Google Tortola, klassieke musiek en 'n enkelmout | Ziets' Ramblings

Monday, 12 March 2012

Tortola, klassieke musiek en 'n enkelmout

2012-01-07 Saterdag

Ons lĂȘ en uitspan in Tortola. Vir die eerste keer in baie weke is ek in staat om ordentlik te skryf. Sonder krapstrepies soos die boot rondspring. Maar nou gesels die enkelmout. Glenmorangie nogal. Op 'n amper volmaan aand. In Tortola. Hoe romanties en idillies kan mens wees. Die ander manne het gaan slaap, toe sit ek my eie musiekkeuse op. James Galway se goete. 'n Idille so uit my matriek Afrikaans-onderwyseres se verwysingsraamwerk. Eers mej Swart, toe word sy mevrou le Roux. Nogal. Dit sal interessant wees om haar gewaarwordinge te boekstaaf, sou sy my ervaring deel. Die maan is amper vol, Galway speel die Arrival of the Queen of Sheba. Will she ever arrive? En die mense wat na hulle bote toe stap, waai arms en skree komplimente in die oortreffende trap. Klassieke musiek het 'n nis in hierdie see van calypso-musiek.

Road Harbour marina. Meeste net katamarans

Ek het nou eers 'n pen geruil. Die ou pen skryf nie meer so lekker nie, toe ditch ek hom. Weggooi klink so plat. Vanaand is 'n goeie ervaring. Ons het een liter Glenmorangie opgedrink, tesame met 'n sespak Carib bier. Dis 'n uitmuntende ervaring.
Ons het nie aandete aan boord gehad nie, toe loop ons om Chinese wegneem-kos te gaan koop. Renier en ek besluit toe om liewer 'n toebroodjie te koop. Die toebroodjie-toonbank is toe alreeds toe by die supermark, toe koop ons komponente. Baguette, tamatie, kaas. Maar proper baguette. En op pad terug 'n sespak Carib bier. 

Toebroodjies. Baguette, ham, kaas (oorskiet in die yskas), tamatie. En iewers 'n peri-peri sous wat ons gered het. So in die amper volmaan. Met Maria Callas, Pavarotti en 'n paar ander snare. Dis toe ons ete. Nou skryf ek met Galway in die agtergrond, nogal. Steeds goeie ondersteuning van my musiekkeuse vanaf die kaai.

Nog Road Harbour marina
En ek sit so en skryf en geniet hierdie milieu van volmaan, stil weer, soel, warm aand, sonder 'n hemp, met Galway en 'n enkelmoout. Die res van die wereld kan maar gerus ander goed najaag, hierdie is idillies. En as jy mooi korrel, word jy betaal hiervoor. Ek hoef niks by te voeg nie. Tans speel Galway die Air in D van Bach. Ek is so gechill ek raak amper aan die slaap soos ek hier sit en skryf onder die oorvloed. Van 'n enkelmout.
Hoekom werk mens soos 'n slaaf? Malligheid, sou ek reken.

Ons het gemotor van St Maarten tot in Virgin Gorda. Niks wind. En 'n mooi maan. Waar is my geliefde? Ek wonder nogal oor die ander manne se ervaring van hierdie idilliese omgewing. Maar ek kom agter beide van hulle het 'n hunkering na hulle naby-mense.

Almal van ons is kudde-diere. Jy kan dit nie ontken nie, dit kom uit in jou gedragspatroon.

Ons het vanaand biejie nabetragting gehou van die reis. Dis nogal belangrik vir elkeen se persoonlike berusting (“closure” ). En dit was uitmuntend. Almal het 'n ernstige positiewe ervaring gehad op hierdie reis.

Dis heavy, nogal. Ek sit nou hier en skrywe om 22h00 in die aand, nou kompleet onder die invloed van die Glenmorangie.

Maar almal het hierdie idee van 'n gedeelde ervaring. Met die rekwisiete verkille in die interpretasie van die wedervaringe. Dis meer as jammie, as jy my vra.
Meest mense sou seker al uitgesny het, maar ek gaan aan, met Galway as begeleiding en die whisky om die ratte te smeer.

Vir my is hierdie 'n ekstatiese belewenis. Nog nooit het ek so iets belewe nie. En nog nooit die ekstase kon deel met 'n geliefde nie. Waar is Carol nou? Dis om bietjie oor te huil, maar dis hoe die lewe werk. Ek bid dat Carol hierdie sal deel. Of ten minste dit wil deel. Dis nie goed as jou geliefde nie jou ervarings wil deel nie.

Enkelmout-skrif
Dis nou 22h40 op hierdie Saterdagaand in Tortola. Ek verlustig my in die laaste druppels van die enkelmout, so in die amper volmaan hier in die marina. En nogal biejie tong-in-die-kies; mens hoor hierdie murmel van water. Jy sal smaak dis 'n bergstroom. Iewers so in die Magaliesberg. Of miskien die Sederberg. Of so iets. Maar eintlik is dit die afloop van die lugversorgers op die bote om ons. Die nuwe bergstroom-murmel. Nogal.

Ek begin nou oor die lyne skryf.

So, wat nou?
Dis my boek.

Ek ek luister na idilliese musiek onder die invloed van 'n enkelmout.
Hoe erg kan dit nou eintlik word?

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment