Google Somer, son, saffier en 'n terugblik | Ziets' Ramblings

Tuesday, 13 March 2012

Somer, son, saffier en 'n terugblik

2012-01-09 17h40



Dis nou Maandag sononder in Tortola. 'n Idilliese aand met die son wat nog skyn agter die eiland se koppe en weerkaats teen die wolke. Daar is net 'n effense luggie wat trek, genoeg om die hitte draaglik te maak.
Almal het 'n middagslapie gevang in die hitte. Dis interessant, daar is steeds die gemurmel van klein stroompies water van oral af om ons. Dit het 'n rukkie geneem om te verstaan dat dit die kondensaat is van die bote om ons se lugversorgers.

Maar dit bly 'n rustige geluid. Ek het nou die musiek aangesit. Klassieke musiek. Rustige goed. Die Aankoms van die Koningin van Skeba. Weereens. Goed, wel, miskien nie so rustig nie. Maar dit pas by die atmsofeer.
Ons het toe die boot oorhandig. Met 'n antiklimaks. Werk ons arms stompies, kompleet met die rekwisiete rugpyn wat daarmee gepaard gaan. En dis onmenslik warm. En toe gee die inspekteur net een kyk en sê die boot is mooi skoon. Darana gaan sit hy en teken papiere vir so veertig minute lank. Daar is rerig baie papiere. En maak kopieë. Voila, einde van die taak. Amptelik.

Ons drink toe maar 'n ekstra bier so ter viering. Maar nog is't einde niet. Pret en plesier om ons terugreis te reël. Die persoon in die Kaap wat dit moes doen het bietjie vergeet. Sy het natuurlik 'n ander storie, maar ek hou van hierdie een en dis my joernaal. En buitendien, ons is die party aan die kortste end. Die skipper bel toe maar die reisagent direk om seker te maak ons kan uitvlieg. Ons kry toe bevestiging van hulle af en toe ook later per e-pos van die verantwoordelike party in die Kaap. So op die einde van die werksdag in die Kaap en minder as 24 uur voor ons op die vliegtuig moet wees. Studente-sindroom in die oortreffende trap as jy my vra.

Dis wyd beskryf in die akademiese literatuur oor statistiek en nie juis moeilik om te identifiseer nie. Dit verstom my dat mense in die normale handel en wandel nog nie meer moeite doen om dit hok te slaan nie. Dit mors geweldig tyd vir 'n firma, met die meegaande verlies aan inkomste. En mens is altyd laat.
Ek het ook lank en lekker met Carol oor die internet gesels, 'n rustige en intieme gesprek. Die gesprek van twee ou getroudes wat hulle emosies en ervarings deel. Dit was vir beide van ons 'n lang skeiding na 'n jaar van trauma, so met Werner se oorlye, die verhuising na die Kaap, my knieoperasie en die heen-en-weer gevliegery tot ek uiteindelik my kennismaand afgewerk het.

Hierdie skeiding was baie duidelik 'n katarsis vir beide van ons. 'n Tyd om alleen te wees met jou emosies en kans om jou siel skoon te kry. Dis nie so slegte ding om te doen nie. Mens het 'n wilsbesluit gemaak en dit deurgevoer. Dit maak altwee sterker en bou aan die verhouding. Dis my gevoel na vandag se geprek met Carol.

Dit is asof die oujaar se trauma afgewas en verbrokkel het, die rowe genees. Nou kyk 'n mens vorentoe na die toekoms met nuwe drome en planne in jou kop, sterre in jou oë en 'n lied in die hart. Hierdie seereis was die begin van 'n nuwe lewe vir my. Klomp ou spoke is besweer, ek het nuwe ervarings opgedoen en nuwe werelddele gesien.

En beleef. Dis glad nie so vreesaanjaend soos wat rusbank-reisigers wil hê nie. Ook glad nie soveel ontbering nie. Bietjie ongemak, ja. Ontbering, ja, bietjie. Baie ontbering as jy die gebrek aan telefoonkommunikasie, koerante, internettoegang, televisie en so aan byreken. Maar die sielkundiges sal dadelik vir jou sê dat al hierdie goed jou net oprui. Verseker is 'n transatlantiese reis nie op almal se boeke of in hulle smaak nie. Een keer per week stort in vars water, behalwe as dit reën. Drie ure aan diens, ses ure af. Ons was drie aan boord. Ses weke lank. Min of meer soos Noag van ouds, ek het dit al voorheen gesê. Twee-en-veertig dae. Dis definitief nie vir almal nie.

Maar hier in Tortola, waar daar baie somer, son en saffier is, is dit anders. 'n Halwe dag seil op platterige water tussen eilande. Dis 'n vakansie-ervaring by uitnemendheid. En glad nie ontbering nie.

Jy is altyd naby winkels, die dokter en die apteek. En lekker vars groente, drie soorte aartappels en 'n paar goed waarvan ek nie die name ken nie. Die boot gee jou die vryheid om te gaan net waar jy wil. Die landskappe is ongelooflik mooi en die mense in die algemeen vriendelik. Jy hoef nie in 'n marina te oornag as jy 'n boot het nie, jy anker in 'n mooi baaitjie en hou 'n intieme en gesellige aand op die water. Met jou baaikostuum of ander min klere aan, dis vrek warm. En gaan slaap dan in jou bed wat wieg op die ligte deining. Niks slange of skerpioene wat jou wil bykom nie en jy kan ver genoeg van die land af wees dat die paar muskiete jou ook nie pla nie.

Ek het die ontbering en ervaring van 'n lang seereis, en toe die openbaring in hierdie paradys. Dis iets om te koester.

More vlieg ons hier uit. Die terugreis het drie bene, vier as jy die vlug van Johannesburg af Kaap toe bytel. Ons sal meer as 26 uur in transito wees. Die heenreis was 6200 seemyle, die terugreis is met 'n langer pad, maar neem net 26 uur.

Die heenreis se ervaring was 'n pad deur jou siel en het jou denke oopgemaak en verbreed. Die terugreis is soos om in 'n hysbak te sit vir 'n dag lank, met so hier en daar 'n interlude waar jy mag uitklim om jou bene te rek.

Ek verkies die heenreis se ervaring en verdra die terugreis se ongemak.

Dit bring my terug na my geliefde.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment