Wednesday 18 January 2012

Vakansie-stemming

2011-12-11 21h00

Vandag was ons eerste luilekker vakansie-stemming dag. Dis die eerste keer op die reis dat ek in die son kon sit sonder 'n hemp. Daar was min wolke en die lug was vir oulaas dynserig al drie van ons het heerlik gesit met 'n boek, of musiek, of beide, ek sommer net. Teen hierdie tempo sal ek 'n ordentlike sonbruin kleur hê teen die einde van die reis.

Ons het vanaand vis en skyfies met koolslaai gehad. Die vis was dorado, in meel gerol en in diep-olie gebak. Die aartappelskyfies was wiggies wat skil en al in olie gebak is. Daar was selfs 'n warm vis-sous. Hmmm... Daarna het ons elkeen een bier gedrink om die ete af te sluit.

Die bierdrinkery het gebeur as 'n sundowner op die agterdek. Dis verstommend hoe stylvol 'n mens kan leef meet eenvoudige middele.

Ek het my eerste sterlesings verwerk. Met die baie wolke eergisteraand en vanoggend was daar groot konsternasie. Nadat ek die sterlesing geneem het en die meting probeer verwerk, kom ek agter dat ek nie Rigel nie, maar Sirius opgemeet het. Die plot is egter toe minder as 2 myl op my eie berekeninge en omtrent 20 myl uit op die GPS. Dis nou ná die dag van 24 uur se seil en navigasiemetings.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment