Wednesday, 18 January 2012

Maalvleiskerrie en die rustigheid

2011-12-07 00h25

Dit was gisteraand my kookbeurt. Ek het vooraf beplan vir maalvleiskerrie.

Maalvleiskerrie
Bestanddele:
400 g maalvleis
5 klein aartappels, in dun blokkies gesny
1 blik tamaties
1 blik ertjies
1 groot ui, gekap
¼ soetrissie, gekap
1 telepel knoffel
1 eetlepel kerriepoeier
1 eetlepel nat masala
1 klein brandrissie, gekap
¼ teelepel heel koljander korrels
1 telepel garum masala
½ teelepel fyn komyn
¼ teelepel heel komyn
3 kardamompeule
¼ teelepel anyssaad
1 steranys
Stukkie kaneelbas
Sout
3 korrels wonderpeper (allspice)
1 eetlepel maizena
½ koppie bruin lensies
1 ½ koppie rys

Metode:

Braai die droë heel speserye in 'n droë pantot dit verbruin. Voeg 'n skeut olie by en vergaar verder in die olie. Voeg die maalvleis by en bak tot alles mooi bruin en deurgebraai is. Verwyder van die pan en hou dit eenkant om te rus.

Gooi weer 'n skeut olie in die pan. Voeg die uie, soerissie, brandrissie, en knoffel by. Prut tot die uie deurskynend is. Voeg die res van die speserye by en prut tot dit deurgekook is. Wees versigtig om nie die droë poeier-speserye te brand nie. Voeg die tamaties by asook die aartappels. Prut tot die aartappels amper gaar is en voeg dan die ertjies by. Prut to alles deurgekook het en voeg dan die vleis weer by. Prut tot alles gaar is en voeg dan die garum masala by. Verdik die sous met die maizena.

Kook intussen die rys en lensies saam. Die lensies gee lyf aan die rys.

Dien op wanneer alles gaar is.

Hierdie metode neem maalvleiskerrie in 'n ander dimensie van kulinere genot in. Die geure is net meer opvallend en die dis is baie vullend. Die resep hierbo is ook nie te sterk nie.

Die manne het weer elkeen twee rondtes geëet. Ten spyte daarvan dat ek die rys en lensies amper te rou opgedien het. Ek het self so pas 'n klein porsie geëet op 'n sny brood. Net so vir 'n middernagtelike versnaperinkie, sien. En was dit nou lekker!

Ons is almal bly om weer aan boord te wees en aan die gang. Dis asof die land nie meer so erge aantrekkingskrag het nie. Vir my in elk geval. Die lewe aan boord is beduidend minder burokraties.

Op die oomblik is ons besig om te motor, daar is geen wind nie. Die maan is amper vol en sit reg bo ons. Dis gedeeltelik bewolk en die lig op die see is baie romanties. Jy sien 'n ligbaan van maanlig op die water en die hele see om jou is so mooi donker kleur. Jy kan selfs die horison behoorlik uitmaak.

Dis vanoggend helder genoeg om 'n paar sterrelesings te neem, as dit nie vir die wolke was nie. Miskien wel later. Ek het die observasie reduksie-berekeninge nou onder die knie en is heeltemal in staat om op grond van sonlesings en “dead reckoning” myself te plot. Nou is dit 'n kwessie van maan- en sterrelesings en die verwerking daarvan.

Ons het gister heeldag 'n kunsaas gesleep, maar weereens niks gevang nie. Ek het darem op my diensbeurt gister 'n bietjie beweging in die water gesien. So 'n vinnige kol spatsels, soos wat 'n skool klein vissies maak as 'n groot vis hulle jaag. Dis darem iets.

Een van die dae sal ons begin om die staalwerk op die boot skoon te maak. 'n Mens staan verstom oor die mate van roes wat reeds sigbaar is, slegs twee weke nadat die boot te water gelaat is. Dit klink darem of dit nie 'n lewensroeping-tipe taak is nie.

Intussen is ek steeds besig om gewig te verloor. My knie is ook reg en ek het nie meer 'n probleem met 'n sinus-drup nie. My enkels swel ook glad nie op nie. Maar ek was redelik uitasem na ons bietjie vinnig die bult op geloop het in die dorp op St Helena. Dit lyk of die luilekker lewe op die boot 'n groot duik maak in mens se fiksheid, veral ten opsigte van hart- en long oefening.

Die gebrek aan kardio-vaskulêre oefening is waarkynlik nietig vergeleke met die positiewe effek van lae stres, baie rus en geen alkohol nie.

Dis interessant, maar daar word niks aan boord gedrink terwyl ons ter see is nie. Ons sal iets neem vir Kersfees en dan wanneer ons weer land kry en anker of vasmeer. Dis waarskynlik uit hierdie gewoonte dat jotties 'n reputasie kry van drinkelaars; Almal sien hulle drink aan wal. Behalwe die hard-core Vaaldam-sailors natuurlik. Hulle vat 5c se brood en R10 se drank aan boord, nogal.

Maar die manne sal vir my sê TMI: Too Much Information.

Ons praat nie daaroor nie.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Navigasie en wasdag

2011-12-07 12h20

Ek het gisternag my eerste vlieënde vis gesien. Dis nou nadat hy my op die brug teen die been geklap het. Ek het my half simpel geskrik.Soveel so dat ek hom summier van die dek af geskop het en skoon vergeet het om 'n foto te neem.van die ou vissie van so 15 tot 20 cm.

Mens skrik jouself bedinges wanneer daar so gevaarte hier uit die donkerte jou klap. Waarskynlik is die slagoffer se reaksie skreeusnaaks, maar op daardie oomblik is dit 'n uitmergelende ervaring.

Ek het nogal baie studeeer in die sterrenavigasie en het begin agterkom waar lê my foute. Dis beide in my lesings en in die lees van die tabelle. Dit moet omsigtig gedoen word en nie met haas nie. En daar is 'n paar lesse

  1. Bevestig die kalibrasie van die sekstant telkens voor elke lesing.
  2. Gebruik groot hoeke om 'n plot te doen. Klein hoekies veroorsaak groot foute in posisie.
  3. Maak seker dat jy die korrekte tabelle tabelle in die almanak en reduksietafels gebruik.
  4. Maak seker jou berekeninge is in die regte rigting. Let op die teken en in watter halfrond jy werk.
  5. Gebruik lang basislyne vir dead reckoning, anders kry jy klein hoeke.

Ek begin verstaan watter korreksies waar gebruik word. Die oorwegende faktor is om presies te werk met opsoektabelle en berekeninge. Die proses oorheers alles; wanneer dit gesnap word is navigasie kinderspeletjies van daar af.


Dit was vandag 'n baie “stadige” dag. Byna geen wind nie, gedeeltelik bewolk, plat see, geen voëls of visse nie. Renier het darem dolfyne gesien op sy skof, die res van ons niks. Dit was nog koel en 'nmens trek nog warm goed aan vroeg in die oggend. Dis tyd dat dit bietjie warmer word, dan kan ek my bedlinne, truie en langmou T-hemp was. Hulle is teeen hierdie tyd bietjie hengse vuil.
Tussen die seelug, wat tans droog is, en die soutwater waarmee ons die dek afwas raak mens se vel nogal baie droog en skurf. Ek is bly ek het 'n familiegrootte bottel lyfroom saamgebring. Dit kom heel handig te pas..

Ek het nou gaan sekstantlesings neem van die maan en Venus. Dis nogal 'n uitdaging om die sekstant te gebruik in die helder maanlig. Die maan verblind jou en al die sterre is dan maar dof. Ek sal sterrelesings neem wanneer die maan bietjie weg is. Nou is dit kompleet soos 'n verligte straat in 'n gegoede woonbuurt; alles is gebaai in so silwer lig.

En so motor ons voort. Soos 'n stadige kar deur die Karoo. En al die dae is dieselfde en al die nagte is dieselfde. More gaan ons roes afhaal. Dit klink my dis so uur of wat se werk. Dan behoort die boot weer spiekeries te lyk. Daar is nou beduidend minder dieselkanne op die agterdek. Ons het hulle leeggemaak in die brandstoftenks en die leë kanne vir die watertaxi-drywer op stHelena gegee. Ek reken die laastes sal weg wees met die volgende aanvulling van die brandstoftenks.

Terug by die skoonmakery. Daar is tandeborsels aangekoop op St Helena. Dis nou vir die klein hoekies en gaatjies se roes. Klink bietjie soos diensplig, net anders. Ou toppie Ziets wat met 'n tandeborsel die boot se staalwerk bykom! Nogal 'n treffende beeld, so in 'n mens se gedagtes.

Ons het vandag ons horlosies 'n uur teruggestel, want ons is nou in die volgende tydsone wes van Greenwich. Ons seil so teen 140 seemyle per dag. Dis die ekwivalent van so bietjie meer as 2º op die ewenaar. Ons is op 15º suid, so ons kruis meer grade as dit. Maar ons seil nie reg wes nie, meer wes-noordwes. Dit gee so 2º/dag inkrement, wat rofweg vertaal na sewe dae vir 15º lengtegraad op die ewenaar. Dit beteken een uur tydsone-verskil elke week wat ons seil.

Ons verloor nou tyd, maar maak dit weer op wanneer ons vlieg. Dan skop die “jet lag” in. Mens wonder of die opgepotte rus kan help met die “jet lag.” Ek kan gelukkig heeldag slaap om te herstel daarvan.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Vertrek uit St Helena

2011-12-06 11h00

Ons het so uur terug anker gelig en vertrek. My ervaring van Jamestown is maar so-so. Niks om oor huis toe te skryf nie. Die dorp is 'n historiese gedenkwaardigheid. Die enigste kontak met die buitewereld is die RMS St Helena, 'n skip wat elke ses weke tussen kaapstad en st Helena reis en twee keer per jaar na Brittanje. Daar is darem telekommunikasie en die internet is nie te vrot nie, hoewel duur.

Vandag is warm en gedeeltelik bewolk. Ek dink ons gaan hiervandaan bly wees vir 'n bietjie reën as lafenis. Die warm klere is opsy gesit. Ek sal later my flennie-top uitwas hy het dit nodig.

Ek het lekker met Carol gesels. Sy klink heel OK. Die katties tuis klink alte kontant. Daar is 'n hele klomp katte op die eiland, meesal wilderig. Die hoteleienaar voer twee van hulle. Die twee lyk heel goed, lang bene, maerderig, maar 'n mooi blink pels. Hulle wou nie kom groet nie, staar mens net so half agterdogtig aan. Maar daar was darem 'n een kat wat vriendelik was vanoggend in die dorp. Kom so ewe en skuur en loop toe verder stert in die lug. Herinner nogal aan kyla, net donkerder maar ewe bont. 'n Gawe afskeidsgroet van die eiland.

Nou sien ek uit na die volgende been van die reis. 28 dae tot by St Maarten. Ons hoop om betyds te wees vir nuwejaar op Barbados. Indien wel sal ons daar stop. Anders is dit reguit deur tot by St Maarten en ons is dan beide Kersfees en nuwejaar ter see.

Navigasiegewys is ons alreeds in die westerse halfrond. St Helena lê op so 5° westerlengte. Ons sal die ewenaar oorsteek so oor 18-20 dae, net noord van Brasilië. Ons het reeds 1800 seemyle agter die blad met nog 4000 wat oorbly.

Nagure gewerk tot dusver: 36
Totale ure aan diens: 66

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

St Helena

2011-12-05 ST HELENA

Ons het vandag voet aan wal gesit op die eiland. Dis n heel middeleeuse dorp. Jamestown. Omtrent 3000 mense op die eiland. Lyk of daar erge Maori en Australiese Aborigine- invloed op die eiland is, geneties gesproke.

Ons het reeds gister aarriveer, maar moes wag vir doeane. Die Radio St Helena-mense kon nie hawebeheer in die hande kry nie, toe moes ons wag. 'n Hele middag verspil. Baie swak toerisme-beleid.

Die dorp is heel interessant. Jy stap van die hawe af deur 'n poort in 'n fortmuur om in die dorp te kom. Dit voel kompleet of jy deur 'n tydhek stap terug in die geskiedenis in.















Die winkels het nie juis veel om die lyf nie, meeste lyk of hulle 'n oorlewings-bestaan voer. Die mense is maar aan die arm kant, maar lyk nie juis ondervoed nie.

Ek sal moet Jack Daniels koop, daar is nie eers Bell's whiskey op die rakke nie, vergeet van enkelmout. En die goed is vrek vrek duur as gevolg van die Britse belastingstelsel op alkohol-inhoud. GBP 28.90 vir 'n bottel Jack Daniels. Ek het dit maar gelos.

Die plaaslike kos is maar so-so. Hulle aartappels word ingevoer. Baie vis, spesifiek roofvis, beskikbaar. Marlyn, tuna, swaardvis, saagvis, bonito, dorado. Min ander vis. Niks stokvis of snoek nie, dis Kaapse vis.
Ek het geld geruil uit my kredietkaart. GBP50. Transaksiefooi GBP2.50. Ek wil nie eers weet watse duik dit in my kredietkaart maak nie.
GBP6.30 vir 'n uur se internet-toegang. GBP12.60 vir twee ure. Maal met 15 om dit mooi af te rond. Dan kom jy uit by R200. QED. Ten minste het ek met Carol en Ewald gesels, al was dit onderbreek deur rekenaars wat hang en Carol se stokkie wat uitbom.'n Hele uur gesels. Dit was lekker. Ek het ook my joernaal-transkripsie oorgestuur met 'n paar fotos.

Die eilandmense is vriendelik, maar dis lekker om terug te wees aan boord. Dit voel na tuis wees.

Die SMS boodskappe deur die Iridium-satellietfoon werk, ek kry Carol se boodskappe.

Ons het lekker gesels met die eienares van die Consulate Hotel. Sy kom van Maun in Botswana. 'n Vuurvretermens. Sy het aangebied dat ons drank deur haar koop, dan kry ons dit teen groothandel-pryse. Sy was erg opgetrek oor ons aan boord moes bly oor burokratiese luiheid en reken sy gaan amptelik kla daaroor. Sy vertel van 'n ander boot wat op 24 Desember aangekom het, toe moes die mense Kersfees aan boord bly oor dieselfde nonsens.

Sy het ook vertel dat daar 'n kontrak gesluit is vir die bou van 'n lughawe op die eiland. Messrs Basil Read het die kontrak gekry. Ek dink om hulle te kontak , dis 'n 3-4 jaar projek en kan prdallks so ietsie daar verdien. Daarna kan ek behoorlik aftree en permanent seil.

Ons het gisteraand al my enkelmout whiskey (Jura) opgedrink en meeste van die Black Bottle (Hostile takeovers, no lawyers). Die manne hou nie daarvan nie, so ek reken ek sal maar daarvan saamneem op die volgende reis.

Ek moet erken ons het lekker gekuier gister. Kaart gespeel, toe later, na sononder, op die trampolien voor gaan lê en slimstories kwytgeraak. Klomp waarhede het ook uitgekom, nie vir publikasie. Nog spoke, ook in die ander mense se koppe, is nou weg. Nou is almal se maskers weg en ons is blootgestel aan mekaar.

Ek reken dis 'n goeie roep vir die been wat voorlê. 28 dae. Dis goed om 'n slag stoom af te blaas.

Maar daar het ook 'n paar waarhede uitgekom. Drikus se seksuele voorkeure was 'n ongemaklikheid, Renier en ek was beide bekommerd oor die ander se reaksie. Dis weg, en ons kan almal oor en weer skerts per geleentheid. Die manne sien ook om na my welstand. Ek kom agter dat hulle die meer fisiese en moeilike takies op hulleself neem.

Maar ek weet dat ek my kant sal moet bring met die skoonmaak van die staalwerk!

Ons het nie wagbeurte hier terwyl ons voor anker lê nie, dus kan ons 'n hele nag deurslaap. Mens vergeet hoe dit voel. Ook die wereld wat nie wil stilstaan nie. Vaste aarde is 'n heel ander konsep as jy eers twaalf dae op 'n boot was. Dit voel snaaks om land te sien, wat nog van rondloop daar.

Maar nou is dit tyd om te gaan slaap.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Monday, 16 January 2012

Frikkadelle, squalls en Cindy Lauper


3 Desember 2011

Dis nou net so na 00h00 op Saterdag. Die wind het heeltemal gaan lê vroeëer in die nag, nou motor ons. Die “squalls” is weg. Mens moet wakker sit as die squalls kom wanneer jy seil. Die wind kom skielik op en dis koud. Ek het die rekord squall. Die wind het binne vyf minute verander van so 12 knope na 35 knope. Ek moes vinnig die seil inrol, anders was daar perde!

Die lewe is amper luilekker wanneer die wind matig en bestendig is en die see kalm. Dan is ons meesal almal wakker hier van drie-, vieruur af in die middag, selfs vroeër. So het ons vandag so van eenuur af na Cindy Lauper geluister waar sy jazz sing. Haar sterk stem het mens sommer meegesleur en 'n baie rustige atmosfeer geskep.

Dit was weer my beurt om kos te maak.


Frikkadelle, wortels, skorsies en aartappels

Bestanddele:
400g maalvleis
2 snye brood, fyngemaak
9 klein aartappels
3 skorsies
½ ui, fyngekap
¼ soetrissie, fyngekap
1 klein brandrissie, fyngekap
knypie knoffel
sojasous
2 eiers
varsgemaalde swart peper
suiker, sout, botter
Maizena (of koekmeel)
1 bees of groente-ekstrak blokkie
6 geelwortels
kookolie

Metode:

Meng die vleis, brood, uie, soetrissie, eier, knoffel en 'n skeut sojasous baie deeglik. Voeg varsgemaalde swart peper by en 'n bietjie sout na smaak. Onthou die sojasous is ook sout.

Verhit 'n skeut olie in die pan. Maak nou klein bolletjies van die vleismengsel, rol dit in die maizena en bak dit in die pan tot die meel mooi bruin word. Verwyder van die hitte en laat rus.

Kook intussen die wortels in vars water. Ek het hulle net grof gesny. Stowe die aartappels tesame met die gehalveerde skorsies.

Gebruik die water van die wortels as basis vir die sous, tesame met die vleisblokkie.

Braai die brandrissie in die pan tesame met die sappe van die vleisbolletjies.. Voeg die sous by en prut tot gaar. Voeg dan weer die vleisbolletjies by en kook deur.

Jy kan nou opdien. Ek het die aartappels net so in die skil opgedien en die skorsies met met botter en suiker. Nadatt ek die wortels se water gebruik hetvir die sous, het ek 'n bietjie suiker by die wortels gesit.

En daar is my ete. Alles vars kos.

Ek het vandag weer 'n sonlesing geneem. Dis nou so tussen die wolke deur. Ek begin om hierdie joernaal oor te tik in in elektroniese vorm. Dan het ek iets om aan te stuur per e-pos. Ek sien nogal uit na die oorstaan op St Helena. Ons is nou so 200 seemyle weg en behoort teen more (Sondag) middagete daar te wees. Ek wonder of ek nog reguit kan loop! Ek sien nie juis uit na die kos aan wal nie. Ek vermoed ons eet lekkerder aan boord!

Ek het 'n skaakbord gemaak uit 'n vel viniel en maskeerband. Dit lyk goed en is waarskynlik heel duursaam. Ons sal maar sien hoe dit werk en of dit lank gaan hou.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Gewigsverlies en fosforligte in die water


1 Desember 2011

Ek het vandag met Carol kontak gemaak per satellietfoon. Dit was aaklig. Twee minute is gou verby. Die kommunikasie was swak, beide vir die mense en ook die elektroniese kanaal. Die kanaal was hakkerig en en stemme onderbroke. En die gesprek was in kort woorde.

Kort woorde dra nie juis veel inligting oor nie, dus wag ek maar vir die WiFi fasiliteit op St Helena. Hierdie poging was teleurstellend en ek sal nie weer dit probeer nie. Ek kon darem die boodskap deurkrydat Carol my kan sms op die boot via die internet.

Driekus het vandag weer kos gemaak. Hy het vis gebraai, in meel gerol en diepolie. Die vis is toe bedek met 'n glasuursous van kerriepoeier, gebraaide uie en suikerwater wat hy gekook het tot dit dik word. Dit smaak uitmuntend en is 'n variasie op die roerbraai vark en hoender wat ek tuis berei. Die vis was bedien met aartappelslaai. Lekker!

Ons het vandag ons eerste “squalls” gekry. Dis los reënbuie wat met 'n sterk wind geaard gaan. Behalwe dat die windvlae nie juis sterk was vandag nie. Ek het genoeg son gesien om weer twee lesings met die sekstant te neem.

Voorts het ek my van my bestaande lesings verder verwerk en geplot. Die resultate wissel van hengse akkuraat tot middelmatig. En ek het nog baie oefening nodig om akkurate sekstantlesings te neem.

Vandag het ek my broek nog so 'n versie stywer vasgemaak. Ek verloor hengse baie gewig. Of so voel dit altans. Ons eet net een behoorlike ete per dag en die res van die tyd is dit elkeen vir homself. Ek het gisteroggend die reste van die vorige aandete vir ontbyt genuttig. Middagete is 'n grondboontjiebotter toebroodjie of 'n appelkooskonfyt en kaastoebroodjie. Ek het myle te veel versnaperinge en soetgoed saamgebring. Tot dusveer het ek nog net omtrent vyf pakkies goed opgeëet en van dit het my maag ontstel. Mens moet maar versigtig vir droeë vrugte en so aan.

Ons het vandag ons horlosies nog 'n uur teruggestel om aan te pas by die tydsone. Anders kry jy dat dit al agtuur is voor die son opkom. Of anders ruil jy wagbeurte om 06h00 in die pikdonkerte. Dis baie subtiel, maar mens kom die verskil agter. Dit gebeur stadig, dus is jou liggaamsklok in staat om by te hou. Maar ek dink dit gaan woes wees om terug te vlieg met die jet lag en al.

My handskrif is nie juis iets om oor te spog nie, maar mens moet in ag neem dat ek sit op en skryf op 'n boot wat nogal heelwat beweeg, as jy dit nie bokspring wil noem nie. Ek vermoed die beweging is deel van die rede vir die gewigsverlies. Dit bly egter terapeuties om te sit en skryf. So in die ritme van die golwe en deinings, met die geruis van die water om die boot.

'n Terugkeer na tradisionele kunste en vaardighede. Straks Victoriaans as jy wil. Volgende keer sal ek oorweeg om 'n vulpen te bring, maar dan moet ek die bagasie se gewig in ag neem en die bottel ink weggooi aan die bestemming se kant, aleer ek op die vliegtuig klim.

Ons is nou al elf dae op reis en het nog nie een volledige sonnige dag gesien nie. Die weer is besig om beduidend warmer te word, maar ek dra nog steeds 'n kortmou én 'n langmou T-hemp op die brug. In die nag kom my reënbaadjie by. Die ander manne dra al 'n kortbroek, maar ook maar 'n ding wat warm is en die wind afkeer. Hopelik sal die weer nog warmer word binnekort. Die weer is in elk geval meer gematigd as in Kaapstad. Dis iets om oor bly te wees. Ons het groot golwe gehad vir die eerste vyf dae van ons reis. Dit was nie aangenaam nie. Veral nie nadat die avontuur van die nuwe ervaring bietjie afgewerk geraak het nie. Dis maar 'n leerskool waardeur 'n mens gaan.

Ek het vir die eerste keer fosforligte in die water gesien. Dis asof iets die reaksie aan die gang sit, dan flits daar so klomp ligte langs die boot. Ek kon nie uitmaak of dit visse of 'n mikro-organisme in die water is nie. Dis nogal mooi, herinner so bietjie aan 'n klomp kameraflitse by 'n glansgeleentheid, met myself op die verhoog.

Bepeinsinge en sosiale interaksie

30 November 2011

Vandag was dit die skipper se kookbeurt. Ons het varktjops, koolslaai en broek-en-baadjie aartappels geëet. Met Oros koeldrank daarby. Daarna het ons 'n paar potte kaart gespeel. Poenskop. Ek dink dis 'n goeie beskrywing om te sê dis 'n variasie van vreetkaart. 'n Pot duur so tussen vyf en tien minute en daar is min vaardigheid ter sprake. Mens kan die kaarte tel, dit help. Dis lekker sosiaal en ons drie kuier lekker. Dit begin 'n ritueel word elke aand na ete.

Vandag het ek verder gestoei met die sterrenavigasie. Reduksie vvan observasies. Dit knor maar so tussen die onkunde en die verskillende boeke met veelvuldige parameters en tabelle wat geraadpleeg word. Dan eindig elke lesing as 'n enkele lyn op die plot. 'n Leë vel papier met 'n paar lyne en 'n kompasroos word skielik 'n kaart met 'n strepie op. Dis nou die strepie wat aandui waar jy dink jy behoort te wees.

Interessante proses: Mens neem 'n lesing met 'n ingewikkelde instrument, die sekstant. Dan maak jy 'n paar maklike berekeninge en raadpleg dik boeke met baie tabelle en syfers. Daarna gebruik jy die antwoorde wat voortspruit uit jou gewigtige navorsing in die boelke en trek 'n paar lyne op 'n vel papier.

En as jy perdalks die ko-ordinate verkeerd gekies het, is jou plot van die papier af. Dis amper soos om van die plat aarde oor die rand te val. En om jou lê die eindelose oseaan. Jou enigste aanduiding van 'n verskil tussen gister en vandag is die kalender op jou horlosie en die strepie of kruisie op die papier.

Dis nou as jy nie van die aarde afgeval het nie.

Mens wonder soms hoe die seevaarders in die geskiedenis gevoel het sonder 'n horlosie aan boord. Hulle sou sekerlik 'n kalender kon byhou, maar dis altydmeting wat hulle gehad het. Daar was nie eers kaarte nie, so die strepei op dioe papier was waarskynlik weinig meer meer werd as die broodkrummel-spoor uit Hansie en Grietjie se storie.

Dis nou al twee dae bewolk genoeg dat ek nie sekstantlesings kan neem nie. Nogal romanties in die nag, veral as ons seil. Jy kan nie die horison uitmaak nie, alles is swart. Buiten nou die ligkring om die bootse navigasieligte.

Dan sit jy op die brug met 'n windjekker aan en bepeins jou dag en sommer alles wat jou altyd gepla het. Ook veral al die mooi dae en goeie dinge in jou wedervaringe. Dis interessant dat mens se negatiewe gevoelens, die donker gedagtes en 'n hele boel vrese so sommer in 'n paar uur verdwyn.

Vandag het die skipper vlieëende visse gesien. Ek moet nog. Hy reken dis 'n goeie teken, dis 'n aanduiding dat daar roofvis ook kan wees. Ek sien nogal uit om ook so 'n roofvis te vang.

Byvoordele van die werk, nogal. En dis nie belasbaar nie...

Ons is nou reeds 1200 seemyl van Kaapstad af. Net so vier dae weg van St helena, ons eerste stop. Die dae vloei so ineen, dit voel nie soos 'n week of meer op die boot nie.

Ek sien uit na die stop by St Helena. 'n Tydkapsule uit die Victoriaanse era en vroeër. 'n Plek waar tyd stilstaan. 'n klein stukkie land geisoleervan die westerse wereld se geroesemoes. En dit het 'n rol gespeel nog in my eie geskiedenis.

Iewers langs die pad het ek agtergekom dat die ander manne se gedragspatrone normaal is vir vreemdelinge wat vir die eerste keer saamgegooi word. Die vrese wat ek gehad het oor “downers” was in my kop, deel van die menigvuldige spoke wat besweer is. Daar is nie nydigheid of afguns op die boot nie. Elk geval nie tot dusver op hierdie reis nie. Maar die manne kom uit met rillers oor ander reise.

Rillers van meesal boeliebief en tamatiesmoor eet, van heetyd op die brug wees in jou diensbeurt. En van afknouery wat gebeur.

Interessant verder: Ten spyte van 'n voorraad whiskey en bier het nie een van ons nog lus gehad vir 'n dop nie. Miskien het dit iets te doen met die roetine aan boord: daar is gewoon nie tyd daarvoor nie. En aan die einde van jou wagbeurt is mens nie lus daarvoor nie.

Nou dat ons nader aan St Helena kom, wonder ek hoe dit by die huis gaan. Met Carol en die katte en die Volvo. Dit moet al lekker somer wees daar. En ek hoop van harte dat die Volvo nou uiteindelik behoorlik herstel is.

Die katte moet nou al groot wees: een rooi kat, een swart kat en 'n bont wyfiekat. Die rooie sal seker bly wees om weer speelmaats te hê van sy eie grootte.

Ek verlang ook na my vrou en 'n bed wat stilstaan! Hoewel, dis nou deel van die avontuur op die oomblik en ook vir die afsienbare tyd.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12