Google Roerbraai groente, maalvleis met cous-cous en navigasie | Ziets' Ramblings

Sunday, 19 February 2012

Roerbraai groente, maalvleis met cous-cous en navigasie

2011-12-22 00h45

Vandag was redelik stil. Ons het goeie wind gehad en ‘n seestroom wat ons aanhelp. Nou, later in die nag, het die wind opgekom en effens gedraai, nou kry ons dit van die stuurboordsy. Ons het amper 10 knope geseil vroeër en op die oomblik seil ons teen so 8-9.5 knope. Dis ‘n lekker spoed, maar die deining op die sy maak dat die boot maar bietjie bontspring en stamp.

Ek kon vanaand ‘n lesing neem op Venus. Dis baie meer akkuraat as ‘n sonlesing, net omdat mens ‘n goed gedefinieerde horison het. En Venus is ‘n puntbron. Mens sien nie die skyf nie, dus is dit redelik maklik om die kolletjie op die horizon te sit. My lesings was mooi gegroepeer en die fout is 6 myl op die GPS posisie.
Ek het vandag weer gekook. Die vorige keer het ek twee ure voor die stoof gestaan, hoofsaaklik om die rotis te maak. Hierdie slag was dit ‘n kwartier na twintig minute, toe eet ons. Ek het roerbraai maalvleis met groente en kous-kous gemaak.

Roerbraai groente en maalvleis met kous-kous

Bestanddele
500g maalvleis
1 brandrissie, gekap
1 teelepelvol knoffel, gekap
½ pak gevriesde roerbraaigroente
1 blik sampioene in pekelwater
1 ui, gekap (hierdie het ek nie gehad nie)
2½ koppies kous-kous
Skeut sojasous
2 – 3 koppies kookwater

Metode

Braai die knoffel en rissie saam met die gekapte ui tot die ui deurskyn. Ek het botter gebruik want ons olie aan boord begin min raak en ons het baie botter. Voeg die maalvleis by en braai tot dit bruin is. Verwyder van die hitte en plaas dit eenkant om te rus. Voeg ‘n skeut sojasous by.

Braai nou die gevriesde (of rou, wat ookal jy het) groente tot dit ‘al dente’ is. Sit die vleis terug en voeg die sampioene met die water by. Prut tot alles mooi deurgekook is en laat dit dan rus.

Voeg nou die kookwater by die kous-kous. Jy kan ‘n bietjie sout vooraf bysit, of gebruik ‘n bietjie groente-ekstrak.

Wag so 7 – 8 minute vir die kous-kous om die water te absorbeer en dien dan op.

15 minute, kant en klaar.

Bon appétit!



Die dis het goed byval gevind en is baie maklik en gou om aanmekaar te slaan. Die groente en vleis wat gemeng is maak dit interessant. En dit werk saam met die kous-kous, wat die konsistensie het van krummel pap. Die dis sal natuurlik ook lekker werk saam met krummelpap.

Ons is nou steed so 50 – 60 seemyle vanaf die kus af, iewers knap verby (Noord) van Fortalesa en in die rigting van die Amasone delta. Daar is ‘n maand verby sedert ons uit Kaapstad vertrek het en ons is nou 16 dae uit St Helena uit. Daar is nog so 13 – 14 dae oor van ons reis. Ons is ook nou baie naby aan die ewenaar en sal dit eersdaags kruis. Die weer is fantasties. Dis baie warm, maar die wind koel mens goed af.
Dis vandag die somer-sonstilstand in die suidelike halfrond (Summer salstie), ‘n Heidense (Pagan) feesdag. In oor drie dae is dit Kersfees, wat ‘n Christelike feesdag is en sy ontstaan klaarblyklik in die heidendom het. So verneem ek, in elk geval. Ons sal ‘n lekker dis maak. Dit sal my kookbeurt wees. As ons nog ‘n vis gevang kry, kan ons vis eet vir middagetes. Iets lig wat vinnig berei kan word. Dit sal ‘n seen wees, en lekker afwisseling van die 2-minuut noedel konkoksies wat ons uitdraai.

2 Minuut noedels, tuna en gebakte bone. Peri-peri sous vir garnering. En klomp briekmerke in jou broek agterna. Nogal. Ek hoop ons vang ‘n vis. Ek sal kedgeree maak en dit as ‘n koue slaai voorsit.

Hierdie deel van die reis is nogal interessant ten opsigte van die werklading op ‘n skof, veral nou in die nag. Jy moet elke 15 – 20 minute opstaan en gaan kyk of daar nie verkeer is nie. Net vanaand het ons ‘n skip gesien wat iets op sleeptou het en ons moes uitdraai en om ‘n visserboot seil. Die vaartuie self kan mens natuurlik nie sien nie, maar hulle moet ligte wys ooreenkomstig hulle status. Ek het party van hierdie nog net in die boeke gesien. Dit voel anders wanneer jy op die oop see so iets gewaar. Ons het maar die boeke nadergesleep om die ligte te kon interpreteer. Die vissersbote is makliker. In hierdie geweste het hulle alleenlik die ligte aan wat nodig is om op dek hulle werk te doen, asook een wit lig wat bedoel is om aan te dui dat dit ‘n motorskip onderweg is (steaming light). Eers wanneer jy naderkom skakel hulle die ander nodige ligte aan. ‘n Mens weet gelukkig vooraf daarvan en hou maar ver verby, net ingeval ‘n mens hulle nette vang.

Ons het ons horlosies vandag nog ‘n uur terug gestel. Ons is nou drie ure na Greenwich-tyd en vyf ure agter SA tyd. Dit, tesame met die kort kosmaak-tyd, het ‘n marathon kaartspel sessie veroorsaak. Dit was ‘n jolige tyd gewees. En die luim wissel van lighartig tot baie ernstig, afhangende van hoe die pot verloop. Groot vermaak nog steeds.

Ek koester nou nog Carol se sms. Dis nogal ‘n openbaring om te hoor hoe die gesprekke begin gaan rondom sateliet-kommunikasie- en fone. Dis ‘n gedagte wat duidelik almal van ons begin pla. En dis gesetel in die hunkering na ander mense, veral die geliefdes. Niks wat iemand sê nie, maar daar is duidelike tekens.
Almal het gelag toe ek deurmekaar raak met my skoftye. Nou gebeur dit met Drikus, ten spyte daarvan dat hy ‘n gevorderede selfoon het en ‘n wekker kan stel. Renier, op sy beurt, begin vergeetagtig raak. En dis toenemend. Ek het hierdie soort ding laas in Nigerië ervaar toe die expats uit Brittanje se skofte so verval het. Toe het ek dit gesien in hulle taalvermoë, wat uitkom in korrespondensie. Toenemende spelfout en taalfoute soos die tyd aangaan. Gelukkig is die groepsgees en moraal aan boord positief en ons dra mekaar. Dis nie nodig om kwaad of aggressief te raak nie.

Hierdie veranderde gedragspatrone dui natuurlik op ‘n ligte spanning wat opbou en waarvoor die skipper sy beplanning moet aanpas. Die stop by St Helena is deel daarvan. Dan, afhangende van toestande, kan ‘n mens nog ‘n stop maak by Barbados of ‘n ent verder. Maar dis ‘n ding van sielkunde waarvoor die skipper mooi op die uitkyk moet wees.

Dis deel van die bestuurstaak, waar daar geen kursusse vir voornemende seiljagvaarders aangebied word nie. Perdalks omdat dit meestal rustige tipe mense is?

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment