Friday, 27 January 2012

Voorrade, lang reise en verdwaal op die see.

2011-12-20 03h00


Gister weer 'n boodskap van Carol af gekry.

Dit klink of dit goed gaan. Die Volvo is nou reg, sê sy. Nou is dit nog my telefoonsage. Ek hoop eintlik dat dit ook uitgesorteer is.

Gister het ons baie lekker wind gehad en het lekker geseil. Om presies te wees het ons amper twee volle dae geseil sonder o die enjin te gebruik. Vanoggend, knap voor ek aan diens kom, het Renier die enjin aan die gang gesit omdat die wind gaan lê het. Ek het amper gedink dis oor 'n groot skip te naby aan ons is.

Ons het gister vyf skepe gesien. Die ene het voor ons verbygevaar op 'n afstand van seker so 800m. Ons het rondgewaggel in sy vaarwater, so naby was dit. Dink 'n bietjie; Die hele grote oseaan, en twee vaartuie het amper 'n “near miss” op 'n botsing. Gelukkig was dit in helder daglig. My indruk van die gebeurtenis is dat die vragskip se bemanning nie juis omgee vir ons nie.

Ons is nou so honderd seemyle van Brasilië se kus af en seil parallel met die kus. Oor 'n paar dae sal ons die mond van die Amasone-rivier oorsteek. Die reis raak nou meer interessant.

In terme van 'n vorderingsverslag is mens nou in staat om jou posisie te gee relatief tot landmerke, instede van 'n kruisverwysing van ko-ordinate in die middel van die oseaan. Jy kan jou posisie Google as jy internet toegang het en jy sal land daar naby sien. Relatief gesproke, natuurlik.

Honderd seemyle is nog steeds 'n groot deel van 'n dag se seil. Dis omtrent so ver as van Pretoria na Kroonstad.

Ons kos raak nou beduidend minder. Die vrieskas raak leeg, so ook die koskaste. Ons is nou op ons voorlaaste boks beskuit. Die sout is amper op, dan moet ons die growwe soutmeul gebruik. Ons begin alreeds beplan vir ons Kersmaal. Daar is darem 'n bottel vonkelwyn van JC le Roux.

Ek begin nou minder lees. Ek vermoed ek is lees-tam van al die worstel met Michener se Source. Dit raak bietjie woes en mens is naderhand bietjie gatvol vir die verweefdheid van die geskiedenis. Michener moet 'n man wees van erge deursettingsvermoë om so 'n werk te voltooi. Die boek bestaan uit sewe of meer stories wat saamgegooi word om Israel en die Jode se geskiedenis te plot. Telkens is daar verhale van menslikheid, onmenslikheid en wreedhede. Dit raak eentonig.

My navigasievermoë is nou mooi afgerond. Soms sukkel ek om te besluit oor die basiese verwysings, dan kos dit my herberekening van die lesings. Die resultate is telkens in die kol en die soort probleme wat ek kry is verfynings. Ek het waarskynlik (hopelik) die sekstant se nukke uitgesorteer.

Die indeks-spieël wil nie stabiliseer nie en die indeksfout het heeltyd verander. Selfs van voor die lesings tot na die lesings. Ek het toe die spieël ontmantel, die montering en die stelmeganisme nagegaan, en die spieël weer teruggesit. Die montering en die stelmeganisme is toe blootgestel en ek was in staat om die probleem te analiseer. Nadat ek die spulletjie weer aanmekaar gekry en gekalibreer het, lyk dit asof ek nou die probleem hok geslaan het. Ek neem steeds lesings van die son. Vir 'n geruime tyd het ons nou al genoeg wolke dat mens nie sterrelesings kan neem in die skemertyd nie. Ons is so naby aan die ewenaar dat mens in elk geval nie juis 'n lang skemertyd het nie. Jy moet maar gou speel om jou lesings te kry vandat jy die sterre kan sien tot die horison verdwyn in die donker. Wanneer daar wolke is, is jy basies gesnoeker.

Die sterrebeelde is natuurlik nou anders as by die huis. Orion, byvoorbeeld, staan regop, nie op sy kop soos gesien uit Suid Afrika nie. En party van die ander bekende sterrebeelde is nie meer heelnag sigbaar nie. Soos die Suiderkruis, byvoorbeeld. En daar is nou 'n ander stel sterre wat sigbaar is. Ek sal bietjie die Poolster soek as daar weer 'n oop naghemel is. Ek dink ons behoort die ster te kan sien van 5 grade suid af.

Steeds het ons geen dolfyne gesien nie, met die uitsondering van die enkele wat Renier gesien het. Dit is teen die verwagting in en ons sit en wonder wat die redes daarvoor kan wees. Ons sien darem weer voëls. 'n Mens kan amper begin verstaan watter nood Noag van ouds in sy ark moes gehad het na veertig dae sonder sig van land. Ons hele reis is in dieselfde grootte-orde. Ons het egter die voordeel van kaarte, navigasie-inligting en ons kan selfs op 'n eenvoudige manier weerinligting bekom. Ons doen dit deur Renier se pa te bel, dan soek hy die inligting op 'n internet webbblad, waarna hy dit sms na ons toe, alles per satelliet-telefoon. Mens wonder hoe moes Noag en sy mense gevoel het so op die oop water, sonder al hierdie hulpmiddele. Meer nog, hulle het nie geweet of daar nog ander mense oor was op die aarde nie. Dit moes half vreesaanjaend gewees het.

Simon Winchester bespreek ook 'n element hiervan in sy boek Atlantic. In die era van die ontdekking van die nuwe wereld het die seevaarders ook nie juis veel inligting gehad nie. As jy in daardie tyd by die hawe uitgeseil het, was jy maar in dieselfde bootjie, by wyse van spreke, as Noag destyds. Veral ten opsigte van die sielkunde van die situasie. Noag het sy ding gedoen in opdrag van sy God, die Europese ontdekkingsreisigers het 'n wilsbesluit gemaak en uitgevoer. Die wilsbesluit is aangevuur deur waarskynlik ekonomiese redes. Hulle wou ryk word.

In sy boek The Wayfinders bespreek Wade Davis die Polinesiërs se vermoë en tegnieke om oor die Stille Oseaan rond te vaar sonder om juis te verdwaal. Hulle het nie 'n geldhonger ekonomie gehad nie, dus was hulle seereise meer van 'n sosiale aard, om nuwe eilande te beset, besoek of iets dergeliks. Dis interessant om te dink dat die Polinesiërs vir 'n paar duisend jaar die Stille Oseaan bevaar het sonder die hulp van kaarte, kompas of enige ander meganiese hulpmiddels. Hulle het die sterre verstaan en ook die weerkunde van die omgewing.

Daarteenoor het Ferdinand Magellaan die hele Stille Oseaan oorgesteek sonder om een van die duisende eilande van daardie oseaan raak te ry. Die Mariana Eilande, waar hy die eerste keer aan land gegaan het, is basies al amper by Australië. Hy het darem by een of twee ander eilande verbygeseil sonder om te land. Waarskynlik is dit as gevolg van 'n gebrek aan verstaan van die weerkunde, want die eilande in die Stille Oseaan is in die orde van 50 seemyle uitmekaar, net so buite sig. En Magellaan moes tussen hierdie kettings of reekse van eilande deurvaar. Miskien is dit sy straf gewees vir een of ander sondes waarvoor die Here hom oor die oseaan laat swerwe het. Soos die Israeliete van ouds bietjie moes rondswerf in die woestyn destyds.

Maar ons verdwaal darem nie. Nie soos een dametjie by my plaaslike haarkapper nie. Hulle het op 'n seereis van die Kaap na Rio iewers op die see vir drie dae lank verdwaal.

Ek is nie seker hoe mens dit regkry nie.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Wednesday, 25 January 2012

Stiltetyd, meditasie en olielensie-kerrie

2011-12-19 00h30

Dit was weer my kookbeurt gisteraand. Ek het alreeds vieruur begin kosmaak want ek het geweet dit gaan langer neem as normaal. Twee ure later is ek toe eers klaar en kan ons eet. Dit was beesvleisblokkies-kerrie in olielensies, bedien met rotis. Dis die rotis se voorbereiding wat so lank neem.


Beesvleis in olielensie-kerrie

Bestanddele:

1 koppie olielensies
¼ teelepel heel kojander
¼ teelepel heel komyn
4 kardamompeule, uitgedop
3 stukkies kaneelbas
4 korrels piment (allspice)
1 steranys
¼ teelepel anyssaad
½ teelepel borrie
1 eetlepel medium masala-poeier
1 teelepel knoffel, gekap
1 ui, gekap
1 eetlepel groen masala
500 gram beesvleisblokkies (goulash), in kleiner blokkies gesny
½ soetrissie, gekap
1 teelepel garum masala
sout na smaak

Roti

300 ml bruismeel of gewone koekmeel
1 eier, as jy een het, ek het nie.
sout na smaak
½ teelelpel heel komynsaad of anyssaad vir garnering
òf brooddeeg

Metode:

Bak die droë heel speserye in 'n droë pan tot die geure uitkom. Voeg dan 'n skeut olie by, vergaar verder tot die olie mooi gegeur is. Pasop vir aanbrand, dan is alles bitter en mens begin oor. Voeg die vleis by en braai tot dit begin bruin word. Verwyder die vleis en sous van die hitte en hou dit eenkant om te rus.

Voeg weer 'n skeut olie by die pan, asook die gekapte ui, soetrissie, groen masala en knoffel. Braai tot die uie deurskynened is . Voeg dan die masalapoeier en borrie by. Braai verder tot die droë poeierspeserye se geur uitkom.

Die olielensies moet vooraf in so twee koppies kookwater geweek word om uit te swel. Dit neem so 10-15 minute Voeg die geweekte olielensies by die uie in die pot en prut die sous tot die lensies begin opbreek.
Voeg dan die vleis weer by, kook deur en laat dit dan weer 'n paar minute rus. Die olielensies, ook bekend as dal, sal water absorbeer tydens die kookproses. Voeg water by soos nodig om die mengsel loperig te hou, anders kan dit aanbrand. Verwyder die pot se deksel sodra die lensie begin opbreek. Die sous sal dan indampp en verdik.

Jy kan so teelepel garum masala byvoeg vir garnering knap voor opdieneing. Dit sal die geur in die dis uitbring. Verder kan jy vars koljanderblare opkap en en bietjie by elke porsie in die bord sit. Moenie dit in die pot sit nie, koljanderblare het 'n sterk geur en kan die dis oordonder. Jy kan ook 'n bietjie saffraan aan die begin bysit. Week 'n paar stingels (2 of 3) in 'n halwe koppie kookwater. Sout die dis na smaak.

Rotis

Meng die meel en eier. Sout na smaak, so'n teelepelvol sal werk. Voeg water by die deeg soos nodig om 'n lekker brooddeeg te maak wat jy kan knie. Jy kan natuurlik liefs brooddeeg gebruik, maar op die boot raak dit nogal 'n luukse. Garneer die deeg met die komynsaad.
Verdeel die deeg in balletjies van so 30-40 mm nadat jy die deeg behoorlik geknie het. Rol die balletjies deeg dun uit en bak die rotis in 'n droë pan. Pasop vir aanbrand. Hierdie hoeveelheid is genoeg vir drie mense.

Die kerrie is genoeg vir 3-4 mense. As daar meer mense is, maak meer rotis en rek die sous deur dit effens te verdun.

Ons is nou naby die kus van Brasilië en so twee dae se seil vanaf Fortalesa, 'n groot hawestad. Ons is nou terug in redelike besige skeepsverkeer en ons wagbeurte is nie meer so rustig nie. Ons het vandag binne omtrent vier ure vier skepe gesien. Wanneer mens hulle sien op die horison is hulle waarskynlik net so meer as 'n halfuur weg van jou af, meesal minder.  'n Mens se horison aan boord die seiljag is maar naby omdat jy so naby aan die water is.

Die seevoeëls is weer terug., mens sien hulle nou gereeld. Die vlieënde visse is bietjie minder en ons het weer 'n dag geseil sonder 'n byt aan ons lyne. Dit sal nogal lekker wees om weer 'n vis te vang.

My navigasie is nog heel op standaard. Dit lyk ook asof ek die sekstant se gebruik onder die knie het. Die lesings kom nou met gemak en is nie meer so wyd verspreid dat ek lesings moet weggooi nie. Miskien is die oop weer en goed gedefinieërde horison deel van die rede. Ek was vandag nie lus om die sekstant te ontmantel nie, so ek het maar verlief geneem dat die indeksfout gaan kruip. My navigasie, na 'n oornagbeen, met die geassosieërde skattings en growwe onakkuraathede, is steeds binne tien seemyl korrek, vergeleke met die boot se GPS.

Vandag het ek vir die eerste keer na ST Helena-eiland my rekenaar uitgehaal en gebruik. Ek het 'n navigasieprogram by Renier gekry, wat oudergewoonte nie werk op Ubuntu/ linux nie. Daar is darem hoop, die helpfile dui aan wat ek van die internet af moet kry en wat ek moet doien om die program aan die werk te kry op Linux. Verder het ek 'n paar rekenaar-speletjies gespeel. En die eindresultaat is dat 'n mens breinmoeg is. Die tipe speletjie het natuurlik 'n groot invloed, maar ek sal liewer ander tydverdrywe soek ter see.

Ek het ook 'n klomp boeke vir die Kindle gekry. Dis nou vir 'n toekomstige tydverdryf. Sal maar sien of hulle goedkoop is op St Maarten, anders sal ek ene oor die internet aanskaf wanneer ek weer tuis is.

Ek sit nogal en wonder waar die lewe my heen gaan neem in die toekoms. Daar is nou 'n hele nuwe wereld wat oopgaan hier om my. En dis beduidend minder vreesaanjaend as die bedryf waaruit ek kom. Die bedryf waaruit ek kom is aan't sterwe en is besig om te kwyn, met die geassosieerde geskarrel na die oorblywende krummels van die krimpende begroting. Die bedryf waarin ek my begewe is aan die groei en dit lyk asof ek reg gerig is om 'n goeie tweede loopbaan te kan opbou in die seilvaartomgewing. Ek hoop dat Carol sal meedoen en ondersteun.. Sy gaan ook 'n besluit moet neem oor 'n tweede loopbaan, daar is nie tyd en vermoë vir aftree en niksdoen by die huis nie. Ek is nie seker of sy dit al ernstig oorweeg en oordink nie.

Verder begin die reis nou amper einde se kant toe staan. Daar is nog so knap meer as twee weke oor, dan is ons daar. Daar is natuurlik ook die stop by St Maarten, waar ons toerusting vir die boot sal oplaai. Klink my ons gaan teendaardie tyd ook nie meer aan boord kook nie, synde ons dan telkens aan wal kan eet en drink. En elke dag bad of stort. Dit gaan 'n belewenis wees!

Ons sal dan die boot skoonmaak en voorberei vir finale oorgee en aflewering. Na die reis van ses weke gaan dit aardig voel om weer permanent op vaste aarde te wee en die kamer staan stil. Ek mis natuurlik die katte ook, al hou hulle 'n mens uit die slaap. Veral so in die na-nag. En natuurlik mis ek my vrou. Dit gaan lekker wees om weer iets saam te doen. Die stap op die strand, die uiteet en so aan.


Ek reken ek sal minder Sodoku speel en meer lees. Die lees het my jare se goed gedoen hier aan boord. Dis 'n rustige soort tydverdryf en iets om jouself in te verloor. Daar is 'n persoonlike caveat vir my: ek moet miskien wegbly van vakliteratuur af, dis studie. Prediker 12 vers 12 lees: "En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees." Verder, die boodskap uit “Houseboat Chronicles” van Jake McDonald, is dat mens moet aanbeweeg. Die lewe gaan aan en dis nooit 'n goeie ding om aan die verlede vas te klou nie. Jy kan nie 'n toekoms bou op herinneringe nie, dis bietjie soos die Bybel se gelykenis van 'n huis op sand bou. Die see en water spoel die sand weg oor tyd, dan stort die huis in duie. Op dieselfde manier spoel die tyd en die lewe herinneringe uit jou gedagtes en die herinneringe vervaag. Dan stort jou lewe in duie as jy dit gebou het op herinneringe. Drome is anders. Dis goed wat beelde is in jou kop. Beelde in jou kop kan mens iets mee maak. Dis goed wat nog nie bestaan nie, maar wat more of oormore kan bestaan.

Daar is 'n element van beplanning en skepping in drome. Nie almal is nagmerries nie. En die nagmerries en spoke in my kop is grootliks besweer na hierdie reis. En ek kan bou aan my drome omdat die spoke stil is. Dan is daar tyd in mens se gemoed vir sulke gedagtes. Die Bybel vereis gereelde stiltetyd, 'n tyd van oorpeinsing,en gesels met jou God. So ook ander godsdienste. Die meer oosterse vorme van gosdiens gebruik meditasie. “Transcendental meditation” is die term. Dit transendeer mens se aardse woelinge en veroorsaak dat jou ego stil word, so dit transendeer jou ego as 'n begin. Daardie stemmetjie in jou agterkop wat jou slegte moed inpraat. Hoe dit ook al sy, dis 'n manier om stilte in jou kop te kry sodat jy kan tyd hê om jou hede te geniet en jou toekoms te kan beplan. Wel, dis hoe ek daaroor voel. En dit werk vir my.

Die meditasie is goed om jou gemoed tot rus te kry, selfs sielkundiges leer jou tegnieke om te ontspan. Elk geval, dit voel reeds goed vir my dat ek aanbeweeg uit my ou lewe na 'n nuwe een. Die ontdekkingstog is opwindend en laat mens sommer opgewek voel.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2013-01-23

Tuesday, 24 January 2012

Die sielkundige reis en herinneringe

2011-12-17 21h00



Ons is nou behoorlik in die trope en sal waarskynlik binne een week die ewenaar kruis. Ons is so twee dae se seil van die naaste land af, drie dae van Fortalesa in Brasilië af en daar is nog so twee weke en 'n paar dae se seil oor op die totale reis. Ons begin reeds die effek van die seestroom langs die Brasiliaanse kus te sien. Dit gee ons tans so halwe knoop ekstra spoed.

My navigasie is nou op standaard. Die fout op 'n oornag seil, lesings en berekeninge is steeds in die orde van 10 myl maksimum. Die sekstant se vermoë bly 'n probleem. Ek sal in die daglig die instrument se spieël uithaal en die montering versien.

Die weer bly maar effens wispelturig. Die wind is maar swak en wisselvallig in die dag, dan weer effens sterker in die nag. Renier verwag wind van so 25-30 knope langs die kus, maar daarvan is daar nog geen teken nie.

Ons het een byt gehad vandag. Ons sleep die kunsaas elke dag. Tot dusver het ons drie byte gehad in die laaste week, maar almal het losgekom. Ek het die minste byte sover. Ek het al die kunsaas geruil, maar sonder sukses. More is dit tyd vir 'n ander een.

Dit was Drikus se beurt om te kook. Hy het weer sy “sticky sweet fish”-dis gemaak, bedien saam met kapokaartappels. Dis 'n hengse lekker dis en ek sal dit tuis ook maak. Maar vir nou, hier aan boord, is dit Drikus se eie dis.

Ek lyk nie meer soos 'n bleeksiel nie, synde ek nou kleur op my lyf het. Maar ek sal 'n plan moet maak met 'n gordel; Ek het genoeg gewig verloor dat my swembroeke begin afval. En nie een het eers 'n lang veter om as 'n gordel te kan gebruik nie. Hoe mis ek nou my staptoer- en jag-dae. Toe het altyd 'n ekstra stel stewel-veters byderhand vir sulke gebeurlikhede. Ek sal maar weer so iets aanskaf. Mens gaan dit telkens gebruik na 'n paar dae aan boord, so wanneer jy die vetrolle begin afskud.

Die sosiale lewe aan boord is steeds heel gesellig. Ons het nou 'n standaard kaartspel-kompetisie in die middag so net na 12h00. Die kwinkslae is skreeusnaaks!

So tussendeur worstel ek met die boek “The Source” van James Michener. Ek gebruik die woord “worstel” omdat die storielyn ietwat uitgerek is. Die boek gaan oor die geskiedenis van die Jode en die kookpot van hulle land se ontstaan, beginnende omtrent 15000 jaar gelede, selfs vroeër. Elke era het sy eie stuk storie endis waar die skrywer miskien die spoor byster raak. Hier in die middeleeue en die kruistogte raak dinge bietjie dik vir 'n daalder met die beskrywings, grafies nogal, van die vervolging van die Jode. Telkens word daar derduisende mense afgemaai, gesinne word verbreek, moord en doodslag. Daarna word die agtergeblewenes, of die oorlewendes, ver oor die wereld heen versprei. Mens kan agterkom dat selfs my opsomming uitgerek begin word!

Ek wonder of Carol weg is vir die langnaweek, miskien om by haar Sus Rosa en Dolf te kan kuier. Sy het nog nie hierdie week weer 'n SMS gestuur nie., hoewel dit vir haar verniet is. Ek het nie 'n manier om te weet hoe sake verloop tuis nie, so 'n mens haal maar diep asem en gaan aan. Ek hoop egter dat sy sal verstaan dat sy meer gereeld iets kan aanstuur, al kry sy net een per week terug. Ek hoop van harte sy doen iets uit haar gewone roetine oor die langnaweek, dis mos vryetydsbesteding by uitnemendheid. Aan die ander kant mag die logistiek wat saam met die katte se versorging gaan haar idess varander. Dis in elk geval haar keuse van tydverdryf en lewenstyl.

My rekenaar het skaars gewerk tot op St Helena. Ek sal bietjie liedjies rondskuif op die stokkie en kyk of ek 'n paar kan omskakel na mp3-formaat. Ons kry die idee dat die klankspeler aan boord nie al die musiekformate verstaan nie. Ek sal ook 'n paar rekenaarprogramme kopieer vanaf Drikus en Renier se rekenaars.

Dis navigasie en reisbeplanning-programme. As jy 'n GPS-ontvanger aan die rekenaar koppel het jy dan 'n volledige navigasie-hulpmiddel teen 'n redelike prys. Ek gaan 'n plan moet maak met die verkryging van paierkaarte, die goed is vrek duur.

Genoeg van dinge, ek begin nou verlang na my vriende ook. Om met hulle te gesels en bietjie nuus uit te ruil. En ook om my ervaring te deel.

Dis nogal 'n ding, hierdie ervaring. Jy gaan op reis om nuwe plekke te ontdek en te ervaar en om nuwe dinge te sien en ander kulture te ervaar. En op die ou end is die ontdekking iets van binne in jouself. 'n Ontdekking en ervaring van dele van jou eie ek wat jy waarskynlik nie van geweet het nie, maar wat jy nou gebruik tydens die reis, nie by die vertrekpunt of die bestemming nie. Jou verwysingsraamwerk en jou waardestelsel verander tydens die reis. So, die reis is meer sielkundig as fisies. Die fisiese deel kan met baie minder fisiese moeite en beslis minder sielewroeging gedoen word deur bloot per vliegtuig te reis. Maar die bootreis maak dit 'n dieper ervaring met meer fasette.

Hierdie joernaal is een van die uitings van die sielkundige reis, skat ek. Ek is bly ek het my ervaring begin opskryf, al voel dit net so effens. Dis deel van die ontdekkingsreis en 'n mens kan godsonmoontlik alles onthou om dit dan later te boekstaaf.

En jy wil spesifiek nie alles probeer onthou nie, dis een van die eerste sondes wat stres tot gevolg het. Oorlading van jou geheue. Jou korttermyn geheue is die eerste wat in die hek duik. Hierdie reis is ook bedoel om te ontspan, nie net werk nie. Al is ek 'n glorified afleweringsjonge, soos wat die fraaie juffrou Cronje destyds gesê het toe ons by die Amerikaanse konsulaat gesit en wag het vir ons visums. Dit voel soos baie lank gelede wat daardie gesprek plaasgevind het, nogal.

Ek staan verstom oor my eie denke tans. Daar was nog geen nostalgie of hartseer op hierdie sielkundige reis van my nie. Daar is wel herinneringe van werner en sy oorlye, en die mense wat my gedra het. Ek skat dis nog deel van die rouproses. Daar het ek mildelike kans voor gehad tot nou toe op hierdie reis, veral in die nagte wanneer dit bewolk en baie donker is, met niks om jou gedagtes te versteur nie. Ek kan voel dat die emosies van Werner se oorlye beduidend minder is . Daar is groot berusting en baie mooi herinneringe wat oorbly.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Sunday, 22 January 2012

Green Masala and cooking with hot chillies

This is a recipe for green masala. As you may have noticed from my Tortola travel blog, I like cooking, especially Eastern and maybe more Indian style cooking.

Here is a recipe for wet masala, which has a myriad uses. This recipe is adapted from a myriad versions on the internet.

This quantity will keep in the refrigerator for about three months. It is still useable even when it ferments. Mine hasn't yet.

Use a dessert spoonful of this mix when frying the onions at the beginning of your dish. The quantity is good for about 500 grams of meat. (1lb) This will enhance the flavours of the dish no end. You need to fry this, else it will overpower the other flavours in the dish.

We used this raw, spread on a baguette, along with butter, tomatoes and cheese in Tortola when we got hungry. Very good, as long as you can stand the very strong garlic and chilli.

The balance of quantities is important, else you get one or the other flavour dominating.

Masala

Ingredients:

1 cup hot chillies, fresh
1/2 cup fresh ginger, scraped
1/4 cup fresh garlic, peeled
1 teaspoon salt
1 teaspoon ground turmeric
dash of cooking oil (not olive oil)

Method:
Scrape the skin off the ginger and cut it across the grain into 6mm (1/4inch) slices. You need to do this, otherwise you have a very thready mix in the end. Put everything into a blender, add the dash of oil and blend until the mix has become a paste, rather like pesto.

Store this lot in a sealed container in the refrigerator.  Use as described above.
You may go slightly less on the garlic, it tends to overpower the flavours. Olive oil also overpowers the other flavours, so I use the oil in the kitchen, which is canola oil at present.

Scale the quantities up or down as required. This recipe will make about 1 1/2 cupful of the mix. If you eat as much curry as we do, this will not last 3 months.

Cooking with chillies

There is a little art in cooking with hot chilli. It may be somewhat of a secret, but the stuff that burns the dickens out of you is the oleoresin capsicum. This is a volatile oil used in pepper sprays. And all that you need to do to get rid of most of it is to fry the chilli. It is then when the other flavours come out and you end up with a very sensual dish. Keep your head away from the pan...

So just add the chopped chillies to the onions when you fry them at the start of your dish. One small chilli per 500 grams (1 lb) of meat. Our spaghetti bolognaise always get a chilli nowadays, as well as most of the other meat dishes.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Saturday, 21 January 2012

Venus en malende gedagtes

2011-12-16 19h45



Vrydag 16 Desember. In die Republiek is dit langnaweek. Op die boot is dit bad-dag. En klere was. En terwyl ons op spit & polish uit is het ons sommer die roes afgepoets waar ons kon bykom en die see toelaat.
Die stort is met koue water, maar dis vars water. Behoorlike sjampoe en stort-gel. Jy exfoliate nogal woes; mens sal smaak jy vervel. Maar dis lekker om daaruit te kom. Dis nogal heel warm en bedompig hier naby die ewenaar. Die manne reken dit gaan nog beduidend warmer word en die wind gaan lê. Wanneer dit gebeur gaap die kraaie. Renier het vandag 'n foto gewys van die doldrums. Dit lyk soos die Vaaldam op 'n laat somermiddag as daar nie wind is nie: Plat soos 'n spieë, behalwe dis nou die groot oseaan in die middel van nêrens. Ons hoop maar dit hou nie te lank aan nie.

Ons het vandag weer 'n bier gedrink. Een bier per persoon na ete. Ek moet bieg en erken dat die onthouding en uitdroog mens goed doen. Jou gesondheid voel sommer beter en jy kan selfs die bier se smaak waardeer.
Ons begin glad nou al ons spyskaart vooruit beplan. Dit werk goed so, want dan kan ons verseker wees van variasiein die disse. En steeds eet ons uithaler kos. Dis nou wel meesal groente uit blikkies, maar ons het steeds baie rys, vars aartappels en uie en ook meel. Oormore is dit rotis met dhal en blokkies beesvleis. Ek sal maar vroeg begin kook.

My navigasie is steeds op standaard met 'n fout kleiner as twaalf myl op 'n oornag stel berekeninge. Dit gee selfvertroue. Die sekstant is steeds op 'n koers van sy eie. Die instrument behou nie sy indeks kalibrasieverstelling nie. Nie eers vir die vyf minute wat die drie lesings neem nie. Miskien doen ek iets snaaks, maar daar is geen instruksies of raad te dien effekte in die handleiding nie. Nou kalibreer ek voor elke stel lesings, meet die indeksfout agterna en pas al die lesings aan met die helfte van die fout.
Die weerpatroon is nogal interessant. Die wind gaan lê heeltemal in die dag. Dis warm en bedompig met wolke en squalls. Maar in die nag is daar nie squalls nie en die wind waai bestendig suid-oos tot oos. Ons seil dan heel lekker op 'n basiese plat see.

Ek het vandag 'n seevoël gesien, die eerste een sedert die dag van ons vertrek uit St Helena. Dit is die eerste teken dat ons nou nader aan die land is. Ons sal nou seker meer begin sien soos ons die land nader. Ek het nog geen dolfyne gesien nie. Om presies te wees is dit net Renier wat al dolfyne gesien het op hierdie reis, en dit was eenmalig iewers voor St Helena.

Vandag het ons weereens geen vis gevang nie. Ek het 'n byt op die bungi-lyn gehad en Renier het 'n vis gehaak op die visstok. Myne was net 'n byt wat die poliesman getrip het. Maar op die visstok het die vis behoorlik gevat. Hy het egter na 'n minuut of wat losgekom. Dis bietjie bemoedigend na 'n paar dae van geen aktiwiteit. Ons het nie regtig nog kos nodig nie, maar die visvangery bied darem 'n bietjie afwisseling en opgewondenheid in die daaglikse roetine. En 'n groot brag foto is nie noodwendig onvanpas nie. 'n Mens mag maar spog met die resultate van jou byvoordele, of hoe? Hierdie byvoordele verryk jou ervaring, nie jou sak nie. Dis nogal iets om te onthou.

Vanaand is dit baie donker buite. Die maan is nog nie op nie en dis erg bewolk. Ek kan Venus sien. Die planeet is só helder dat mens vanaand die ligbaan mooi op die water kan sien. So hier en daar is nog 'n ster of twee te sien, so tussen die wolke deur.

Die gemoedstoestand op die boot is in 'n heel humoristiese luim. Ons speel nou gereeld kaart en daar is 'n jolige oor-en-weer geskertsery oor die punte. Hierdie reis is vir my 'n uitmuntende ervaring van hoe lekker 'n seereis per seilboot kan wees. Dis half jammer Carol dit nie wil deel nie. Renier het nogal vandag skertsend gesê dat hy my saamgebring het om te sien of hy dit nog sal kan doen op sy oudag. Ons het lekker gelag. Al drie van ons is op een of ander manier sportief georienteer. Ek is nou die verste op my lewenspad en begin afskaal op die fisiese uitdagings en ontberings. Ek vermoed dis 'n openbaring vir die ander twee om die perspekitewe te sien.

Die sterrenavigasie is nog 'n ding. Ek het raak gekorrel met my keuse van tydverdryf. Ons het 'n lang bespreking gehad oor tydverdrywe aan boord.Dit kom toe uit dat albei my skeepsmaats idees het van verder studie, hetsy diplomas of sommer net iets soos die aanleer van 'n nuwe taal. Dis miskien iets om in gedagte te hou by die beplanning van 'n reis, veral 'n aflewering, soos hierdie een. Daar is altyd 'n vlak van onkunde en/of ervarenheid. 'n Mens kan dit gebruik om 'n taal of ander vaardigheid aan te leer. Ek het, byvoorbeeld, begin om hierdie joernaal by te hou. Iets wat ek nog nooit vantevore gedoen het nie.
Eers was ek bang vir die leë papier. Toe was ek bang vir foute maak. Iewers kom daar toe die openbaring dat dit my eie boek is. Ek kan enigiets daarin opskryf, teken, skoonskrif oefen of iets dergeliks. Van toe af sukkel ek nie meer om te skryf nie. Een pen opgeskrywe. Of is dit nou leeggeskryf? Wat ook al, dit reflekteer my gedagtes en gemoedstoestand.

Ek het altyd gedroom daarvan om my ervarings op te teken. Maar dit werk nie op 'n post facto-beginsel nie. Nou skryf ek dit elke dag neer, bietjie vir bietjie. Nie alles op een slag nie. Jy eet bietjie vir bietjie, slaap bietjie vir bietjie, werk ook so en speel ook so. Dit gee mens kans om ook te rus, so tussen al die dinge deur.

En bowenal, dit verskaf geleentheid om oor jou lewe te besin, te beplan en te besluit. Alles bietjie vir bietjie. Ek is half bly my storm-en-drang jare is verby, waar ek roem en geld nagejaag het. Nou het ek tyd om te besin oor wat ek wil aanvang en daarvoor te beplan. Nou geniet ek die ervaring soveel meer en daar is groter waardeering in my gemoed oor die rykdom van ervarings. Daar is nie net groot dinge in mens se lewe nie, daar is 'n duisternis klein dingetjies. Die groot goed, so begin ek vermoed, is 'n samegooi en groeperings van bondels klein dingetjies. Dit belemmer mens se insig omdat detail, die klein dingetjies, weggesteek raak en verlore gaan.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Thursday, 19 January 2012

Nuwe resepte en verlange

2011-12-16 00h15

Dis 'n soel maanlignag. Die maan skyn so na halfmas. Die wind waai teen 'n gesellige spoed en ek sit met 'n koppie tee op die agterdek sonder 'n hemp. Die boot seil rustig aan oor 'n kalm see en die wind is net reg om die omgewing af te koel na draaglike temperatuur toe. In my kajuit begin dit reeds bedompig voel en ek gaan met 'n oop luik moet seil.

Maar vir nou is alles mooi rustig vir ek en myself en ons twee. So, met die koppie tee saam.
Dit was weer my kookbeurt en ek het weer viskerrie gemaak op versoek van die manne. Dis duidelik 'n wenresep. Hierdie keer het ek gewone masala (medium) gebruik instede van vismasala. Dit was per ongeluk. Renier reken dit was sterker as vantevore, maar ek het dieselfde hoeveelhede van die bestanddele gebruik en minder komyn, met vier peule kardamom die keer. Die dorado wat ons nou het proe egter beduidend beter as die bonito vantevore. Ek het die vis in kleinerige blokkies gesny, sodat die geur makliker kon deurtrek. Dit het goed gewerk so. Die resep is herhaalbaar en baie lekker, hoewel effens meer moeite. Die droë speserye wat jy droog rooster/bak in die pan maak 'n hengse verskil aan die geur van die dis. Ek het die vis weer rou ingesit nadat al die ander bestanddele eers behoorlik in volgorde, in 'n sous omskep is. Die vis het dus gaar gekook.

Die rys met die hand vol bruin lensies is ook 'n wenner.

Volgende keer maak ek 'n dikkerige dal-kerrie met blokkies beesvleis. Ek hoop die soetrissies hou tot dan. Daarby sal ek rotis maak. Meel, sout en water. Ek vermoed dat as jy botter by die meel sit, gaan jy so 'n modified scone kry, en dit wil jy sekerlik nie hê nie. Ek sal die roti braai in die wok in botter. Dit behoort te werk. Een koppie meel, sout en water. Knie die deeg behoorlik sodat jy stokbrood kan maak. Verdeel in 25-30mm balletjies en rol dit uit tot dit baie dun is. Gebruik 'n Asiatiese rolstok of 'n Tabasco-bottel. Dit behoort te werk. Ek vermoed die pan moet redelik droog wees, dus sal ek die rotis botter smeer soos hulle uit die pan kom. Miskien selfs 'n skeut heel komynsaad in die deeg.

Ons is nou so drie dae se seil weg van Brasilië. Nou gaan ons meer noord draai om teen die kus af te seil saam met die seestrome. Renier verwag dat ons 'n hele paar dae meer as 200 seemyle sal vorder, teenoor 120-140 seemyle per dag tot nou toe. Ons verwag ook meer verkeer, so ons sal maar mooi op die uitkyk moet wees. Dis heel anders as tot nou toe. Ons het presies een skip gesien sedert ons vertrek uit St Helena. Mens is half vies as jy ander verkeer teekom, dit breek die rustige bestaan en jy moet wakker wees oor waar watter verkeer om jou verbygaan. Ons het het mos nie radar nie, so dinge raak ernstig teen die tyd wat jy 'n groot skip sien. Hy is dan baie naby, net 'n paar myl weg en, teen die die spoed wat hulle en ons vaar, so so tien tot vyftien minute weg.

Ons het gister geen byte gehad op die kunsaas nie. Dit kon die weer wees, maar ek vermoed daar is gewoon nie so baie vis in die see dat mens kere per dag 'n byt sal kry nie. Die laaste keer het het ons 'n baie groot vis gehaak, wat toe losgekom het. En binne 'n uur nog 'n grote gesien.

Die lewe aan boord is verder nog heel gesellig en aangenaam. Ek skud nog steeds die vetjies af en is besig om mooi sonbruin te word, hoewel ek soos krismisvader begin lyk. My baard is nou by die jeuk-stadium verby, en bedek my gesig behoorlik. Ek vermoed soveel so dat my wange nie juis verbruin in die son nie. Ek sal maar before & after fotos neem en kyk of ek 'n barbier in Tortola kan opspoor.

Ek hou nog my navigasie-oefeninge by. Elke dag leer ek iets by. Gister se lesings was baie akkuraat en nadat ek een weggegooi het uit die drie, was die fout steeds kleiner as 10 myl. Die oop lug en die goed gedefinieerde horison maak die lesing baie eenvoudiger. 'n Mens moet telkens voor elke lesing die sekstant nagaan vir foute en kalibreer. Dan is die lesings mooi hehaalbaar en baie akkuraat. My berekende posisie is na 18 uur se seil steeds binne 7 myl van die GPS-posisie af. Die sekstantlesings se plot is binne omtrent 2 myl van mekaar. Ek begin my lesings te vertrou en sien kans om nou reeds die eksamen af te lê. Maar dit sal moet wag tot na die Yachtmaster-kwalifikasie. Die burokrasie wen toe alweer. Ek hoop om darem my persoonlike logboek uitgeteken te kry vir genoeg myle om te kwalifiseer vir die Yachtmaster-kwalifikasie. Die vereistes moet ek maar bevestig wanneer ek weer internet-toegang het.

Hopelik is die internet-toegang in St Maarten goedkoper as in Jamestown, St Helena. GBP 3 vir 'n halfuur. Dis R90 per uur. 'n Openlike struikrowery as jy my vra. Verder hoop ek daar is bietjie meer beskawing in St Maarten.

Ek vermoed daar sal wees, met 'n groot lughawe en al. Dit sal ook ook lekker wees om 'n slag kontak te maak met die huis. My katte sal my waarskynlik nie herken nie. Ek hoop Carol onthou darem nog hoe ek lyk!


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Visvang en ek skryf 'n pen leeg

2011-12-14 21h00

Vandag is 'n baie interessante dag gewees. Ek het vanoggend nogal hard gewerk op my skof van 03h00-06h00.

Die weer was vol donderwolke en daar daar was 'n hele paar squalls om ons. Sommer ontstuimige lug. Die water is gelukkig nog redelik plat, so een meter of so se deining. Maar so tussen die squalls deur het die wind 'n hele paar keer van rigting verander en na elke squall sommer gaan lê. Dis asof die weer bietjie woer-woer gespel het met die boot. Ek het vir twee ure gesit en aktief die boot geseil. Seile verstel, laveer (“tack”), seile inrol, uitrol en die enjin aan en af. Niks tyd vir bepeinsing nie. Ek was half bly toe my skof verby was. Gelukkig het Drikus bietjie vroeër opgestaan en toe het ons darem saam tee gedrink, voor ek in die kooi geduik het.

Later in die dag sit ons nog so en gesels, toe vat 'n kolossale vis Renier se kunsaas. Gelukkig was dit op die visstok, maar toe ons weer sien is al die lyn byna afgerol, selfs teen die swaarste rem en die boot wat agter die vis aanjaag.

Dis nogal 'n hele gedoe om die seil ingerol te kry, beide die enjins aan en die boot op dreef agteruit agter die vis aan. Na dit alles, toe kom die vis los. Ons stel toe maar weer alles op en Renier is terug na sy kajuit. Hy was kwalik terug in sy kajuit, toe ek sien hoe sy stok se punt so wip-wip maak.

Hierdie slag is almal paraat maar die vis vat toe nie die aas nie. Ons het darem almal 'n vinnige blik op die vis gehad. Soos hy agter die aas aan is. 'n Monster van oor twee meter, sou ek skat.Die gure weer van voor dagbreek het so teen laat vanoggend opgeklaar en het van toe af mooi opgeklaar gebly met die wind wat uiteindelik bestendig uit die suidooste waai. Ons seil sedertdien alte lekker.

Die weer is lekker warm en ek loop net met 'n broek aan, selfs nou ná negeuur in die aand. Ek reken ek het al effens bruiner geword die laaste paar dae. Ek gebruik nie sonbrandmiddels nie omdat 'n mens nie so lank in die son is op 'n keer nie.

My navigasie-oefeninge begin vrugte afwerp. Tussen Drikus en myself het ons die sekstant se nukke en grille uitgepluis. Ek moet nog 'n manier vind om dit uit te haal, maar ten minste weet ons nou hoe om die instrument te kalibreer voor elke lesing.

Verder het ons uitgepluis dat om 'n paar lesings te neem, dan te kies watter van hulle om te gebruik, maak 'n beduidende verskil op die integriteit van die plot. Jy kan maklik sien watter lesings is verdag.Jy kan ook maklik sien hoe wispelturig jou metings is! Maar vandag was my plot binne vyf seemyle van die GPS-pposisie af. Dit na 22 uur se dead reckoning wat bygewerk is.

Ek plot die vordering van die reis op my kaart en gebruik die boot se GPS-log as basis. Die skaal is so groot dat my slegste posisie-bepaling minder as 6mm verskil maak op die kaart.
'n Bietjie staistiek: Ons is vandag 23 dae op reis. Tot en met 12h00 vanmiddag, plaaslike tyd, het ons 2835 seemyle afgelê. Ons is basies halfpad met die reis. Ons is byna oor die wye deel van die Atlantiese Oseaan. Ons is 8 dae op reis uit St Helena. En ek het so pas my eerste pen leeggeskryf.

Nou skryf ek met 'n Artline pen met 'n 0.4mm punt. Die pen skryf lekkerder as die vorige ene.

Ons het ook vandag ons horlosies met 'n uur teruggestel. Dit maak ons nou vier ure agter SA tyd. Ons gaan nog twee ure agter raak.

Die lewe aan boord is heel vrolik. Ek is die enigste ene aan boord wat nog 'n vis moet opsny. Renier het twee en Drikus een gevang. Ons aande is gesellig. Ons eet aandete so iewers tussen 17h00 en 18h00. Daarna speel ons kaart. Die kaartspel van die oomblik is Uno, 'n spesiale variasie van vreetkaart. Mens speel dit met 'n spesiale pak kaarte. Tans is ek die kampioen, maar ek dink die glorie gaan van korte duur wees. Die kaarte se behoorlike skommeling aldan nie, maak 'n groot verskil en ek was tot dusver gelukkig met die val van die kaarte. Dit alles gee aanleiding tot groot pret en geskerts.

Tussen Drikus en Renier het hulle vragte elektroniese kaarte en programmatuur. Vandag het hulle Renier se rekenaar opgestel en al die programmatuur aan die werk gekry. Ek is volgende aan die beurt. Ditto vir musiek en videos. Ek het nog niks videos gekyk op die rekenaar nie, bloot om twee eenvoudige redes: Die rekenaar se battery word gou pap, dan het ek 'n logistieke probleem om dit weer gelaai te kry. Ek kan dit net doen as die boot se enjin of die generator loop. Die ander rede is dat ek tot nou toe nogal heel besig was met navigasie-studies.

Ek sal 'n minder kragtige rekenaar kry om aan boord te gebruik. Beide Renier en Drikus gee te kenne dat rekenaars berug is vir gou oproes ter see op seiljagte en ander klein bootjies.

Die maan is tans besig om op te kom so tussen 'n paar los bondels wolke deur. Die hemelruim is verder redelik oop en die sterre is mooi helder. Die rustige omgewing in die nag vervloei so inme. kaar dat 'n mens amper voel jy leef in 'n droomwereld.

Ek verstaan nou goed hoekom die raad oor kameras aan boord is wat dit is: Neem 'n eenvoudige kamera, want dit het slegs nut by die vertrek en aankomste, verbind deur 'n massa van mooi sonsopkomste en -ondergange en maanskyntonlele. Jy kry amper 'n oordosis daarvan en kan maar min daarvan afneem want die boot staan nie stil nie.



Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12