Google March 2012 | Ziets' Ramblings

Tuesday, 13 March 2012

Somer, son, saffier en 'n terugblik

2012-01-09 17h40



Dis nou Maandag sononder in Tortola. 'n Idilliese aand met die son wat nog skyn agter die eiland se koppe en weerkaats teen die wolke. Daar is net 'n effense luggie wat trek, genoeg om die hitte draaglik te maak.
Almal het 'n middagslapie gevang in die hitte. Dis interessant, daar is steeds die gemurmel van klein stroompies water van oral af om ons. Dit het 'n rukkie geneem om te verstaan dat dit die kondensaat is van die bote om ons se lugversorgers.

Maar dit bly 'n rustige geluid. Ek het nou die musiek aangesit. Klassieke musiek. Rustige goed. Die Aankoms van die Koningin van Skeba. Weereens. Goed, wel, miskien nie so rustig nie. Maar dit pas by die atmsofeer.
Ons het toe die boot oorhandig. Met 'n antiklimaks. Werk ons arms stompies, kompleet met die rekwisiete rugpyn wat daarmee gepaard gaan. En dis onmenslik warm. En toe gee die inspekteur net een kyk en sê die boot is mooi skoon. Darana gaan sit hy en teken papiere vir so veertig minute lank. Daar is rerig baie papiere. En maak kopieë. Voila, einde van die taak. Amptelik.

Ons drink toe maar 'n ekstra bier so ter viering. Maar nog is't einde niet. Pret en plesier om ons terugreis te reël. Die persoon in die Kaap wat dit moes doen het bietjie vergeet. Sy het natuurlik 'n ander storie, maar ek hou van hierdie een en dis my joernaal. En buitendien, ons is die party aan die kortste end. Die skipper bel toe maar die reisagent direk om seker te maak ons kan uitvlieg. Ons kry toe bevestiging van hulle af en toe ook later per e-pos van die verantwoordelike party in die Kaap. So op die einde van die werksdag in die Kaap en minder as 24 uur voor ons op die vliegtuig moet wees. Studente-sindroom in die oortreffende trap as jy my vra.

Dis wyd beskryf in die akademiese literatuur oor statistiek en nie juis moeilik om te identifiseer nie. Dit verstom my dat mense in die normale handel en wandel nog nie meer moeite doen om dit hok te slaan nie. Dit mors geweldig tyd vir 'n firma, met die meegaande verlies aan inkomste. En mens is altyd laat.
Ek het ook lank en lekker met Carol oor die internet gesels, 'n rustige en intieme gesprek. Die gesprek van twee ou getroudes wat hulle emosies en ervarings deel. Dit was vir beide van ons 'n lang skeiding na 'n jaar van trauma, so met Werner se oorlye, die verhuising na die Kaap, my knieoperasie en die heen-en-weer gevliegery tot ek uiteindelik my kennismaand afgewerk het.

Hierdie skeiding was baie duidelik 'n katarsis vir beide van ons. 'n Tyd om alleen te wees met jou emosies en kans om jou siel skoon te kry. Dis nie so slegte ding om te doen nie. Mens het 'n wilsbesluit gemaak en dit deurgevoer. Dit maak altwee sterker en bou aan die verhouding. Dis my gevoel na vandag se geprek met Carol.

Dit is asof die oujaar se trauma afgewas en verbrokkel het, die rowe genees. Nou kyk 'n mens vorentoe na die toekoms met nuwe drome en planne in jou kop, sterre in jou oë en 'n lied in die hart. Hierdie seereis was die begin van 'n nuwe lewe vir my. Klomp ou spoke is besweer, ek het nuwe ervarings opgedoen en nuwe werelddele gesien.

En beleef. Dis glad nie so vreesaanjaend soos wat rusbank-reisigers wil hê nie. Ook glad nie soveel ontbering nie. Bietjie ongemak, ja. Ontbering, ja, bietjie. Baie ontbering as jy die gebrek aan telefoonkommunikasie, koerante, internettoegang, televisie en so aan byreken. Maar die sielkundiges sal dadelik vir jou sê dat al hierdie goed jou net oprui. Verseker is 'n transatlantiese reis nie op almal se boeke of in hulle smaak nie. Een keer per week stort in vars water, behalwe as dit reën. Drie ure aan diens, ses ure af. Ons was drie aan boord. Ses weke lank. Min of meer soos Noag van ouds, ek het dit al voorheen gesê. Twee-en-veertig dae. Dis definitief nie vir almal nie.

Maar hier in Tortola, waar daar baie somer, son en saffier is, is dit anders. 'n Halwe dag seil op platterige water tussen eilande. Dis 'n vakansie-ervaring by uitnemendheid. En glad nie ontbering nie.

Jy is altyd naby winkels, die dokter en die apteek. En lekker vars groente, drie soorte aartappels en 'n paar goed waarvan ek nie die name ken nie. Die boot gee jou die vryheid om te gaan net waar jy wil. Die landskappe is ongelooflik mooi en die mense in die algemeen vriendelik. Jy hoef nie in 'n marina te oornag as jy 'n boot het nie, jy anker in 'n mooi baaitjie en hou 'n intieme en gesellige aand op die water. Met jou baaikostuum of ander min klere aan, dis vrek warm. En gaan slaap dan in jou bed wat wieg op die ligte deining. Niks slange of skerpioene wat jou wil bykom nie en jy kan ver genoeg van die land af wees dat die paar muskiete jou ook nie pla nie.

Ek het die ontbering en ervaring van 'n lang seereis, en toe die openbaring in hierdie paradys. Dis iets om te koester.

More vlieg ons hier uit. Die terugreis het drie bene, vier as jy die vlug van Johannesburg af Kaap toe bytel. Ons sal meer as 26 uur in transito wees. Die heenreis was 6200 seemyle, die terugreis is met 'n langer pad, maar neem net 26 uur.

Die heenreis se ervaring was 'n pad deur jou siel en het jou denke oopgemaak en verbreed. Die terugreis is soos om in 'n hysbak te sit vir 'n dag lank, met so hier en daar 'n interlude waar jy mag uitklim om jou bene te rek.

Ek verkies die heenreis se ervaring en verdra die terugreis se ongemak.

Dit bring my terug na my geliefde.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Monday, 12 March 2012

Tortola, klassieke musiek en 'n enkelmout

2012-01-07 Saterdag

Ons lê en uitspan in Tortola. Vir die eerste keer in baie weke is ek in staat om ordentlik te skryf. Sonder krapstrepies soos die boot rondspring. Maar nou gesels die enkelmout. Glenmorangie nogal. Op 'n amper volmaan aand. In Tortola. Hoe romanties en idillies kan mens wees. Die ander manne het gaan slaap, toe sit ek my eie musiekkeuse op. James Galway se goete. 'n Idille so uit my matriek Afrikaans-onderwyseres se verwysingsraamwerk. Eers mej Swart, toe word sy mevrou le Roux. Nogal. Dit sal interessant wees om haar gewaarwordinge te boekstaaf, sou sy my ervaring deel. Die maan is amper vol, Galway speel die Arrival of the Queen of Sheba. Will she ever arrive? En die mense wat na hulle bote toe stap, waai arms en skree komplimente in die oortreffende trap. Klassieke musiek het 'n nis in hierdie see van calypso-musiek.

Road Harbour marina. Meeste net katamarans

Ek het nou eers 'n pen geruil. Die ou pen skryf nie meer so lekker nie, toe ditch ek hom. Weggooi klink so plat. Vanaand is 'n goeie ervaring. Ons het een liter Glenmorangie opgedrink, tesame met 'n sespak Carib bier. Dis 'n uitmuntende ervaring.
Ons het nie aandete aan boord gehad nie, toe loop ons om Chinese wegneem-kos te gaan koop. Renier en ek besluit toe om liewer 'n toebroodjie te koop. Die toebroodjie-toonbank is toe alreeds toe by die supermark, toe koop ons komponente. Baguette, tamatie, kaas. Maar proper baguette. En op pad terug 'n sespak Carib bier. 

Toebroodjies. Baguette, ham, kaas (oorskiet in die yskas), tamatie. En iewers 'n peri-peri sous wat ons gered het. So in die amper volmaan. Met Maria Callas, Pavarotti en 'n paar ander snare. Dis toe ons ete. Nou skryf ek met Galway in die agtergrond, nogal. Steeds goeie ondersteuning van my musiekkeuse vanaf die kaai.

Nog Road Harbour marina
En ek sit so en skryf en geniet hierdie milieu van volmaan, stil weer, soel, warm aand, sonder 'n hemp, met Galway en 'n enkelmoout. Die res van die wereld kan maar gerus ander goed najaag, hierdie is idillies. En as jy mooi korrel, word jy betaal hiervoor. Ek hoef niks by te voeg nie. Tans speel Galway die Air in D van Bach. Ek is so gechill ek raak amper aan die slaap soos ek hier sit en skryf onder die oorvloed. Van 'n enkelmout.
Hoekom werk mens soos 'n slaaf? Malligheid, sou ek reken.

Ons het gemotor van St Maarten tot in Virgin Gorda. Niks wind. En 'n mooi maan. Waar is my geliefde? Ek wonder nogal oor die ander manne se ervaring van hierdie idilliese omgewing. Maar ek kom agter beide van hulle het 'n hunkering na hulle naby-mense.

Almal van ons is kudde-diere. Jy kan dit nie ontken nie, dit kom uit in jou gedragspatroon.

Ons het vanaand biejie nabetragting gehou van die reis. Dis nogal belangrik vir elkeen se persoonlike berusting (“closure” ). En dit was uitmuntend. Almal het 'n ernstige positiewe ervaring gehad op hierdie reis.

Dis heavy, nogal. Ek sit nou hier en skrywe om 22h00 in die aand, nou kompleet onder die invloed van die Glenmorangie.

Maar almal het hierdie idee van 'n gedeelde ervaring. Met die rekwisiete verkille in die interpretasie van die wedervaringe. Dis meer as jammie, as jy my vra.
Meest mense sou seker al uitgesny het, maar ek gaan aan, met Galway as begeleiding en die whisky om die ratte te smeer.

Vir my is hierdie 'n ekstatiese belewenis. Nog nooit het ek so iets belewe nie. En nog nooit die ekstase kon deel met 'n geliefde nie. Waar is Carol nou? Dis om bietjie oor te huil, maar dis hoe die lewe werk. Ek bid dat Carol hierdie sal deel. Of ten minste dit wil deel. Dis nie goed as jou geliefde nie jou ervarings wil deel nie.

Enkelmout-skrif
Dis nou 22h40 op hierdie Saterdagaand in Tortola. Ek verlustig my in die laaste druppels van die enkelmout, so in die amper volmaan hier in die marina. En nogal biejie tong-in-die-kies; mens hoor hierdie murmel van water. Jy sal smaak dis 'n bergstroom. Iewers so in die Magaliesberg. Of miskien die Sederberg. Of so iets. Maar eintlik is dit die afloop van die lugversorgers op die bote om ons. Die nuwe bergstroom-murmel. Nogal.

Ek begin nou oor die lyne skryf.

So, wat nou?
Dis my boek.

Ek ek luister na idilliese musiek onder die invloed van 'n enkelmout.
Hoe erg kan dit nou eintlik word?

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Retoriek, opruiming en 'n bier in die vooruitsig

2012-01-03 18h45

Dis effektief die voorlaaste dag van ons reis. Ons behoort teen more etenstyd op St Maarten te wees. Dis nou middagete. Ons het vandag heel voorspoedig geseil en het so 7 knope gehandhaaf. Vanaand was ons laaste aandete aan boord. Van more af eet ons aan wal. Hamburgers en so aan.

Ek het sleg geslaap deur die nag. Deels oor die opgewondenheid oor die einde van die reis en deels oor Carol se vraag. Wat maak jy in 'n shack?

Eerste bier op St Maarten
Die vraag is belaai met onkunde, beide oor woordeskat en taalgebruik en ook oor hoe so 'n gehuggie nou lyk. Op Tobago is dit 'n eenvoudige betonstruktuur met 'n geriffelde sinkplaat-dak. In Suid Afrika sal dit as 'n hop-huis bekend staan, maar dis nie 'n huis nie. Hierdie gebou op Tobago staan aan die strand se kant van die kuspad en huisves die wassery en die internet-kafee. Maar probeer dit vir 'n eng Suid Afrikaner verduidelik. Dis 'n moedelose taak. En dan: “Wat maak jy daar?” 'n Vraag vol beskuldiging. Meer as 'n vraag. Retoriek miskien?

'n Wrang en wrede terugkeer na die sogenaamde beskawing. Ek verstaan nou hoe beide Joshua Slocum en Gilbert Goor gevoel het na hulle onderskeie alleenvaarte om die wereld. 'n Raps meer as 'n eeu uitmekaar. Slocum in 1895 en Goor in 2003. Die tegnologieë het werelde verskil, maar die ervarings was soortgelyk. Slocum moes aan Paul Kruger en sy mense verduidelik dat die aarde rond is, nie plat nie. 'n Waardering van die persoonlike vryheid tydens die reis, dan, in Gilbert Goor se woorde, die tronkdeur wat agter jou toeklap. Ek begin dit reeds te voel aan my gemoed en die 'n reis was maar net ses weke.

Ons aandete aan boord was hoenderkerrie met olielensies (dal) en klappermelk. Dis 'n verruklike dis en heel vullend met die olielensies wat fynkook. Jy week 'n koppie olielensies in kookwater en voeg dit by die kerrie en laat dit prut. Ek het dit bedien met gewone rys.
Nog  eerste bier




Ons het vandag al die oorskietkos weggegooi. Dis nou die bietjies wat telkens oorbly in die verpakking, soos pasta en so aan. Ons het ook die wok weggegooi. Dis half hartseer, want ons het lekker kos uit hom geëet. Renier het ook die sout- en pepermeulens oorboord gegooi. Hulle het 'n hengse steurende geraaas in die kas gemaak soos hulle rondrol.

More is die groot opruimdag, want by St Maarten kry ons die boot se uitrusting. Opblaasboot, buiteboord-enjin, kajakke, breekgoed, messegoed, kombuistoerusting en ook die linne en komberse vir die boot. Klaarblyklik 'n hengse klomp goed. Dan ook moet die boot silwerskoon gemaak en blink gepoets word vir die aflewering by Tortola. Dit klink woes, maar ek vermoed dis makliker as om 'n helikopter te oorhandig. Ons het nou vir ses weke geleef op toegeplakte tafels en werkoppervlaktes en toegedraaide stoffering. More kom dit alles af, dan is dit so 'n bietjie sleurwerk. Deel van die ervaring en min te betale vir die ervaring op die reis.


Mens kan agterkom dis die einde van reis. My joernaalinskrywings word korter soos die afwagting groter word. Die werk om die boot te seil is egter nog lank nie verby nie. Ons kom al meer ander skeepsverkeer teë hoe nader ons aan St Maarten kom. Groot “cruise liners,” vakansieskepe met duisende mense aan boord. Gelukkig is hulle ook nogal paraat met hulle seemanskap en hou ver van ons verby. Dis die kleiner vragskepe en vissersbote wat 'n gevaar inhou vir die seiljagvaarder. Van hulle hou nie behoorlike brug-wagdienste by nie, of steur hulle gewoon nie aan jou nie. Antwoord nie eers die radio nie. 

So, dit is dan die paraatheidsvereiste van die oomblik. Koes vir onverskillige skeepvaart.


Ek het maar opgehou met die sekstant-navigasie. Met die groot opruimingswerk is dit ieder geval ietwat in die pad. En more is ons in elk geval tussen sigbare eilande waar ons kusnavigasie-tegnieke gebruik eerder as die sekstant. Ek het darem 'n foto geneem van een van die meer akkurate plotte wat ek gemaak het. Dis bestem vir 'n spogtery op my Facebook-muur. Ek vermoed dit sal 'n paar koppe laat draai onder die ingeligtes.
Ek sien ook uit na 'n ordentlike stortbad en 'n behoorlike haarkapper-besoek. Skeer my baard en maak my hare weer mooi kort en netjies. En dan, nie die minste nie, 'n gesprek met Carol. Dit sal noodwendig deur Google chat moet wees want die Skype op my rekenaar werk nie. Ek sal moet uitvind hoe om sulke goed self reg te maak want ek is nie altyd meer naby Ewald om sy hulp te kry nie.
Verder sal ek hopelik 'n idee kan kry van wanneer die volgende yachtmaster-kursus begin. Dan kan ek die res van my lewe begin agtermekaar kry.



Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Friday, 9 March 2012

Noue ontkoming

 2012-01-02 03h30

Dis nou my tweede wagbeurt vir die nag. Die see is nou meer ongunstig as vroeër. Vroeër, so tot voor tienuur, was die weer mooi, die wind bestendig. Nou is ons om die eiland Grenada, maar die see is half ontstuimig.Ons kan nie juis vinnig vaar nie, want dan stamp die boot oor die kort deinings.

Ons het amper 'n noue ontkoming gehad met 'n vragskip wat nie vir ons uitgedraai het nie. Hy sou ons waarskynlik onder die see in gery het en nie eers stop nie. Ons het hom vir 'n lang tyd dopgehou en moes toe inderhaas'n enjin aan die gang kry om gou weg te draai uit sy pad uit. 'n Ongemaklike ervaring, wat nogmaals die veiligheid ter see beklemtoon. Ek is bly dit het toe goed afgeloop. Hierdie seetoestande maak almal 'n ekstra bietjie moeg, en dan nog die vinnige dink en die adrenalien om jou oor die rand van uitputting te dryf.
Ons het ook squalls vanoggend, net om die lewe effens interessanter te maak. Ek het nou vir oor 'n uur lankmet 'n hemp en 'n reënjas aan gesit op die brug, net as gevolg van die weer. So pas het ek dit uitgetrek want nou begin ek erg warm kry hier in die salon.

Ek is so besig op hierdie skof, ek kry nie eers kans om 'n koppie tee te maak nie. Ek hoop van harte dat die weer sal verbeter, want nou is dit nie juis aangenaam nie.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Nuwejaar op Tobago

 2012-01-01 18h15



Nuwejaar. Tobago. Dit was toe 'n heel aangename interlude. Ons het reeds vroegoggend aangekom in Charlotteville, 'n dorpie aan die noord oostelike punt van die eiland. Die dorpie is geleë in die arms van 'n kom in die rante, met 'n noordelike aansig op die see. Die kom vorm 'n mooi baai waar ons veilig kon anker buite die oostewind se bereik. Diue laagdrukstelsel het ook reën en wolke gebring, toe is dit aangenaam warm. Ons het sommer 'n swem gevat so vroegoggend en al. Drikus en Renier het oorgeswem na 'n ander boot toe om 'n geleentheid te bedel tot by die kaai. Die dorp se amptelike ure is so van tienuur soggens tot vyfuur in die middag. Maar niemand beweeg juis rond voor elfuur nie. Ons het so teen nege-dertig ons geleentheid gekry land toe, nadat ons sommer twee biere gdrink het in die aanloop na ontbyt.
Die dorp is maar klein, maar daar is selfone op die eiland, 'n outoteller om plaaslike geld te trek en les bes, die dorp het 'n krieketveld kompleet met ligte. Die krieketveld werk sommer ook as 'n sokkerveld. Die immigrasie en doeane is sommer in een gebou, twee kantore oorkant mekaar. Die mense is vriendelik en werk teen eiland-tempo. Dis bietjie soos eiland-tyd. Lekker rustig, niks om oor te haas nie en baie tydsaam. Selfs die voëls vlieg stadig.
'n Uur of wat later is die in- en uitklaar afgehandel en ons kan loop soek na ontbyt. Ontbyt begin met 'n plaaslike bier, Carib Lager. Koud soos dit hoort en 5.2% alkohol. Dit hou die hitte weg.
Later soek ons toe rond vir 'n internet-kafee. Dis toe inderdaad 'n kafee, so shack vol muskiete. Dit is in 'n hoekie van die wassery. TT$10 vir 'n halfuur. TT$1=R1.30. Trinidad & Tobago Dollar. Die geldeenheid is bestendig TT$6= US$1. Die internet-kafeehet 'n spul muskiete. Tien meter van die see af, bid jou aan. Ek kry darem 'n paar e-posse uit om vir Carol te laat weet ons leef nog.
Toe is ons eers weer dors en drink nog 'n bier by 'n straatkroegie. Dis 'n sinkdak-afdak aan 'n betongebou van so 3m by 4m. Maar die bier is koud. Terug op die boot vang ons weer 'n vinnige afkoel swem en daarna 'n middagslapie voor die aand se feestelikhede. Telkens moet ons maar reël vir 'n geleentheid boot toe of kaai toe. Ons het mos nie 'n tender nie.
Die aand sit ons toe lekker en gesels met ander jotties (yachties, ek het nie 'n goeie Afrikaanse term hier nie) en PB's, drink nog 'n paar biere en eet 'n wegneem-ete. Vis, hoender of bok met skyfies. Nie te duur nie en heel vullend. Maar dis nog te min na karige roereiers met tamatie, klein repie spek en tuisgebakte bruinbrood, kompleet met die twee biere en 'n glas lemoensap.
Ons het maar ons bier klaar gedrink en is toe terug boot toe, bier na die kop. Nodeloos om te sê, ons het soos klippe geslaap. Maar interessant genoeg, ons al drie was op op verskillende tye. Die mag van die gewoonte na ses weke op die see. Ek glo dat die laaste dag of wat ook erg uitputtend was, vir al drie van ons, so met die gebokspringery van die boot en al.
Dis nogal met 'n tikkie nostalgie in die gemoed waarmee ek afskeid geneem het van Charlotteville., Tobago. Dis derde wereld, maar dinge werk en jy kan lekker ontspan. Die plaaslike taal is engels, mon, Karibiese engels. Ek is seker daar is voodoo be-oefenaars ook. Maar mens kry vrede in jou gemoed in die plek.
Ons het so tienuur vertrek en het maar steeds 'n rowwe see teëgekom, so twee tot drie meter deining met 'n wind van 20 knope. Renier het toe maar die roete herbeplan en nou vaar ons onder (suid) om die eiland Grenada.
Daarna sal ons noord draai in die Karibiese see en hoop om 'n platter see te kry vir die twee en 'n halwe dae se seil na St Maarten.
Op die oomblik kan ek al die ligte op die eiland uitmaak deur die verkyker. Die maan is so half en is tans reg bo ons. Dit maak vir 'n heel romantiese effek, so tussen ons babelaas deur. Ons sal seker teen more weer in ons roetine wees en uitgedroog.
Die alkohol vang mens gewldig vinnig as jy uitgedroog is. Dit smaak my my liggaam verloor sy weerstand. 'n Mens sal maar versigtig moet wees tuis. Ons het basies nog twee etes aan boord oor vir die reis, dan is ons terug in marinas met stortgeriewe en restaurante.
Dis nog iets om na uit te sien. Maar nou eers mooi navigeer tussen die eilande, die skeepsverkeer en die vlak see. My navigasievermoë is nou goed ge-olie en aan die gang. Goed op dreef, sou ek reken. Die sekstant navigasie is amper nou oor, aangesien ons van nou afwaarskynlik redelik baie land sal sien. Miskien nog so twee dae se lesings bly oor. Daarna is dit kusnavigasie en pilotage tussen eilande deur.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Thursday, 8 March 2012

Geestelike weerbaarheid, die weer en kwantumfisika

2011-12-31 00h05



Ja, dit lyk asof ek 'n dag oorgeslaan het, maar ek het nie. Dis die effek van die wagskofte. Ek skryf nou 'n stukkie, dan weer net mooi op nuwejaar.

Ons het die kant van 'n groot laagdrukstelsel gevang, toe het ons afgewyk van ons roeteom veiligheidsredes. Tans is ons op pad na die eiland Tobago, waar ons so oor agt of nege ure sal wees. Ons ry al vir die laaste 36 plus ure op die enjins, die wind is te rof en so ook die see. Die see wat van die kant af kom is die hoofrede vir die koersverandering. Die boot het só gebuig dat hy nou nog sulke onheilige kraakgeluide maak. Dis die paneelwerk binne. Bietjie soos 'n nuwe motorkar nadat mens 'n ent stofpaaie gery het.

Dit sou weer my kookbeurt gewees het, maar Drikus en ek het uitgeruil sodat ek op oujaarsaand kan kook. Nou, met diue weer saam, lyk dit of selfs dit in die weegskaal mag wees. Ons het nie juis baie inligting oor Tobago nie, behalwe vir 'n Boater's Directory van 2009. Sal maar dit deeglik beloer.

Ek hoop ons sal iewers stop naby internet-geriewe. Ons Boater's Directory is maar redelik yl hieroor. Daar is darem cruisers op die BHF kanaal 68 elke oggend 08h00. 'n Mens ssal daar seker inligting kan kry.Die wisselkoers is van die plaaslike geld is so TT6 per US$, effens sterker as die Rand. Dit lyk ook of die plek redelik goedkoop kan wees.

Ek sien uit na 'n bietjie rus. Ek is vol blou kolle soos ekk my gestamp het toe die boot so rondgespring het. Dit lyk asof die ander manne soortgelyk voel. Die see is op die oomblik nog dieselfde, min of meer, as wat ons in die begin van die reis uit Kaapstad gehad het. Mens word regtig fisies moeg van die beweging.
Dit sal darem lekker wees om 'n bier of twee te drink ook. Miskien selfs aan wal gaan eet. Ek kan nie uitmaak of mens moet inklaar by Tobago, of Trinidad self nie. Gelukkig kan ek so effens die toeskouer speel hierdie keer. Net 'n \grap. Dis 'n leerervaring vir my, so ek sal die beste daarvan maak.

Dis moeilik om my emosies op die oomblik te beskryf. 'n Mens het uitgesien na die einde van die reis, vol verwagting oor die nuwe plekke om te ontdek. Nou is dit nog steeds so, behalwe dat die reis nou twee dae langer sal wees en daar nog 'n plek op die kaart is om te ontdek. Ek weet ek sal agterna terugkyk en giggel hieroor, maar nou is daar gemengde gevoelens.

Die Yachtmaster handleiding is vol van hierdie aspek onder die hofie van reisbeplanning. Alternatiewe bestemmings en gebeurlikheidsplanne. 'n Mens is nie almagtig nie en het definitief nie beheer oor die weerpatrone nie. Dis 'n baie interessante oefening in berusting, diep asemhaal en stap vorentoe. Ek reken die effense vlak van uitputting tans speel 'n groot rol in die emosies. Dis 'n belangrike ding om in gedagte te hou by enige reisbeplanning.

Mens vra die vrae rondom die weerstoestande, die gereedheidsvlak en diensbaarheid van die boot, die bevoorrading, navigasiehulpmiddels en reisdokumente. En op die ou end is die geestestoestand van die bemanning die bepalende faktor. Daar is 'n artikel in die Yachting Monthly-tydskrif van Oktober 2011 hieroor. Nou voel ek die effekte van al hierdie dinge aan my ie lyf. Letterlik. En dis nie iets om af te lag nie. Die artikel beskryf nogal mooi en in eenvoudige terme die newe-effekte van 'n teësinnige of uitgeputte bemanning. Die uitputting maak dat mens ophou dink en dan in 'n reaktiewe denkpatroon verval. Dis 'n resep vir 'n ramp, veral wanneer dit kom by besluite oor die weer. Weerstoestande op hierdie skaal het 'n drie tot vyf dae effek. Dit kan die reis en die boot breek. 'n Stukkie ervaring, geskep uit 'n realiteit wat in uitputting gebore is, wat 'n boot breek. Spookstorie?

Gaan lees weer “What the Bleep do We Know Anyway?” Die werklikheid word geskep deur die individu se geestesbeeld. Daar is 'n aanduiding dat die geetsebeeld selfs 'n effek het in die kwantum-fisika. Die ander sy is natuurlik baie interessant.

Jy kan jou realiteit self bepaal. En dit suiwer deur jou verwysingsraamwerk ooreenkomstig te oriënteer. Die terme “world view,” “beginsels,” “frame of mind,” “principle,” “visie” het almal hierdie in gemeen. Die boek What the Bleep vat dit mooi saam. Eckhard Tolle brei dit uit in sy boek “The Power of Now,” waarin hy 'n betoog lewer om jou verwysingsraamwerk te plooi rondom die belewenis van die “nou.” Nie gister se ervarings, lief en leed nie. Ook nis more se sorge nie. Maak 'n besluit nou en ervaar die vrugte van jou besluit. Miskien dieselfde as What the Bleep, maar uit 'n meer geestelike oogpunt.

Tolle stel voor jy onderdruk jou ego deur dit te ignoreer. Dis nou bietjie soos meditasie en sielrus. Dit gee vir jou kans om jou eie realiteit te skep sonder invloed van jou ego. My vermoede is, uit wat hierdie twee geskrifte sê, dat jou ego jou so moeg maak met spookstories om jou bang te kry dat jy naderhand in die reaktiewe denkwyse verval.

Dis eintlik, na aanleiding van What the Bleep, 'n gevaarlike tostand om in te verkeer, omdat jy nie juis omgee oor wat gebeur nie en dan letterlik jouself in 'n fatale posisie kan plaas. Dis iets om ernstig oor te besin. Ek moes hierdie effekte in ag neem vir die beplanning van Rooivalktoetse op ontplooiing. Dieselfde effekte was daar van toepassing en daar was gereelde gevalle van personeelprobleme totdat ons hierdie karakterisitek van die mens se psige begin verstaan het. Ek het dit ook in Nigerië gesien onder die kontrakteurs uit Europa.
'n Gebalanseerde lewenstyl het natuurlik ook 'n groot invloed. Dit kon ek mooi duidelik sien uit die gedragspatrone van die Engelse expats daar in Nigerië. 'n Lae geestelike weerbaarheid as gevolg van, na my mening, lae geestelike morele waardes, gekoppel aan 'n lui-lekker lewenstyl en hoë vlakke van onfiksheid. Dan is daar binne twee maande moeilikheid.

So, dis basies 'n goeie idee om 'n slag te stop. Al kos dit ons twee dae ekstra. Ons kry kans om weer ons voete op moeder-aarde se vaste grond te sit. Ek hoop regtig dat daar nie 'n deurmekaarspul, of liewer 'n laksheid, sal wees met die doeane, immigrasie en hawebeheer soos op St Helena nie.
Maar miskien is ons teen hierdie tyd al sterk genoeg om dit te kan hanteer.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Wednesday, 7 March 2012

Alleentyd en 'n rowwe see


2011-12-29 21h00



Dis vanaand effektief ons derde laaste nag ter see, soos die Here wil en die weer toelaat. Ons het voorspoedig geseil die afgelope paar dae en het goeie wind gehad daarvoor. Ons het 171 seemyle afgelê in die etmaal tot twaalfuur vanmiddag. Dit is een van die top vyf dae se afstande.

Op die oomblik is die seile opgerol en ons motor. Die wind is tans heel dwars op ons rigting en die deining vang ons baie sleg. Die wind is ook rukkerig en kom in vlae. Dit maak die boot bokspring. Letterlik. Ons het vroeër vanaand so slag of wat 'n meter of so in die lug gespring. Die boot buig en kraak onheilspellend en Renier het dit gerade geag om liewer die enjins te gebruik terwyl die toestande voortduur.

Die seetoestand van so twee tot drie meter maak die water oor die boot spoel, so al die luike is dig toe. Nou is die ventilasie weg uit die kajuite en dit voel soos 'n sauna in my bed. Jy lê in 'n plas sweet. Dan kom 'n mens agter hoe warm dit eintlik is. Dis natuurlik lekker aangenaam koel buite, maar jy is sommer gou papnat gespat. Dis lekker net tot op 'n punt, die idilliese maan ten spyt.

Die maan laat mens verlang na die dae voor jou gesinsverantwoordelikhede, waar jy en jou geliefde 'n aand of so kon deurbring met julle drome. Dis asof die maan en die naghemel my uitnooi om dit weer te besoek, daardie paaie deur my hart en my drome. Die geleentheid is definitief daar en nou moet 'n mens dit gebruik terwyl jy nog kan. Jy weet nie wat vir jou voorlê nie. Buitendien, jou geluk lê in wat jy met jou vermoë en jou geleenthede doen.

Nou ja, wanneer ons in St Maarten aankom hou ons op met kook aan boord. Dan is dit skoonmaak en voorberei vir oorhandiging. Daar is darem nog 'n geleentheid of wat vir ontspanning in die volgende week. Dis nou met die naweek en die nuwejaarsvieringe wanneer die kantore basies gesluit is.

Ek sit vandag en nabetragting hou, toe kom ek agter presies hoeveel ek nou al geskryf het. Dis amper die helfte van die boek. En ek het nog nie begin om die navigasie-inligting vir die reisbeplanning in te skryf nie. Ook nie die kontak-details van die onderskeie owerhede en marinas nie. Nog 'n ruim 30% van hierdie joernaal word opgeneem deur my navigasie-oefeninge se berekeninge. Dié skryf ek darem in die dag. Die joernaal is 'n ding van die nag, wanneer ek alleentyd het en die gedagtes kan vloei.

Ek sal seker die boek volgeskryf hê teen die tyd wat ek klaar is met my Yachtmaster-kursus en eksamen. Dan sal ek die boek afsluit en 'n nuwe ene begin. Miskien maak hierdie joernaal 'n goeie blog, ek sal bietjie navorsing doen. Sê nou maar ek kan 'n geldjie daaruit verdien! Dit sal baie handig te pas kom.

Ons het vanaand vir die laaste keer vis geëet. More eet ons vark en aartappelskyfies en op oujaar eet ons 'n hoenderkerrie met klapperroom. Vir oulaas. Dan is dit winkelkos en drank. Ek sien uit na bier of twee, gevolg deur 'n lekker whisky. Perdalks kan ons weer lekker kuier aan boord. Ons sal landkrag hê, dan kan ons die lugversorger gebruik. Dit klink na 'n gawe lewenstyl.

Ek hoop die internet-toegang is in werking. Renier reken daar was al 'n probleem op 'n vorige besoek. Dan is toegang nie maklik nie en mens moet rondvra. Ons hoop maar vir die beste.

Ons almal aan boord begin die einde van die reis aanvoel. Ek vermoed met meer as 'n tikkie nostalgie. Hoewel ek ook dink die ander manne sal dit maar half teësinning erken. Die macho-ding, “cowboys don't cry,” jy weet. En Drikus se gay-geit ten spyt. Ek sal hierdie twee mense vir 'n lang tyd onthou as goeie vriende en kollegas. Daar was, en steeds is, 'n groot sinergie tussen ons, ten spyte van wyd-uiteenlopende lewensbeskouings en groot ouderdomsverskille.

'n Mens vra jouself af, as 'n toets van die verhouding, of jy weer so iets sal aanpak en meemaak saam met hierdie mense. En, na ses weke van lief en leed deel en in mekaar se sakke lewe, is die antwoord definitief ja.

En ons paaie sal redelik gereeld kruis, al sal dit waarskynlik met lang tussenposes wees. Die lang tussenposes synde die tye ter see van al die betrokke partye.

Ek lag ek loop Alistair en Bruce weer hier iewers raak. Dit kan nogal 'n redelike reunie afgee! Nogal so ver in die vreemde ook. En nuwe vriende en kennisse, sakemense. Ek sal maar hierdie boek moet byhou, lyk dit my.

Die gees van die Yachtmaster-kursus en die vooruitsigte van 'n volgende loopbaan begin my nou beetpak. Ek voel weer soos na universiteit, daar is nou deure wat oopgaan. En hierdie slag is ek reg opgestel, met die regte profiel.

Authored by Johan Zietsman

Last updated on 2013-05-09

Monday, 5 March 2012

Onweer, higiene en ander vooruitsigte

2011-12-28 18h40
Ons seil nou lekker teen so knap meer as sewe knope. Heeldag al, inderdaad. Met die wind netjies op die stuurboordsy Wat dit nogal onaangenaam maak.

Mooiweerskrif
So elke nou en dan slaan 'n kort deining die boot op sy kant, dan bokspring die hele boot na 'n kant toe, hel oor en gooi al die los goed van die tafel en ander werk-oppervlaktes af. Daar was 'n slag 'n paar stukke skottelgoed op die dek tesame met die ketel, Die ketel het 'n ekstra duik opgedoen en gelukkig is daar nie merke op die vloer of teen die kaste nie.
Minder mooiweerskrif
Een slag, 'n ruk later, toe alles weer op hulle plekke is, slaan 'n groterige golf die boot dat daar groen water en skuim oor die dak kom en ons natreën in die salon deur die oop luike. Die manne moes maar baie gou hulle rekenaars droog maak van die soutwater. Ek darem net 'n boek.

Dis nou naby die einde van die reis en die koskaste begin leeg raak. Nou begin die rerige kreatiewe resepte en mengsels. Dis darem nie eklekties nie want ons het nog genoeg blikke tamaties en 'n paar blikke sampioene oor, asook gevriesde roerbraai-groente, vis en vleis. Daar is ook 'n paar blikke klappermelk en olielensies oor, dus kan ek 'n lekker Thai-styl hoenderkerrie maak. Eintlik 'n fusion-dis, want dit sal 'n mengsel van Indiese en Thai-style wees. Ons sal maar sien of die mengsel werk. Anders maak ek net 'n Thai-styl hoenderkerrie met die roerbraai-groente en klappermelk, bedien op rys gegarneer met bruin lensies.

Sover wen die olielensies en klappermelk weergawe. Dan net met bruin rys. Ek het nog nie 'n hoenderkerrie gemaak vandat ons op die reis vertrek het nie.

Onweergekrap
Die gesprekke aan boord raak baie interessant. Almal van ons is besig om na ons onderskeie toekomsplanne te kyk en hulle af te stof. Selfs 'n paar sake-idees sien die lig, veral vir my. Dis duidelik dat die ander manne my ervaar as volwasse genoeg om redelik maklik 'n pos te kry in die boothuur-vakansie bedryf. Ek sal bietjie die kat uit die boom kyk wanneer ons in St Maarten en Tortola vertoef.

Ons het almal maer geword. Die ander twee het begin skeer, nou is ek die enigste bebaarde persoon aan boord. Die maer word tref ons almal daarin dat ons broeke begin afval. Dis as gevolg van kontinue maagspieroefening wat jy kry, selfs al sit jy. Ek moet myself hier teen die tafel inwig om stil genoeg te kan sit om te skryf. Mens kan dit waarskynlik aan my handskrif ook agterkom.

Ten spyte van die omgekrapte see is dit 'n romantiese aand, miskien liewer idillies. Romanties verwys na iets Romeins. Daar is cumulo-cirrus wolke in die lug. Dis sulke hoë strepies-wolke, maar hierdies lyk soos strepies watte. Dan is daar ook laer cumulus wolke. Voorbode van stormweer, nogal. En die maan skyn so tussen dit alles deur met so silwer lig. Daar is ook so waas om die maan. Alles baie mooi, maar dit beteken die weer is aan die verander. Sover ons weet is daar darem nie 'n orkaan aan die ontwikkel nie. Die boeke sê dit is alles tekens van 'n warm front wat reën bring. Wel, dit kan kan so wees want die lug is baie vogtig, dis woes warm en die barometer staan op 1000 hektopaskal, instede van 1013hPa. Bietjie erg laag.
Maar dis immers die trope en mens verwag baie reën. Alhoewel, dis nou amptelik winter hier want ons is noord van die ewenaar en die son is nog naby die Steenbok-skeerkring. Die Steenbok-skeerkring gaan so amper deur Polokwane, as jy wil.

Mens wonder regtig hoe hierdie area op seisoene besluit. In Nigerië, waar ek was, in die suide, is Oktober en November die droë maande as gevolg van die Harmattan, 'n droë wind wat stof uit die Sahara en halfpad oor die atlantiese oseaan ook waai. Die Nigeriërs het toe maar besluit op Oktober en November as hulle amptlike winter. Dan dra hulle 'n wollerige kadot en warm klere om te kompenseer vir die “koelte” van net 32 grade in die dag!

Ons het ook ander skeepsverkeer in die omgewing, die eerste keer in twee dae. Mens moet dit maar mooi dophou, dat jy ontwykende stappe kan neem om 'n botsing te vermy. Net soos die mense om jou, nogal.
Ons het nie een meningsverskil gehad met 'n uiting van agressie nie. Vir my is dit iets besonders. Ek vermoed die kompetisie-element in die kaartspelery dien daardie doel, asmede die draakstekery. Verder eet ons ordentlik en die moreel is op 'n hoë vlak. Gekultiveerd, selfs. Ons luister tans nog na kersmusiek, maar ek begin reeds verlang na die arias. Dis nogal strelend so saam met die geruis van die water.

Ons het al drie vandag 'n stortbad geneem in 'n squall. Die reën was egter van korte duur en ons moes die seep afspoel met die buite-stort. Maar die hoop beskaam nie dat ons 'n lang genoeg squall sal kry om behoorlik te stort nie. En almal stort buite met 'n swembroek aan.

Dis veel anders as op staptoere waar die mense 'n lekker skinny-dip gevat het, gepaardgaande met 'n groot gegiggel. Dit sal interessant wees om dit te ervaar op 'n boot met 'n gemengde bemanning. Niks lelik of seksueel eksplisiet nie, net mense met wedersydse vertroue wat in die openbaar staan en hulle liggame reinig. Hierdie boot het nogal heelwat privaatheid, met elkeen wat sy eie badkamer het. Dis nie so op alle bote nie. Ek vermoed daar kan makliker konflik kom op daardie bote wat minder privaatheid het. Dit moet noodwendig 'n groter spanning tussen die mense veroorsaak. Iets om in gedagte te hou wanneer mens in bevel is van 'n boot. Deel van die mense-betuur, sou ek reken.

My voete se velle kom af van die voetsole. Dit begin ongemaklik raak, want dis nou rou. Ek smeer room en 'n anti-fungus middel, maar ek vermoed dis die voortdurende nat voete en soutwater se skuld ook. Ek wens al ek kan 'n paar keer op 'n sand-strand gaan loop, dat die droë sand die los velle kan afskuur en my voete kan masseer. Dis darem nou nie meer lank nie, dan is ons by St Maarten. Ek sal daar ook skeergoed, 'n behoorlike haarsny en skeer kry by 'n barbier. Dan kan ek weer soos 'n mens voel. Carol sal my selfs kan herken!


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Hanlon's Razor, spaghetti en ander gedagtes

2011-12-28 00h10


Woensdag. Ons is nou ses-en-dertig dae op pad.En dit klink my daar is nou so min of meer ses dae oor, dan is ons by St Maarten. Dan kook ons nie meer nie, maak die boot skoon en pleeg dergelike voorbereiding vir die aflewering. Op St Maarten sal ons moontlik nog toerusting oplaai, soos kajakke, 'n dinghy, buiteboord enjin en so aan. Die finale oorhandiging is by Tortola en sal waarskynlik eers Maandag oor 'n week plaasvind omdat ons eers teen die naweek daar sal aankom.

Daar is 'n nuwe opgewektheid aan boord. Mens kan dit met gemak aanvoel. Ek sien nogal uit om St Maarten te gaan ontdek. Ek wil spesifiek 'n foto of twee neem van die 747's wat oor die strand inkom om te land, rakelings oor die mense se koppe. St Maarten is ook meesal 'n duty-free plek en blykbaar kan 'n mens lekker inkopies doen. Ek hoop hulle het lekker whisky, ek is al lus vir 'n dop of twee.

Ek het vanaand kos gemaak. Spaghetti Bolognese met maalvleis, anys, koljander, 'n klein brandrissie, sojasous en geblikte sampioene. 'n Knypie origanum het die garnering voltooi. Ek het die sous dik gemaak met meel sodat daar genoeg sous sal wees om die vrag spaghetti mee te smeer.

Die resultaat was dat Renier twee porsies geskep het en toe weer later ene op sy diensbeurt. Dis nogal lekker as die mense jou kos waardeer.

Ek sal nog, saam met die ander manne, twee keer kook. Dit klink of hulle ook nog net een keer sal kook, dan is ons by St Maarten. Ek sal nog een keer viskerrie maak, hulle het daarvoor gevra. Die resep met die klappermelk. Dit begin ook een van my gunsteling resepte raak. Ons kook nou al met seewater want ons sout is effektief op.Dis nog net die sout in die meultjie wat oorbly, en dan die sojasous. Maar sojasous werk nie in al die geregte nie.

Hierdie joernaal van my staan ook knap voor die einde van 'n hoofstuk.Ek dink ernstig daaraan om 'n blog te bou om al hierdie stories en wedervaringe op te skryf. Dis 'n liefdestaak en waarskynlik baie werk, maar dis nogal terapeuties vir my. Die skrywery maak 'n mens rustig en verskaf 'n emosionele uitlaatklep. En die seilery is fisiese ontspanning by uitnemendheid. Ek het selfs 'n netjiese sonbruin op my vel gekry, sonder om sonbrandolie te gebruik. Ek reken dis omdat 'n mens nie heeldag aan die UV blootgestel is nie. Ons sit meesal binne en lees, dus is die blootstelling beperk.

Die see se kleur het vandag subtiel verander van baie helder blou na amper 'n donkergroen blou, amper 'n olyfkleur. Dis nou die effek van die Amasone se water. Ons is tans so end noord van die Amasone-delta en so honderd myl van die kus af. Dit is verstommend om te dink dat 'n rivier so groot effek kan hê.

Ons het twee visse byna gelyk gevang, baba Wahoo's. Nogal 'n mooi vis, so lank en maer met vertikale blou strepe van so 30-40 mm wyd.
Ek is nie seker of my tekening reg laat geskied aan die mooi vis nie.

Ons het maar ons lyne opgetrek, want die wind is goed en mens moet die boot stop en die seil oprol as jy 'n groot vis haak. Die visvangery was maar traag tot nou toe. Ek vermoed die visse is meer gekonsentreerd in die verrykte water waarin ons nou vaar.

My navigasie-oefeninge gaan steeds voort. Die sekstant is nou net 'n instrument en ek begin verstaan waar die beperkings lê. Onder andere in die ou omis se oë se optika. Maar ek kry dit nog steeds goed reg.

Navigasie is nie 'n eksakte vakgebied nie. Mens moet 'n besluit naak oor die geldigheid van inligting en die betroubaarheid of integriteit daarvan. Ek het nou menigmaal op hierdie reis data weggelaat uit my berekeninge omdat ek besluit het dis nie akkuraat genoeg nie. Dit het 'n groot effek op die integriteit van die uiteindelike plot wat ek maak. Dis bietjie soos die raaisel van wat is swart en groot, jy kook daarop en as jy klaar is hang jy dit in die boom op. Die antwoord is: 'n stoof. Dis my stoof en ek kan maak met hom wat ek wil. 'n Mooi voorbeeld, op 'n humoristiese wyse aangebied, van oorbodige inligting of inligting met 'n lae integriteit.

Baie mense sal in hulle koffie stik as jy vir hulle sê dat hulle besluitnemingsproses gebuk gaan onder te veel inligting en derhalwe ontoereikend is vir die die probleem op hande. Hanlon's razor is die amptelike naam vir die besluitnemingsproses.

Amptelik stel Hanlon's razor dit so: Asaar meer as een interpretasie is van 'n probleem se oplossing, kies die eenvoudige een. Op Engels is 'n verwante een: Never ascribe to malice that what can suitably be explained by stupidity. 'n Bietjie tong in die kies, maar 'n geldige standpunt. Hoeveel rustiger sou die wereld gewees het as meer mense so begin dink.

Hier op die boot werk dit goed en almal het 'n dik vel gegroei, by wyse van spreke. Die draakstekery is baie gevat en bereik 'n piek net na aandete. Dis dan wanneer die kaarte uitgepak word en die lang messe van humor, daardies met die saagtande met weerhakies in, uitkom. Onder groot geskater, nogal.

Ek het so idee hierdie is die lekkerste reis in 'n lang tyd vir ons almal. Definitief vir my. Die jaar wat verby is was baie erg vir my en ek vermoed die laaste nadraaie is nog nie oor nie. Niks waar 'n mens jou vinger op 'n pols kan sit nie, net 'n onrustigheid in jou gemoed. Miskien bietjie soos iemand wat te veel seergekry het en nou 'n skans gebou het.

Maar die lewe is een van onsekerheid en mens moet dit hanteer. Deel daarvan is dat ek nou gewoond moet raak aan loop klein treetjies op “stepping stones,” eerder as om die breë pad van finansiële slawerny weer in te slaan.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12