Showing posts with label Tortola reis: Kaap tot St Helena. Show all posts
Showing posts with label Tortola reis: Kaap tot St Helena. Show all posts

Monday, 16 January 2012

Frikkadelle, squalls en Cindy Lauper


3 Desember 2011

Dis nou net so na 00h00 op Saterdag. Die wind het heeltemal gaan lê vroeëer in die nag, nou motor ons. Die “squalls” is weg. Mens moet wakker sit as die squalls kom wanneer jy seil. Die wind kom skielik op en dis koud. Ek het die rekord squall. Die wind het binne vyf minute verander van so 12 knope na 35 knope. Ek moes vinnig die seil inrol, anders was daar perde!

Die lewe is amper luilekker wanneer die wind matig en bestendig is en die see kalm. Dan is ons meesal almal wakker hier van drie-, vieruur af in die middag, selfs vroeër. So het ons vandag so van eenuur af na Cindy Lauper geluister waar sy jazz sing. Haar sterk stem het mens sommer meegesleur en 'n baie rustige atmosfeer geskep.

Dit was weer my beurt om kos te maak.


Frikkadelle, wortels, skorsies en aartappels

Bestanddele:
400g maalvleis
2 snye brood, fyngemaak
9 klein aartappels
3 skorsies
½ ui, fyngekap
¼ soetrissie, fyngekap
1 klein brandrissie, fyngekap
knypie knoffel
sojasous
2 eiers
varsgemaalde swart peper
suiker, sout, botter
Maizena (of koekmeel)
1 bees of groente-ekstrak blokkie
6 geelwortels
kookolie

Metode:

Meng die vleis, brood, uie, soetrissie, eier, knoffel en 'n skeut sojasous baie deeglik. Voeg varsgemaalde swart peper by en 'n bietjie sout na smaak. Onthou die sojasous is ook sout.

Verhit 'n skeut olie in die pan. Maak nou klein bolletjies van die vleismengsel, rol dit in die maizena en bak dit in die pan tot die meel mooi bruin word. Verwyder van die hitte en laat rus.

Kook intussen die wortels in vars water. Ek het hulle net grof gesny. Stowe die aartappels tesame met die gehalveerde skorsies.

Gebruik die water van die wortels as basis vir die sous, tesame met die vleisblokkie.

Braai die brandrissie in die pan tesame met die sappe van die vleisbolletjies.. Voeg die sous by en prut tot gaar. Voeg dan weer die vleisbolletjies by en kook deur.

Jy kan nou opdien. Ek het die aartappels net so in die skil opgedien en die skorsies met met botter en suiker. Nadatt ek die wortels se water gebruik hetvir die sous, het ek 'n bietjie suiker by die wortels gesit.

En daar is my ete. Alles vars kos.

Ek het vandag weer 'n sonlesing geneem. Dis nou so tussen die wolke deur. Ek begin om hierdie joernaal oor te tik in in elektroniese vorm. Dan het ek iets om aan te stuur per e-pos. Ek sien nogal uit na die oorstaan op St Helena. Ons is nou so 200 seemyle weg en behoort teen more (Sondag) middagete daar te wees. Ek wonder of ek nog reguit kan loop! Ek sien nie juis uit na die kos aan wal nie. Ek vermoed ons eet lekkerder aan boord!

Ek het 'n skaakbord gemaak uit 'n vel viniel en maskeerband. Dit lyk goed en is waarskynlik heel duursaam. Ons sal maar sien hoe dit werk en of dit lank gaan hou.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Gewigsverlies en fosforligte in die water


1 Desember 2011

Ek het vandag met Carol kontak gemaak per satellietfoon. Dit was aaklig. Twee minute is gou verby. Die kommunikasie was swak, beide vir die mense en ook die elektroniese kanaal. Die kanaal was hakkerig en en stemme onderbroke. En die gesprek was in kort woorde.

Kort woorde dra nie juis veel inligting oor nie, dus wag ek maar vir die WiFi fasiliteit op St Helena. Hierdie poging was teleurstellend en ek sal nie weer dit probeer nie. Ek kon darem die boodskap deurkrydat Carol my kan sms op die boot via die internet.

Driekus het vandag weer kos gemaak. Hy het vis gebraai, in meel gerol en diepolie. Die vis is toe bedek met 'n glasuursous van kerriepoeier, gebraaide uie en suikerwater wat hy gekook het tot dit dik word. Dit smaak uitmuntend en is 'n variasie op die roerbraai vark en hoender wat ek tuis berei. Die vis was bedien met aartappelslaai. Lekker!

Ons het vandag ons eerste “squalls” gekry. Dis los reënbuie wat met 'n sterk wind geaard gaan. Behalwe dat die windvlae nie juis sterk was vandag nie. Ek het genoeg son gesien om weer twee lesings met die sekstant te neem.

Voorts het ek my van my bestaande lesings verder verwerk en geplot. Die resultate wissel van hengse akkuraat tot middelmatig. En ek het nog baie oefening nodig om akkurate sekstantlesings te neem.

Vandag het ek my broek nog so 'n versie stywer vasgemaak. Ek verloor hengse baie gewig. Of so voel dit altans. Ons eet net een behoorlike ete per dag en die res van die tyd is dit elkeen vir homself. Ek het gisteroggend die reste van die vorige aandete vir ontbyt genuttig. Middagete is 'n grondboontjiebotter toebroodjie of 'n appelkooskonfyt en kaastoebroodjie. Ek het myle te veel versnaperinge en soetgoed saamgebring. Tot dusveer het ek nog net omtrent vyf pakkies goed opgeëet en van dit het my maag ontstel. Mens moet maar versigtig vir droeë vrugte en so aan.

Ons het vandag ons horlosies nog 'n uur teruggestel om aan te pas by die tydsone. Anders kry jy dat dit al agtuur is voor die son opkom. Of anders ruil jy wagbeurte om 06h00 in die pikdonkerte. Dis baie subtiel, maar mens kom die verskil agter. Dit gebeur stadig, dus is jou liggaamsklok in staat om by te hou. Maar ek dink dit gaan woes wees om terug te vlieg met die jet lag en al.

My handskrif is nie juis iets om oor te spog nie, maar mens moet in ag neem dat ek sit op en skryf op 'n boot wat nogal heelwat beweeg, as jy dit nie bokspring wil noem nie. Ek vermoed die beweging is deel van die rede vir die gewigsverlies. Dit bly egter terapeuties om te sit en skryf. So in die ritme van die golwe en deinings, met die geruis van die water om die boot.

'n Terugkeer na tradisionele kunste en vaardighede. Straks Victoriaans as jy wil. Volgende keer sal ek oorweeg om 'n vulpen te bring, maar dan moet ek die bagasie se gewig in ag neem en die bottel ink weggooi aan die bestemming se kant, aleer ek op die vliegtuig klim.

Ons is nou al elf dae op reis en het nog nie een volledige sonnige dag gesien nie. Die weer is besig om beduidend warmer te word, maar ek dra nog steeds 'n kortmou én 'n langmou T-hemp op die brug. In die nag kom my reënbaadjie by. Die ander manne dra al 'n kortbroek, maar ook maar 'n ding wat warm is en die wind afkeer. Hopelik sal die weer nog warmer word binnekort. Die weer is in elk geval meer gematigd as in Kaapstad. Dis iets om oor bly te wees. Ons het groot golwe gehad vir die eerste vyf dae van ons reis. Dit was nie aangenaam nie. Veral nie nadat die avontuur van die nuwe ervaring bietjie afgewerk geraak het nie. Dis maar 'n leerskool waardeur 'n mens gaan.

Ek het vir die eerste keer fosforligte in die water gesien. Dis asof iets die reaksie aan die gang sit, dan flits daar so klomp ligte langs die boot. Ek kon nie uitmaak of dit visse of 'n mikro-organisme in die water is nie. Dis nogal mooi, herinner so bietjie aan 'n klomp kameraflitse by 'n glansgeleentheid, met myself op die verhoog.

Bepeinsinge en sosiale interaksie

30 November 2011

Vandag was dit die skipper se kookbeurt. Ons het varktjops, koolslaai en broek-en-baadjie aartappels geëet. Met Oros koeldrank daarby. Daarna het ons 'n paar potte kaart gespeel. Poenskop. Ek dink dis 'n goeie beskrywing om te sê dis 'n variasie van vreetkaart. 'n Pot duur so tussen vyf en tien minute en daar is min vaardigheid ter sprake. Mens kan die kaarte tel, dit help. Dis lekker sosiaal en ons drie kuier lekker. Dit begin 'n ritueel word elke aand na ete.

Vandag het ek verder gestoei met die sterrenavigasie. Reduksie vvan observasies. Dit knor maar so tussen die onkunde en die verskillende boeke met veelvuldige parameters en tabelle wat geraadpleeg word. Dan eindig elke lesing as 'n enkele lyn op die plot. 'n Leë vel papier met 'n paar lyne en 'n kompasroos word skielik 'n kaart met 'n strepie op. Dis nou die strepie wat aandui waar jy dink jy behoort te wees.

Interessante proses: Mens neem 'n lesing met 'n ingewikkelde instrument, die sekstant. Dan maak jy 'n paar maklike berekeninge en raadpleg dik boeke met baie tabelle en syfers. Daarna gebruik jy die antwoorde wat voortspruit uit jou gewigtige navorsing in die boelke en trek 'n paar lyne op 'n vel papier.

En as jy perdalks die ko-ordinate verkeerd gekies het, is jou plot van die papier af. Dis amper soos om van die plat aarde oor die rand te val. En om jou lê die eindelose oseaan. Jou enigste aanduiding van 'n verskil tussen gister en vandag is die kalender op jou horlosie en die strepie of kruisie op die papier.

Dis nou as jy nie van die aarde afgeval het nie.

Mens wonder soms hoe die seevaarders in die geskiedenis gevoel het sonder 'n horlosie aan boord. Hulle sou sekerlik 'n kalender kon byhou, maar dis altydmeting wat hulle gehad het. Daar was nie eers kaarte nie, so die strepei op dioe papier was waarskynlik weinig meer meer werd as die broodkrummel-spoor uit Hansie en Grietjie se storie.

Dis nou al twee dae bewolk genoeg dat ek nie sekstantlesings kan neem nie. Nogal romanties in die nag, veral as ons seil. Jy kan nie die horison uitmaak nie, alles is swart. Buiten nou die ligkring om die bootse navigasieligte.

Dan sit jy op die brug met 'n windjekker aan en bepeins jou dag en sommer alles wat jou altyd gepla het. Ook veral al die mooi dae en goeie dinge in jou wedervaringe. Dis interessant dat mens se negatiewe gevoelens, die donker gedagtes en 'n hele boel vrese so sommer in 'n paar uur verdwyn.

Vandag het die skipper vlieëende visse gesien. Ek moet nog. Hy reken dis 'n goeie teken, dis 'n aanduiding dat daar roofvis ook kan wees. Ek sien nogal uit om ook so 'n roofvis te vang.

Byvoordele van die werk, nogal. En dis nie belasbaar nie...

Ons is nou reeds 1200 seemyl van Kaapstad af. Net so vier dae weg van St helena, ons eerste stop. Die dae vloei so ineen, dit voel nie soos 'n week of meer op die boot nie.

Ek sien uit na die stop by St Helena. 'n Tydkapsule uit die Victoriaanse era en vroeër. 'n Plek waar tyd stilstaan. 'n klein stukkie land geisoleervan die westerse wereld se geroesemoes. En dit het 'n rol gespeel nog in my eie geskiedenis.

Iewers langs die pad het ek agtergekom dat die ander manne se gedragspatrone normaal is vir vreemdelinge wat vir die eerste keer saamgegooi word. Die vrese wat ek gehad het oor “downers” was in my kop, deel van die menigvuldige spoke wat besweer is. Daar is nie nydigheid of afguns op die boot nie. Elk geval nie tot dusver op hierdie reis nie. Maar die manne kom uit met rillers oor ander reise.

Rillers van meesal boeliebief en tamatiesmoor eet, van heetyd op die brug wees in jou diensbeurt. En van afknouery wat gebeur.

Interessant verder: Ten spyte van 'n voorraad whiskey en bier het nie een van ons nog lus gehad vir 'n dop nie. Miskien het dit iets te doen met die roetine aan boord: daar is gewoon nie tyd daarvoor nie. En aan die einde van jou wagbeurt is mens nie lus daarvoor nie.

Nou dat ons nader aan St Helena kom, wonder ek hoe dit by die huis gaan. Met Carol en die katte en die Volvo. Dit moet al lekker somer wees daar. En ek hoop van harte dat die Volvo nou uiteindelik behoorlik herstel is.

Die katte moet nou al groot wees: een rooi kat, een swart kat en 'n bont wyfiekat. Die rooie sal seker bly wees om weer speelmaats te hê van sy eie grootte.

Ek verlang ook na my vrou en 'n bed wat stilstaan! Hoewel, dis nou deel van die avontuur op die oomblik en ook vir die afsienbare tyd.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Die kokon van stilte om jou

30 November 2011 02h10

Die wind het opgekomm en waai nou so teen 13-16 knope. Ons seil lekker met die wind so oor die bakboord-agterstewe.

Ek het gister verder gestoei met die sterrernavigasie, Vandag en gister is terme wat neig om inmekaar te vloei. Ek verloor sommer maklik die datum. Al wat my herinner is hierdie joernaal en die navigasie-oefening. Ek weet hoe laat dit is, want my lewe word oorheers deur die diensrooster; 3 ure aan, 6 ure af. Die 15h00-18h00 skof maak ete vir almal, die volgende dag se 06h00-09h00 skof was skottelgoed en ruim op.

Ek het gister vir die eerste keer sedert ons vertrek uit die Kaap. Behoorlik gewas. Dit was 'n koue stort, die boot het nie warm water nie. Daar is nie 'n warmwater stelsel aan boord nie. Ook weer skoon onderklere aangetrek en die vuiles gewas.

Dit voel nie snaaks om nie te was nie.Mens is nie regtig vuil nie, maar begin erg ruik van die ou sweet. Gelukkig was dit maar koud en koel tot nou toe.

Ek voel geetelik heel uitgerus. En vrolik. Daar is nie snaakse verhoudingsprobleme of idiosinkrasieë aan boord nie. Die gebrek aan media is waarskynlik 'n seën. Dit maak dat mens jou medemens se geselskap waardeer. Die gebrek aan eksterne media maak dat jy meer fokus op jou eie vermaak en afleiding. Die roetine aan boord gee ook meer as genoeg eie tyd. Veral in die nag, soos nou.

Ek lees ook baie. Ewald en Nicola het 'n boek persent gegee: Atlantic, deur Simon Winchester. Dis 'n effe geromantiseerde geskiedenis van die Atlantiese oseaan, nogal moeilik om te lees, maar baie interessant. Noudat ek dit klaar gelees het, lees ek sommer gewone storieboeke, die eerste keer in 'n lang tyd. Nogal lekker vir 'n verandering. Ek begin dit selfs oorweeg om 'n elektroniese leesboek soos 'n Amazon Kindle aan te skaf. Dan verdwyn die klomp storieboeke uit mens se boekrak. Die klomp boeke wat ek aan boord gebring het gaan ek in elk geval weggooi in Tortola. Hulle neem plek en gewig op in my bagasie vir die terugreis.

Interessant hoe mens se verwysingsraamwerk verander. Die ander manne het persoonlike iPads en so aan en massas musiek waarna hulle luister met oorproppe. Ek sit en verlustig my in die kokon van van stilte hier om my. Daar is ander geluide hier naby, maar die kokon is van stilte.

Die water ruis en borrel by die boot verby. Soms klap die water teen die romp, soms klap dit hard tussen die rompe. Dis die boot se eie geluide. Die paneelwerk binne kreun en kraak soos die boot vervorm. Soms klap die katrolle soos die boot wieg op die water, veral as die wind swak is. Die seil klap ook so van tyd tot tyd as die wind swak is.

Maar dit alles dra by tot die kokon van stilte hier om my.

Dan is daar ook die boot se beweging. Nou is dit sag en wiegerig in die kalm see. Die deining is so tussen een en twee meter. Dis anders in 'n sterk wind. Dan raas die boot en stamp baie. En maak ander geluide, minder rustig. 'n Mens ontwikkel naderhand 'n gevoel vir die omgewing en die weer op grond van die geluide. Jy stel dan die seil om gelukkige geluide te hoor.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Sekstantlesings, viskerrie en tegniese lesse



27 November 2011

Ek was lekker deurmekaar in die nag. Staan toe mos 23h00 op om te begin werk. Drikus lag hom slap, ek moet eers om 03h00 begin. Ek gaan slaap toe maar weer. Iewers in die nag word ek toe wakker, kyk op die horlosie en besluit dis tien minute voor my skof begin. Ek trek toe warm aan en meld aan vir diens, net om te verneem dis toe eers 02h00, ek het nog 'n uur van rus oor.

Gmf.

Na my skof gaan slaap ek toe tot so agtuur die oggend. Renier is besig met sy visgerei se voorbereiding. Nie te lank nie, toe is daar breiwerk op die tol lyn, wat lyk asof die katte daarmee gespeel het. 'n Uur of wat later is dit uitgesorteer en die kuns-aas word uitgesit. Renier is nog besig om te vertel hoe mens nou geduld moet gebruik, dit vat soms twee dae voor jy iets haak, toe sing die katrol. Dis toe 'n bonito van so agt kilogram.

Na 'n kort gesperk word daar besluit om die vis te hou en ek moet viskerrie maak.

Viskerrie
Bestanddele

1 koppie rys
½ koppie bruin lensies
1 blik klapperroom
1 blik ertjies
1teelepel knoffel (en gemmer)
2 teelepel groen masala
1 teelepel heel koljander
1 steranys
1 teelepel heel komyn
1 tee borrie
2 teelepel vismasala poeier
1 stukkie kaneelbas
4 kerrieblare
4 kardamompeule
1 ½ medium ui (of 1 grote)
½ soetrissie (green pepper)
1 klein brandrissie
½ t gemaalde komyn
500g vis in klein blokkies gesny
sout

Metode

Maak 'n klein koevert van aluminiumfoelie en plaas die gemaalde speserye daarin.
Kap die kardamompeule fyn en en braai dit tesame met die ander heel speserye en die koevert gemaalde speserye in 'n droeë pan.

Verwyder die koevert gemaalde speserye sodra die speserye se geur uitkom.
Voeg nou 'n skeut olie by die heel speserye in die pan en braai nou die uie, soetrissie, brandrissie en ander nat speserye tot die uie deurskynend is.

Voeg die klapperroom en die water van die ertjies by, asook die res van die speserye in die koevert. Die kerrieblare kom ook nou by.

Prut die sous totdat dit mooi deurgekook is en voeg dan die rou vis by. Prut die volledige dis tot die vis gaar is en voeg dan die ertjies by. Prut tot alles deurgekook is en haal dan van die hitte af om te rus. Sout na smaak.

Kook die rys en lensies tesame. Verwarm die vis-dis eers wanneer die rys gaar is en dien dan op.

En siedaar, Renier eet vis wat hy gedink het is goor en wou teruggooi!

Volgende keer sal ek meer kaneel en kardamom insit en minder komyn. Die dis sal dan effe soeter smaak met minder byt.

Ons het vandag vir langer wakker gebly en begin kaartspeel. Meer sosiaal verkeer. Dit was 'n lekker warm dag.

Daar was ook 'n paar tegniese lesse. Die boot het 'n magnetiese vloedhek kompas wat saam met die stuuroutomaat werk. Die sensor is reg onder die werkoppervlak in die kombuis. 'n Skroewedraaier op die werkoppervlak het die kompas heel deurmekaar gemaak. Dieselfde vir enige metaalvoorwerp op die werkoppervlakte, inklusief potte, ketel, blikborde, messegoed en blikkieskos. 'n Groot caveat. Die boot het amper in die rondte gedraai.

Die ander les was die enjinolie. 'n Koue enjin wat jy aan die gang sit, hou al die olie terug. Jy sal smaak die enjin het nie olie nie. Laat loop maar die enjin warm en wag dan so tien minute voor jy die olievlakke nagaan. Anders gaan jy groot skrik!

Vandag was ook 'n verdere mylpaal vir my.

Ek kon vir die eerste keer op die reis twee sonlesings met die sekstant neem.Ek sal later die berekeninge doen en ons posisie op die kaart aanstip. Dis die begin van my navigasie praktiese oefening en behels die toepassing van matriek-vlak driehoeksmeting.

Ons is nou al oor die halfpadmerk na St Helena, tans so knap noord van die Valdivia-banke. Dis 'n ondersese gebergte wat die see heel vlak maak en wat groot golwe en 'n deurmekaar see tot gevolg het. 'n Plek wat mens liefs vermy.

Die wind waai betreklik bestendig suid-oos teen so agtien knope met vlae na 25 knope. Die see is redelik plat, met die gevolg dat ons fluks vorder teen so 6-7 knope. Dit onder slegs die genoa. Die wind waai in elk geval in so 'n rigting dat die hoofseil net die genoa sal blok.

Ek het so pas vir my 'n porsie oorskiet viskerrie gaan opwarm en geëet. Dit smaak lekkerder noudat die geure verder kans gehad het om te ontwikkel. Vir 'n eerste viskerrie-gereg voel ek glad nie beskroomd nie. Die kos smaak hengse lekker en is nie te sterk nie.

Dit het vandag by my opgekom dat dit 'n bestiering is dat ek nie die deeltydse doseerwerk gerky het nie. Ek is duidelik meer in my element hier aan boord as voor 'n klas vol studente. Miskien wel later. Maar nou is dit tyd vir my persoonlike katarsis, 'n reiniging van die siel en die liggaam.



Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Uiteindelik mooiweer

26 November 2011

Aandskof.  Vandag het die son uitgekom en die wind het bestendig gewaai. Die see is kalm genoeg en ons het heeldag geseil. Hopelik hou hierdie weer aan vir 'n paar dae. Dis 'n heerlike ervaring om net die see te hoor. Die stuuroutomaat (“autopilot” vir dié van ons waarvan die Afrikaans gebrekkig begin word.) raas maar min. Ons luister na Mozart en Maria Callas, so tussen die geluide van die wind en die see. Dis 'n rustige atmosfeer by uitnemendheid.

Almal aan boord is duidelik in 'n beter bui en die algemene gemoedstoestand is lekker positief en opgewek. Dis nie lekker om vyf dae lank te stamp en skud in 'n gewldige see en amper stormwind nie. Mens slaap nie juis goed nie en dit maak almal maar effe knieserig.

Ons sien maar min seevoëls en tot dusver geen visse of ander seediere nie. Wel 'n paar stukke seebamboes wat saam met ons uit die suide moes kom.

Ek het verder studeer in die sterre-navigasie. Dit staan nêrens in die boek nie, maar sterrenavigasie werk dieselfde as gewone kusnavigasie: Mens het minstens twee, maar verkieslik drie peilings nodig om jouself te posisioneer.

Die tabelle help om die korreksies aan te bring om te kompenseer vir tyd van die dag, jaar, hoogte bo seevlak en parallaks vir die son. Ten minste verstaan ek dit.

Ons het vandag vir die eerste keer op die reis sonder truie en windjekkers geloop. Dis nogal 'n groot verandering. Mens sal glo die liewe Here het 'n skakelaar gegooi om die weer te verander.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Tamatiebredie

25 November 2011

Die wind het effe bedaar, die see het beduidend bedaar. Dis my eerste beurt om skottelgoed te was en op te ruim. Ek gebruik maar die veiligheidsharnas en sit wanneer ek oorboord werk. Mens is nie meer so rats soos in jou jeug nie. Die skipper dring telkens aan dat ek moet vasmaak. Ek hoop nie dis 'n “downer” nie, maar 'n opregte omgee vir sy bemanning. H ymaak nie so met Driekus nie, maar dan ìs ek die oudste.

Netnou my eerste sonhoek gemeet met die sekstant. Sal later vandag weer 'n lesing neem en dan begin berekeninge maak.

My handskrif is duidelik beter, waarskynlik oor die kalmer see.

Aandete: Tamatiebredie

400g blokkies beesvleis
1 blik tamaties
1 koevert tamatiepasta
½ t heel koljander
½ t heel komyn
1 steranys
3 korrels allspice
stukkie kaneelbas
1 groot ui, gekap
½ soetrissie, gekap
1 klein brandrissie, gekap
2 eetl sojasous
1 eetl maizena
1 pakkie smash
1 blik soetmielies
ryssslaai met mayonnaise en 1 gekapte ui
1 eetl botter

Metode:

Bak die droeë speserye in 'n droeë pan tot dit geurig word. Verwyder van die stoof en hou eenkant. Gooi 2 eetlepels olie in die pan en braai die vleis tot bruin. Verwyder die vleis en hou eenkant om te rus.
Voeg nou die droeë speserye, gekapte uie, soetrissie en brandrissie by bietjie olie in die pan en braai tot die uie deurskyn. Voeg die tamatiepasta en die geblikte tamatie by. Prut nou die sous tot dit deurgekook is en die geur deurkom.

Voeg nou eers die vleis by en prut tot alles deurkook. Maak die sous dik met maizena en skep op.

Jy kan die smash maak met bietjie botter. Ek het die knoffel vergeet in die hoofdis, Die manne het hulle vingers af geëet. Die toertjie met die vleis uithaal en laat rus, werk. Die vleis word sag in die rustyd.

Vingers af eet beteken die manne het elkeen twee rondtes geëet. Ek vat lank om die kos te maak, maar dis in die aanloop. Al die speserye is in hulle pakkies en dit moet eers oopgemaak en herverpak word .

Maar dit bly die moeite werd.

Die lewe is te kort oom afskeepkos te eet.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Perspektiewe

25 November 2011

Einde van my middagskof. Die wind het effe afgeneem. Dit waai nou 20 knope met vlae van 25 knope. Die see is ook platter. Die 5m golwe kom nou net so elke twee minute. Maar ons lyk steeds soos karakters uit “Dinner for One”; steier rond soos die arme lyfeiene in die eenakter.

Ek het iewers in die nag uitgevind wat beteken genoeg slaap. Jy kan nie slaap uitmis tussen skofte en dink jy gaan sterk wees nie. Dit vang jou op subtiele maniere. Jy steier meer rond, dan dra jy maar jou veiligheidsharnas. Jy maak ook oordeelsfoute omdat jy vergeet jy's nuut. Dan doen jy simpel goed op eie houtjie instede van om te vra of te dink.

Soos rondsteier met 'n skerp mes in die hand.

Gelukkig is daar engele wat oor ons waak en, in Nataniel se woorde, vir jou vertel as jy droogmaak.
Mens se emosies raak ook op hol so in die allenigheid op die brug wanneer jy moeg is. Jy raak ook gou nukkerig en sommer moerig. Maar die ergste is die spoke in jou kop. Die spoke wat deur jou ego opgejaag word.

Hierdie spoke vertel jou jy het aangejaag en die see gaan jou verswelg. 'n Ander spook fluister in jou oor dat die mense by die huis nie vir jou omgee nie, hy saai twyfel in jou gemoed. Ook twyfel oor jou toekoms.

Ek kry die idee dat die groot toets van reise soos hierdie een meer gaan oor die bou van 'n mens se karakter as oor die fisiese ontbering.

Dis nogal 'n skuif in perspektief.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Kosmaak en sterre-navigasie

24 November 2011

Dit was toe my beurt om kos te maak gisteraand. Spaghetti bolognaise. Met penne-pasta. Dit wat net 20-30 minute neem in jou kombuis by die huis, neem meer as 'n uur aan boord in 5m deinings. Die stoof kook ewe vinnig, maar mens val so half dronkerig rond en steier. En dan moet jy versigtig wees met daai skerp mes waarmee jy die uie kap. En moenie in die stoof val nie.

Die wind waai steeds 25-30 knope. Renier het die seil heeltemal opgerol, nou motor ons. En ons surf teen die deinings af. My rekord is 9.5 knope om 01h30 in die nagdonkerte. Drikus se rekord bietjie later is 15 knope.

Dis nogal skrikwekkend in die begin, hierdie gesurf in die middel van die nag. Jy weet nie wanneer dit gaan gebeur nie. Tot dit begin. Dis vreesaanjaend in die begin. Later, wanneer jy dit gewoond is, dan wag jy daarvoor en voel afgehaal as 'n groot golf verbykom en die boot wieg net so op en af en effens heen en weer.

Ek is nou heel vas in die roetine aan boord; 3 ure aan diens, 6 ure af. Slaap wanneer jy wil, behalwe aan diens. Die ander twee het i-pods, iPads en mp3 spelers. Luister musiek met oorproppe. Ek gebruik die skof vir bepeinsing, veral in die nag. Sal 'n boek lees of studeer wanneer die weer bedaar het. Nou is dit onrustig.

Eerste sekstantlesing

Venus: 14º 15.4'
Tyd: 18:28:25 UT
Datum: 2011-11-24
Ooghoogte 3m

Check: Boot GPS
28º 44.8 S
014º 04.04'E

Hs = 14º 15.4'
Dip korreksie (3 m) = -3.0'
dus Ha = 14º 15.4' – 3.0' = 14º 12.4'
Hoofkorreksie (uit tabel A2/2011) = -3.8' + 0.1' = -3.7'
dus Ho = Ha + korreksie
= 14º 12.4' – 3.7'
= 14º 08.7'

QED 

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Onderweg



23 November 2011

Die oggendskof sien my uit die bed om 04h30. 'n Uur te vroeg. Skipper giggel, toe gaan slaap ek weer. Darem die daeraad ervaar. Toe ek aanmeld om 05h45 is die son reeds uit. Die wind het deur die nag bedaar, toe moes ek die enjin gebruik. Dis maar goor met die gedreun. Maak gou-gou die dek skoon van my tee wat omgeval het.

Maak 'n koppie tee op my nagskof, toe val dit om. Herhaal toe die hele prosedure: Gas oop, gasklep aan, stoof aan, water op. Wag vir water om te kook, gas toe, gasklep af stoof af. En so aan. Renier kom wys hoe om water uit die see te skep sonder om in te val, toe was ek gou die tee van die dek af voor dit vlek.

Ek eet beduidend minder as normaal. Die draaikolk in my maag het seker iets daarmee te doen. Vanoggend is die draaikolk weg. Vanaand sal ek 'n stewige maaltyd moet eet. Ek hoop die see bedaar 'n bietjie. Dan hoef mens nie die heeltyd vas te hou met een hand en jou belly-button nie.

Ons is nou iewers op reis na Luderitz, parallel met die kus. So om en by 80 seemyle van Saldanha af. 

Die laaste sien van die land was die weerkaatsing van die lig van Kaap Columbine se vuurtoring teen die wolke.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Kaap wegtrek

-->

21 November 2011

Trek weg uit Kaapstad na vele wedervaringe. Die boot is laat afgegee, toe is daar 'n gaslek.Gaslek reg, wat van die pap battery? Battery kort behoorlike laai. Toe 'n tweede gaslek.Die keer maak ons dit self reg. Maar die dag is daarmee heen. Dis vieruur. Skipper wil nie die reis begin met 'n nagseil nie, toe bly ons oor.

22 November 2011

Opstaan, opstaan, dis 'n nuwe dag. Laaste stort aan wal en 'n vinnige, staande ontbyt, toe is ons reg.
Skipper neem eerste skof tot 12h00, toe is ek in bevel.

Terwyl Tafelberg agter ons verdwyn kom groet 'n hele skool walvisse ons.Wat 'n belewenis! Sien ook Dasseneiland se vuurtoring aan vir die mas van 'n seilboot. Kom toe wel later agter dis 'n vuurtoring, hy gaan nie uitdraai nie.

En toe is my eerste skof verby. Reguit bed toe, 21h00 begin my volgende skof.

Dis nag en gedeeltelik bewolk. D ie wind waai teen 24 knope met vlae van 30 knope. Skipper rol 'n hele klomp seil op. Toe seil ons nog steeds teen 7.5 knope.

'n Groot vragskip steek ons verby van agter af. Eers net 'n liggie wat kom en gaan op die horison, toe 'n stel ligte wat herkenbaar is. Op pad die donkerte in.

Daarna 'n skip wat uitdraai van voor af. Basiese seemanskap. Of miskien iets te doen met die groot vragskip langs ons.

En toe is my eerste nagskof ook verby. In 28 knope wind en 5 meter deinings.


Authored by Johan Zietsman 

Voorbereiding vir die Tortola reis

 
17 November

Die storie begin eintlik op 7 November: VSA visum:

Vul aanlyn vorm in. Vergeet om alles klaar te maak. Word teruggestuur deur die ontvangs. Moet nog die regte foto ook kry.

Sit en klets met mej Cronje (Ek het haar naam vergeet in die harwar van die oomblik.) Lekker lank gesels.
Sy is toe op pad Amerika toe om op 'n golfbaan te gaan werk vir ses maande. Baie gelukkig, tot ek haar vertel wat ek gaan doen. Dit kom toe uit dat sy 'n waterfiets-lisensie het. Toe sy uitvind hoe maklik dit is om 'n seiljag-lisensie te kry was sy nou eers vies.

Ons gaan 'n boot aflewer; 'n 46' (11m) Leopard katamaran, Kaapstad na Tortola in die Britse Maagde-eilande.

Maar nou bly ons in die waterfront, Kaapstad nadat alles goed afgeloop het. Die boot is reg, ons kort watervoorraad en diesel, asook die restant van die kos. Ons wag ook vir die boot se registrasie- en oorhandigings-dokumentasie. Dis nodig om te kan uitklaar by doeane en immigrasie. Daarna mag ons vertrek.

Skipper: Renier Grobbelaar, ongeveer 40 jaar oud
1e offisier: Drikus de Wet, 31 jaar oud
en ek, bemanningslid Zietsman, 57 jaar oud.


Authored by Johan Zietsman