Google Pampoensop, pasta karbonara en 'n gelykenis | Ziets' Ramblings

Wednesday, 18 January 2012

Pampoensop, pasta karbonara en 'n gelykenis

2011-12-08 21h00

Ek het nog 'n hekkie gekruis vandag in die gebruik van die sekstant. Maar eers 'n gelykenis: Hoe kry mens 'n krokodil in 'n vuurhoutjiedosie? Met 'n tweezer, 'n verkyker en die vuurhoutjiedosie natuurlik. Jy neem die verkyker, kyk agterstevoor daardeur na die krokodil, wat nou klein lyk. Dan vat jy die tweezer, tel die krokodil daarmee op en sit hom in die vuurhoutjiedosie. Of hoe.

Moet nooit aanneem dat meganies ingewikkelde instrumente korrek aanmekaargesit is nie. Dit het my vandag opgeval toe ek begin speel met die verskillende onderdele van die sekstant. Toe kom ek agter die verskillende oogstukke is verkeerd inmekaargesit. Dit maak skielik 'n groot verskil.

En die grap is op my, soos hierbo. Nogal 'n ontnugtering. Maar ten minste het ek daaruit geleer. En ek weet nou hoe om die maan en sterre se hoeke te meet.
Ek het vandag die eerste keer in weke 'n seevoël gesien. Behalwe nou daar naby St Helena. Dis 'n klein wit voëltjie met 'n lang, skerp bek, baie soos 'n visvanger. Die voël se vlerke is lank en smal en die vlerkspan is in die order van 500-700mm, met 'n knak in amper soos 'n Stuka-vliegtuig, net na agter.

Die vlerke is swart aan die voorkant. Die voël se lyf is so 20-30 cm lank. Dis nogal jammer dat ek nie 'n boek oor seevoëls hier op die boot het nie.

Die voël het om die boot gevlieg en goed uit die water gepik vir so vyftien minute. Daarna het hy weggevlieg.

Ek het vandag my bedlinne, warm toppie en van my klere gewas. Die toppie ruik nou sommer weer lekker.

Dit was ook opvryf-en-poets dag vir die boot. Al die staal is met 'n lap, tandeborsel en poetsmedium (“rubbing compound”) bygekom. Mens staan verstom oor die spoed waarteen vlekvrye staal roes aan boord.

Die poetseryt was toe nie so erge negatiewe ervaring nie. Na so 'n uur of wat is die werk toe oor. Daar duik tog egter 'n spook of twee uit mens se dienspligtyd op. Vir my was dit nie goeie herinneringe nie en ek het liewer dit beskou as 'n liefdestakie. Jy sal dit in elk geval doen op jou eie boot.

Drikus het vandag kos gemaak. Dit was nogal 'n verrassing, want hy het bestanddele ingesmokkel vanaf St Helena. Bykin, nogal. Toe kry ons pasta karbonara, voorafgegaan deur 'n pampoensop. Ons het gesmul!

Pampoensop
Bestanddele:
1 botterskorsie (“butternut squash”)
3 aartappels
1 ui
botter
sout
peper
water

Metode:
Braai die gekapte ui in botter tot bruin. Voeg die res van die bestanddele by en kook tot papgaar. Dit help as jy die groente redelik fyn sny, dan werk die masher nie so hard nie en die kos kook gouer deur. Verdun die sop met water of melk na smaak.

Pasta karbonara
Bestanddele:
250 g gesnipperde ontbytspek (bykin)
1 ui, gekap
olyfolie
sout en peper na smaak
witsous
250 g pasta
kaas na smaak

Metode:
Braai die gekapte ui in olyfolie tot dit mooi bruin en gekarameliseer is. Verwyder van die hitte en en hou eenkant. Braai nou die spek tot dit bros raak, ook in bietjie olyfolie. Voeg alles bymekaar en voeg dit by die gekookte pasta. Voeg nou so skeut vars olyfolie by die mengsel, asook die witsous en dien op.

Mens kan kaas by die witsous sit of dit agterna oor rasper..

Ek ek is seker daarvan dat 'n biejie knoffel nie juis erg skade sal aanrig nie. Maar dis vir later. Ons het gesmul. Dit was ons eerste tweegang-maaltyd op die reis.

Die see was vandag baie kalm en die wind maar swak, toe het ons maar weer die enjins gebruik. Maar teen vanaand het die wind bietjie opgekom en ons seil van net na sononder af. Die see is baie plat, so 'n halwe meter tot een meter deining. Dis gedeeltelik bewolk, seker so 80%, maar dis dun wolkies met die maan wat so deurskyn en alles in 'n sagte lig baai.

'n Baie rustige nagseil met die water wat gesellig teen die boot verby klots. Mens raak sommer ekstra rustig.

Ek slaap nou minder as aan die begin van die reis. 'n Mens se liggaam en gees is nou uitgerus en mens is nie meer so fisies aktief nie. My slaappatroon het verander dat ek telkens in die nag slaap wanneer ek nie aan diens is nie. In die dag weer vat mens so siesta of twee so tussen skofte deur. Dis op die ou end genoeg slaap.

Vandag het ek my bungee-handlyn in bedryf gestel, maar niks gevang nie. Ek sal nog 'n lokaas bou met die papsak wat Carol ingepak het, dan kyk ons weer. Renier se lokaas wat ons sleep het ook nog niks gevang nie. Hy reken dis normaal vir hierdie area. Die vis begin eers byt daar naby Brasilië se kus.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment