Thursday, 19 January 2012

Lewenstyl-dinge en nog navigasie

2011-12-13 19h40

Vandag was weer 'n redelike luilekker dag. Die wind het in die middel van die oggend opgekom, iewers amper 20 knope gewaai met 'n ligte squall, toe weer afgeneem na so 12 knope. Ons seil steeds lekker. Dis nog steeds warm en ek dra nog steeds net 'n broek.

Ons het baie geoefen met die sekstant. Dit het baie duidelik uitgekom dat die instrument nie sy indeks behou nie. Die indeksfout moet telkens bevestig word voor 'n mens lesings neem. My vermoë is besig om mooi op dreef te kom. My sekstantlesings en berekeninge verskil van die boot se GPS met minder as 10 seemyle. Daarbenewens begin ek my instrument te verstaan. Dit gee vir my die vermoë om myself ter see te plot met behoorlike akkuraatheid en sonder die gebruik van elektronika. Ek is onafhanklik van die elektronika vir oop oseaan navigasie. Ek voel baie trots daarop.

Kusnavigasie is egter 'n ander tipe probleem. As die weer sleg is en die sig swak, gaan jy nêrens heen sonder 'n GPS nie. Veral nie in 'n koraalsee in die nag nie. Ek gaan maar weer 'n hand-GPS moet aanskaf, asook 'n handkompas. Selfs Renier reken dis volgende op sy lys. Hy het ook 'n GPS wat aan sy rekenaar koppel.
Ek sal maar nog spaar en 'n paar geldjies verdien.

Die maan kom vanaand later op, so dis pikdonker buite. Soort van. Die sterlig is so helder dat Venus 'n ligbaan op die water maak. Dis baie romanties. Ek het dit nog nooit so ervaar nie, want ek was nog altyd op die land, met stof en besoedeling in die lug, al is 'n mens ver van die stad af. En op plekke soos op die Drakensberge is daar nie genoeg oop water om hierdie te sien nie. Dis idillies en iets om jouself mee skoon te was in jou siel. Iets in jou ervaring wat jy selfsugtig kan koester en wat niemand van jou kan wegneem nie. 

Dit is regtig iets om met geliefdes te deel. En dis nie regtig kunsmatige ervaring nie, behalwe vir die moderne boot en die gepaardgaande tegnologie wat die ontbering effe vergemaklik. Maar ek wens regtig ek het Carol nou hier by my gehad. Sy sal dit sekerlik geniet.


Ons is nou amper oor die breë deel van die Atlantiese Oseaan. Nog so 'n week, dan is ons naby die Brasiliaanse kus. 'n Eerste kruising van 'n groot oseaan agter die blad. Nogal, en so op my oudag! Wel, daar is nog baie lewe in hierdie ou lyf.

Ons sal teen die Brasiliaanse kus opvaar tot verby die Amasone se mond, dan begin noord draai om by Barbados te kom. Soos die Here se wil en die weer ons vat gaan ons nuwejaar in Barbados wees, en 'n dag of wat daar oorstaan, anders gaan ons reguit St Maarten toe.

Ons is baie naby aan halfpad met die afstand van die reis ook. Dit voel na 'n lekker mylpaal. Een van die dae is daar natuurlik ook die ewenaar om te kruis, nog 'n mylpaal in 'n mens se ervaring. Dis anders as om dit te doen in 'n vliegtuig, wat ek al 'n paar keer gedoen het. 'n Vliegtuig is onpersoonlik, maar hier op die boot is dit in jou gesig. Dis deel van die daaglikse roetine se doel en gee vir jou iets om na uit te sien. Dis die afwagting wat tel, dieselfde as met seks. Daar is niks lekker daarin om dit af te rammel nie.

Deel daarvan is die stel van 'n doelwit. Dan kom die beplanning. Daarna kom die uitvoering en die genot van die reis. Die genot van die reis oorheers alles. Dis hoekom 'n lugreis so onpersoonlik is. En dis hoekom jagekspedisies en staptoere so gewild is. En, vir dieselfde rede, hoekom 'n lang vyery en voorspel sulke hedonistiese genot bied tydens seks, instede van 'n vinnige tjoef-tjaf, broek af, wham-bam, thank you ma'm, waar dit oor is voor mens kan opgewerk raak.

Maar hierdie is 'n bootreis met 'n seilboot. 'n reis deur die donkerte van mens se vrese na 'n plek van rus en vrede en 'n sensuele genieting van die ervaring van hierdie reis. En ook 'n fisiese reis na 'n nuwe plek om te ontdek. En, as die ervaring van St Helena 'n aanduiding is, 'n ervaring van die lewenstyl van die nuwe plekke. Op eenvoudige maniere, onopgesmuk en meer menslik as op 'n lughawe en die verwante ervaring daar rondom.

As jy per boot arriveer is jy outomaties deel van die gemeenskap in die hawe. As jy per motor aankom is jy 'n besoeker.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Chili con carne en navigasielesse

2011-12-12 23h58


Ek het vanmiddag uitgevind hoekom daar 'n afset is tussen my navigasie en die GPS. Dis omdat ek 'n konsekwente fout gemaak het tussen my berekeninge en die plot. Ek sal netnou dit oordoen, dan behoort die fout weg te wees. Ek kon nie verstaan waar die konstante verskil inkom tussen die GPS en my berekeninge nie, toe vra ek vir Drikus om te help. Die fout spring toe uit die oomblik wat hy die berekening op sy eie herhaal.


Dis interessant hoe baie ons geleer het uit daardie uur se saamwerk. Ons het ook 'n noen-meting opgestel, voorberei en geneem. Dit gee 'n mens se breedtegraad, omdat jy spesifiek die meting se tyd kies om die son op sy hoogste te kry, wat regbo jou is. Die lesing gee 'n lyn van posisie op die kaart, wat parallel is met die breedtegraad. Eenvoudig, as jy verstaan wat jy doen.

Ek het vandag heeldag sonder 'n hemp geloop. Ek het met hom aan geslaap en toe vanoggend om 06h00 hom uitgetrek toe ek aan diens kom. Ek het hom weer aangetrek vir aandete, daarna hom uitgetrek. Dis gewoon te warm. More sal ek die blik Game oopmaak, dat 'n mens iets kan drink wat jou koud maak en rehidreer.

Ek het vandag weer kos gemaak. Eers skottelgoed gewas op my diensbeurt van 06h00-09h00, toe kos gemaak op die volgende skof van 15h00-18h00.

Chile con carne

Bestanddele
1 blik botterbone
1 blik rooi bone
1 blik tamaties
1 koevert tamatiepasta
1 ui, gekap
2 brandrissies, gekap
skeut sojasous
½ teelepel varsgemaalde swart peper
sout na smaak
500 g maalvleis
1 teelepel knoffel
1 koppie rys/ 1-1 ½ koppie bruin rys
Ek het botter gebruik in plaas van olie om die vleis, uie en knoffel in te braai.

Metode

Braai die vleis alleen, sonder sout of ander geurmiddels, in 'n pan tot bruin. Botter maak dit mooi bruin. Voeg 'n skeut sojasous by, verwyder van die hitte en laat rus eenkant.

Braai nou die knoffel, uie en brandrissie tot dit begin bruin word. Voeg die tamaties, al die bone en die tamatiepasta by. Kook deur en voeg dan weer die uitgeruste vleis by die pan. Kook deur en skakel dan die stoof af of verwyder die pan van die hitte, sodat die hele dis kan rus. Voeg die gemaalde swart peper by en bevestig die soutinhoud.

Wag tot die rys gaar is en dien op.

Renier het gewetensbesware teen geblikte bone van enige aard. Blykbaar bang vir die winde. Hy het gesmul aan die dis. Hierdie dis gee nie vir jou winde nie. Maar dit moet die manne maar self uitvind. Interessant, Drikus weet te vertel dat die bone nogal lae GI is. Ek het dit nie geweet nie, maar dis iets om te koester en te onthou. Veral as daar 'n storm dreig en jy weet daar gaan vir 'n lang tyd nie behoorlike kans wees vir kosmaak nie. Die dis is maklik en werk ook oor 'n sny brood.


Dit is nou na 00h00, dus die 13e. Aan die einde van hierdie dag is ons amptelik op die helfte van die beplande tyd vir die reis. Dan is daar nog drie weke oor. Dis half nostalgies om daaraan te dink. Oor drie weke gee ons die boot af, vlieg terug huis toe en spat uitmekaar. Wel, hopelik tot die volgende aflewering. Vir my lê daar nog eers 'n kursus voor by Sail Due South vir Yachtmaster Offshore alvorens ek die volgende aflewering aanpak. Die volgende aflewering is darem teen betaling van sakgeld en die reis terug.


Ek sien nogal uit daarna om weer so aflewering te doen. Die wye oseaan het sy bekoring in die eie-tyd tot jou beskikking. Daarbenewens is mens nogal besig aan boord, hoewel nie te fisies uitputtend nie. 'n Lekker soort van luilekker aftree-joppie. Dit help geweldig baie om nie ledig te wees nie. Ek het myself besig gehou met die navigasie-studies. Die ander manne praat van 'n taal aanleer. Daar is gewis genoeg tyd daarvoor. Dit hou mens se verstand ook besig. Ek lag lekker in my mou. Dit kom uit dat die ander manne ook lekker aan die spoke besweer is. Smaak my dis 'n ding wat jou gryp so in die allenigheid, veral in die nag.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Wednesday, 18 January 2012

Vakansie-stemming

2011-12-11 21h00

Vandag was ons eerste luilekker vakansie-stemming dag. Dis die eerste keer op die reis dat ek in die son kon sit sonder 'n hemp. Daar was min wolke en die lug was vir oulaas dynserig al drie van ons het heerlik gesit met 'n boek, of musiek, of beide, ek sommer net. Teen hierdie tempo sal ek 'n ordentlike sonbruin kleur hê teen die einde van die reis.

Ons het vanaand vis en skyfies met koolslaai gehad. Die vis was dorado, in meel gerol en in diep-olie gebak. Die aartappelskyfies was wiggies wat skil en al in olie gebak is. Daar was selfs 'n warm vis-sous. Hmmm... Daarna het ons elkeen een bier gedrink om die ete af te sluit.

Die bierdrinkery het gebeur as 'n sundowner op die agterdek. Dis verstommend hoe stylvol 'n mens kan leef meet eenvoudige middele.

Ek het my eerste sterlesings verwerk. Met die baie wolke eergisteraand en vanoggend was daar groot konsternasie. Nadat ek die sterlesing geneem het en die meting probeer verwerk, kom ek agter dat ek nie Rigel nie, maar Sirius opgemeet het. Die plot is egter toe minder as 2 myl op my eie berekeninge en omtrent 20 myl uit op die GPS. Dis nou ná die dag van 24 uur se seil en navigasiemetings.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Geestelike rykdom en rooibostee

2011-12-11 03h00

Ek het skrywers-blok gekry en toe is Drikus vroeg op. Ons drink toe 'n koppie tee en gesels vir so 'n halfuur tot sy skof begin. Die wind was maar steeds wispelturig en het nou heeltemal gaan lê. Nou ry ons oor die oseaan. Marine-motoriste. Nogal.

Die kos-eksperimente kom nogal stylvol uit. Dis nie op dronk studente bachelor-basis geskoei nie.

Hierdie skof is nogal lekker vir my. Jy sien die son opkom. Maar ek het sleg geslaap. Miskien het dit iets te doen met die Pro-Vitas wat ek geëet het op die vorige skof. Die weer het ook verander.

Gisteraan, 6-9 ure gelede, het ek 'n warm top aangetrek as ek buite sit. Die wind was koel. Nou is dit in die na-nag en ek sit hier met 'n kozzie en 'n T-hemp. Dis positief warm. Lyk my ek gaan my top ook bêre, vandag nog.

Dis asof mesn minder slaap soos die weer warmer word. Behalwe nou die laaste ses ure. Daar is iets luilekker en “laid back” in die atmosfeer. Miskien het dit ook iets te doen met die mens se psige. Dat jy eers behoorlik afwen en begin ontspan na twee weke. Ja, in die twee weke kom al jou spoke uit en jy kan hulle verjaag.

Ek en Drikus het 'n interessante gesprek gehad oor fotografie en komposisie spesifiek. Hy het 'n uitnodiging gerig dat ons 'n fotografie-uitstappie reël. Dit klink heel belowend. Hy immers 'n graad waar hy van hierdie goed geleer het.

Ek sal sy webwerf besoek, asook sy facebook-muur. Klink my hy het heelwat oor fotografie daar, hy het bruilof-fotos geneem.

Dis nogal lekker op 'n manier as ons net motor. Dan is daar beduidend minder minder om voor op te let en mens het meer tyd vir jouself.

Die maan skyn tans so skalks deur die wolke, genoeg om weereens die hele see in 'n silwer lig te baai. Daar is so 'n helder silwer ligbaan tussen die boot en die maan. Die see is plat, die deining so 'n halwe meter met af en toe 'n groter ene. Daar is byna geen wind nie. Jy sal smaak die engele het vir jou persoonlik 'n rustige atmosfeer geskep. Dan geniet ek dit met 'n groot beker sterk rooibostee op die agterdek en wees net rustig in hierdie oorweldigende rustigheid en kalmte om my. Die gedreun van die ejin is nie noodwendig afbrekend nie, want die see se sagte ruis by die romp verby oorheers die poel van klank. Daar is 'n kokon van stilte om my waarin ek myself kan reinig en opnuut my eie ek ontdek. Daardie deel wat jy noodwendig diep wegbêre in die geroesemoes van die stadslewe. Om dit op te diep, af te stof en poets en te koester, want mens is veilig in hierdie kokon.

Miskien is dit die ding van 'n lang seereis. Mense wat geld najaag het nie tyd om op so manier na hulself om te sien nie. En wie besluit hoe ryk jy is? Sekerlik ekself. Ek was ook daar. Net 'n kort vakansie of 'n langnaweek, dan is jy terug in die saal, en meer uitgeput as voor die vakansie. Jou siel ook. Nee wat, dis nie die moeite werd nie. Geestelike rykdom is veel meer bevredigend en niemand kan dit van jou wegneem nie. Ek kan dit sien in die skipper se onverstoorbare gedrag. Die OK-geit straal uit hom uit. En hy hoef nie te jaag nie, maar kry elke ding op sy tyd gedoen. Die lewe hoef nie 'n gejaag te wees nie.

Ek is spyt ek het dit nie lankal begin doen nie. Miskien is dit my bestemde lewenspad gewees, om eers agter spoke emites, legendes en lekker stories aan te hardloop, sodat ek kan leer om die nuutgevonde rykdom te waardeer

Die wolke is besig om oop te trek. Perdalks kan ek my drie ster-peiling neem om ons te plot. Dis 'n heel nuew dimensie in die vermoë wat ek opgebou het en nogal bevredigend. Ek weet bloedweinig van die sterre af, maar kan hulle hoogtes meet, want die boek vertel waar hulle sit. Dan stel ek die sekstant vooraf op en siedaar, ek ken nog 'n ster se naam en weet waar hy sit in die hemelruim. En daar is nie trigonometriese korreksies nodig nie, behalwe vir my hoogte bo die see en die instrumentfout, want die sterre is ver genoeg dat parllaks nie ter sprake is nie. Ek voel nog opgewonde daaroor.


Authored by Johan Zietsman

Last updated on 2013-04-29

Skrywers blok en navigasie

2011-12-10 20h00

Vandag was 'n heel rustige dag. Die wind is wispelturig en ons het amper heeldag die enjin gebruik. Drikus het vanoggend 'n kleinerige dorado geland, wat ons toe weer laat gaan het.

Ek self het grotendeels reus en gelees. Ek het ook die kaart opgedateer met ons roete en vordering. Dis iets wat 'n mens wil onthou.

Die navigasie-studies kom mooi aan, maar die weer speel nie juis saam nie. Ek het mooi sit en bereken hoe laat en watter sterrre om te meet vir 'n driebeen peiling, kompleet met veragte hoeke en rigtings. Nou is dit bewolk. Mens kan kwalik die maan sien deur die wollke, net so 'n dowwe skynsel. Niks sterre nie. Maar die tyd sal kom, miskien more-oggend, as die wolke wegtrek.

Renier het vanaand kos gemaak, so 'n spaghetti-dis met maalvleis. Hy begin eksperimenteer met die speserye. Hy het 'n blik tamaties en 'n blik sampioene by die vleis gevoeg, nadat hy die vleis gebraai het in groen masala en uie. Die effek is heel lekker. Ek vermoed hy het ook peri-perisous bygesit, wat eintlik bots met die masala. Maar dis interessant hoe die manne, ek inkluis, begin eksperimenteer.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Roerbraai vark, groente en skoonmaak

2011-12-10 04h00

Ons het gisteroggend 'n dorado gevang. So een meter lank. Nadat hy afgeslag is en mooi verpak is, is die laaste porsie van die bonito oorboord gegooi; die skipper en eerste offisier hou duidelik nie van bonito nie. Dit was ook stortdag en mens kom heel verfris uit die koue stort. Dan sit jy sonder 'n hemp in die son om mooi droog te word.. Die koue water tap steeds mens se energie en 'n uur later was ek ver weg in droomland.

Die see is nou amper heeltemal plat. Gister het dit nog gekabbel, maar nou is die kabbelings selfs weg en die water se oppervlakte lyk sommer blink in die maanlig. Die wind is stadig maar seker besig om te draai.

Ons seil tans heel lekker op 'n bakboord “tack,” maar sal eersdaags moet omskakel na stuurboord. Dis nie die weer wat draai nie, ons is besig om uit die Suid-Atlantiese hoogdrukstelsel te seil. Op die oomblik is ons omtrent aan sy bokant, met die wind oos-suidoos. Binne 'n paar dae behoort die wind oos te wees soos ons nader aan die Brasiliaaanse kus kom.

Ons is nou nader aan Brasilië as aan Afrika. Nie dat ons naby aan die enigeen is nie. Inteendeel, ons is naby aan die middel van die see, aan die noordelike deel van die Suid-Atlantiese Oseaan. Teken 'n driehoek tussen St Helena, die suid-westelike punt van Wes-Afrika en die noord-oostelike punt van Brasilië op die bog van Suid Amerika, dan is ons iewers in die middel van die onderste been.

Dit was weer my beurt om te kook.

Roerbraai vark met roerbraai groente en noedels.
Bestanddele:
400 g varktjops
1-2 brandrissies, gekap
3 eetlepels maizena (cornflour)
1 eier
Glasuursous:
¼ koppie sojasous
¼ koppie asyn
¼ koppie suiker
skeut kookolie
Gemengde groente na smaak. Ek het kool, wortels, uie en soetrissie gehad. 'n Ui en kool is nodig, die res na smaak. Ons het nie sampioene gehad nie.
1 teelepel knoffel
peper
skeut sojasous
4 porsies 2-minuut noedels

Metode:

Meng die eier en die mazeina. Die beslag moet redelik dik wees, amper soos goue stroop. Sny die vleis in blokkies en voeg by die deegbeslag. Kleiner vleisblokkies is beter, dan kry jy meer geur. Braai die vleis met deeg in vlak olie. Tot die deeg bruin word. Verwyder uit die pan. Braai nou die brandrissie sodat die ergste brand uit is. Dis nou soos in erg skrikmaak. Wees versigtig om nie die rissies aan te brand nie, dan is alles bitter. Sit nou weer die vleis terug in die pan met die rissies. Meng goed . Voeg dan die glasuursous by. Dis nou die suiker, sojasous en asyn-mengsel. Kook die spulletjie totdat die sous dik genoeg is na smaak. Vewyder die vleis en sous uit die apn en laat dit eenkant rus.

Voeg 'n skeut olie by die pan en braai die peper en knoffel tot gaar. Pasop vir aanbrand. Voeg nou die gesnipperde groente by en roerbraai tot die groente “al dente” gaar is. Voeg die gaar noedels by en meng goed. Die noedels word apart gaargekook.
Voeg 'n skeut sojasous by, meng deur en dis op.

Die manne het elkeen twee porsies geëet en daar was 'n groot stilte tydens die ete. Mens mors nie tyd met gesels terwyl jy weglê nie.

Ons het vandag gesit en nabetragting hou oor ons dieet. Dit kom toe uit dat ons nie retig al disse herhaal het nie. Daar was wel 'n paar pasta-geregte op die spyskaart, maar verskillend genoeg om te kwalifiseer as aparte geregte.

Ek wonder hoe lank ons dit kan volhou. Ons het letterlik net vyf eiers oor. Ek beplan om binnekort roti te maak. Sal nog sien wat daarmee saamgaan. Sal net meel sout en water gebruik, met bietjie botter(?)

My navigasie-oefeninge is nou tops. Ek het vandag ons posisie geplot met 'n lopende peiling (“running fix”) tot binne ses seemyle van waar die boot se GPS aandui. Nou is dit die beurt van die sterre. Ek het bietjie ingestudeer, maar vannag is bewolk. Die maan is ook te helder, dan sien mens nie juis die sterre nie.

Ek is effe bekommerd dat die ander nie juis my belangstelling deel nie, maar dis miskien miskien my eie entoesiasme wat oordonder. Ek geniet egter die oefening. Dis darem positiewe afleiding en stimulasie, teenoor Soduko, wat net afleiding is.

Ek voel sterk genoeg oor my navigasievermoë om sonder 'n GPS te kan klaarkom op lang reise. Mens het nie daardie presisie van die GPS nodig in die middel van nêrens nie. Teen die kus is dit 'n perd van 'n ander kleur, met die kans op swak sig. Mens kan dan in die moeilikheid raak as jy nie ordentlike kaarte het nie. Ek is bly ek het my nek uitgesteek oor die navigasie-ding. Ek sou maar redelik verveel gewees het van boeklees en Soduko invul.

Gisteroggend was my skottelgoed-was beurt. Gisteraand was my kookbeurt. Drie-uur is hierdie skof verby, dan gaan ek net lekker slaap en rus vir die res van die dag. Ek sal weer twee stelle sonlesings neem en dit verwerk, dan bywerk by gister se stel lesings en dit plot. Dan kan ek begin om my kaart by te werk.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Pampoensop, pasta karbonara en 'n gelykenis

2011-12-08 21h00

Ek het nog 'n hekkie gekruis vandag in die gebruik van die sekstant. Maar eers 'n gelykenis: Hoe kry mens 'n krokodil in 'n vuurhoutjiedosie? Met 'n tweezer, 'n verkyker en die vuurhoutjiedosie natuurlik. Jy neem die verkyker, kyk agterstevoor daardeur na die krokodil, wat nou klein lyk. Dan vat jy die tweezer, tel die krokodil daarmee op en sit hom in die vuurhoutjiedosie. Of hoe.

Moet nooit aanneem dat meganies ingewikkelde instrumente korrek aanmekaargesit is nie. Dit het my vandag opgeval toe ek begin speel met die verskillende onderdele van die sekstant. Toe kom ek agter die verskillende oogstukke is verkeerd inmekaargesit. Dit maak skielik 'n groot verskil.

En die grap is op my, soos hierbo. Nogal 'n ontnugtering. Maar ten minste het ek daaruit geleer. En ek weet nou hoe om die maan en sterre se hoeke te meet.
Ek het vandag die eerste keer in weke 'n seevoël gesien. Behalwe nou daar naby St Helena. Dis 'n klein wit voëltjie met 'n lang, skerp bek, baie soos 'n visvanger. Die voël se vlerke is lank en smal en die vlerkspan is in die order van 500-700mm, met 'n knak in amper soos 'n Stuka-vliegtuig, net na agter.

Die vlerke is swart aan die voorkant. Die voël se lyf is so 20-30 cm lank. Dis nogal jammer dat ek nie 'n boek oor seevoëls hier op die boot het nie.

Die voël het om die boot gevlieg en goed uit die water gepik vir so vyftien minute. Daarna het hy weggevlieg.

Ek het vandag my bedlinne, warm toppie en van my klere gewas. Die toppie ruik nou sommer weer lekker.

Dit was ook opvryf-en-poets dag vir die boot. Al die staal is met 'n lap, tandeborsel en poetsmedium (“rubbing compound”) bygekom. Mens staan verstom oor die spoed waarteen vlekvrye staal roes aan boord.

Die poetseryt was toe nie so erge negatiewe ervaring nie. Na so 'n uur of wat is die werk toe oor. Daar duik tog egter 'n spook of twee uit mens se dienspligtyd op. Vir my was dit nie goeie herinneringe nie en ek het liewer dit beskou as 'n liefdestakie. Jy sal dit in elk geval doen op jou eie boot.

Drikus het vandag kos gemaak. Dit was nogal 'n verrassing, want hy het bestanddele ingesmokkel vanaf St Helena. Bykin, nogal. Toe kry ons pasta karbonara, voorafgegaan deur 'n pampoensop. Ons het gesmul!

Pampoensop
Bestanddele:
1 botterskorsie (“butternut squash”)
3 aartappels
1 ui
botter
sout
peper
water

Metode:
Braai die gekapte ui in botter tot bruin. Voeg die res van die bestanddele by en kook tot papgaar. Dit help as jy die groente redelik fyn sny, dan werk die masher nie so hard nie en die kos kook gouer deur. Verdun die sop met water of melk na smaak.

Pasta karbonara
Bestanddele:
250 g gesnipperde ontbytspek (bykin)
1 ui, gekap
olyfolie
sout en peper na smaak
witsous
250 g pasta
kaas na smaak

Metode:
Braai die gekapte ui in olyfolie tot dit mooi bruin en gekarameliseer is. Verwyder van die hitte en en hou eenkant. Braai nou die spek tot dit bros raak, ook in bietjie olyfolie. Voeg alles bymekaar en voeg dit by die gekookte pasta. Voeg nou so skeut vars olyfolie by die mengsel, asook die witsous en dien op.

Mens kan kaas by die witsous sit of dit agterna oor rasper..

Ek ek is seker daarvan dat 'n biejie knoffel nie juis erg skade sal aanrig nie. Maar dis vir later. Ons het gesmul. Dit was ons eerste tweegang-maaltyd op die reis.

Die see was vandag baie kalm en die wind maar swak, toe het ons maar weer die enjins gebruik. Maar teen vanaand het die wind bietjie opgekom en ons seil van net na sononder af. Die see is baie plat, so 'n halwe meter tot een meter deining. Dis gedeeltelik bewolk, seker so 80%, maar dis dun wolkies met die maan wat so deurskyn en alles in 'n sagte lig baai.

'n Baie rustige nagseil met die water wat gesellig teen die boot verby klots. Mens raak sommer ekstra rustig.

Ek slaap nou minder as aan die begin van die reis. 'n Mens se liggaam en gees is nou uitgerus en mens is nie meer so fisies aktief nie. My slaappatroon het verander dat ek telkens in die nag slaap wanneer ek nie aan diens is nie. In die dag weer vat mens so siesta of twee so tussen skofte deur. Dis op die ou end genoeg slaap.

Vandag het ek my bungee-handlyn in bedryf gestel, maar niks gevang nie. Ek sal nog 'n lokaas bou met die papsak wat Carol ingepak het, dan kyk ons weer. Renier se lokaas wat ons sleep het ook nog niks gevang nie. Hy reken dis normaal vir hierdie area. Die vis begin eers byt daar naby Brasilië se kus.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12