamen af te lê. Maar dit sal moet wag tot na die Yachtmaster-kwalifikasie. Die burokrasie wen toe alweer. Ek hoop om darem my persoonlike logboek uitgeteken te kry vir genoeg myle om te kwalifiseer vir die Yachtmaster-kwalifikasie. Die vereistes moet ek maar bevestig wanneer ek weer internet-toegang het.

Hopelik is die internet-toegang in St Maarten goedkoper as in Jamestown, St Helena. GBP 3 vir 'n halfuur. Dis R90 per uur. 'n Openlike struikrowery as jy my vra. Verder hoop ek daar is bietjie meer beskawing in St Maarten.

Ek vermoed daar sal wees, met 'n groot lughawe en al. Dit sal ook ook lekker wees om 'n slag kontak te maak met die huis. My katte sal my waarskynlik nie herken nie. Ek hoop Carol onthou darem nog hoe ek lyk!


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment