Sunday 19 February 2012

Mymeringe oor musiek en 'n mylpaal

2011-12-20 21h00

Vandag het ek nog ‘n mylpaal behaal. Ek het my eerste Atlantiese kruising in ‘n seilboot voltooi. Wel, soort van.

Ons is verby die wye deel van die oseaan, en hoewel ons nog steeds in die Atlantiese oseaan is, seil ons nou so honderd myl van die huis af al teen die kus op. Daar is ‘n seestroom wat help en ‘n wind van so by die twintig tot vyf en twintig knope. Die boot seil gerieflik teen knap oor sewe knope met stote oor agt knope. Die wind is bestendig en die boot maak gelukkige geluide. Dis ‘n lekker opwindende gevoel en is beter as die stadige kus en wispelturige wind wat ons genoop om met groot afstande te motorseil.

Ons het weer ‘n paar skepe gesien vandag. Maar die mees opwindende deel was toe die dolfyne kom kuier het. Ons was nog besig om kaart te speel, toe sien ons net hoe spring die dolfyne skoon uit die water uit om ons te roep. Ek is redelik oortuig hulle het ons geroep om te kom kuier, want toe ons nou eers voor op die trampoline lê en oor die boeg loer baljaar hulle toe éérs. Hulle swem so tussen die romp en dan draai hulle op hulle sy om vir ons te loer. Dit op ‘n afstand van minder as twee meter. As die boot ‘n bietjie laer was kon mens aan hulle geraak het wanneer die deinings verbykom. Dit was ‘n opbouende en blye ervaring. Jy voel sommer welkom.

Die weer is nou steeds lekker warm en die wind bring lafenis. Ek kom agter dit word in die algemeen warmer want my kajuit is beduidend warmer. Ek moet die luik bedags oop hou, anders word dit ondraaglik warm.

Die sms boodskappe wat ek vanoggend van Carol af gekry het, het my dag redelik opgekikker, al is ‘n sms maar ‘n soort van ‘n afskeep kommunikasiemiddel. ‘n Mens wil maar kontak hou met jou geliefdes, ten spyte van al die opwinding van die reis. Ons het nog so effektief sestien dae of so se seil oor. Die res is ons in hawens of marinas om die boot te her-bevoorraad of af te gee. Dit lyk of ons beide Kersfees en Nuwejaar ter see sal wees. Ons vooruitskatting is dat ons eers teen 1 Junie by Barbados sal wees.

Nou is dit naby aan die Karibiese see. Daar waar die seerowers van ouds uitgehang het. Die plek waar ons heen gaan, Tortola, was ‘n erge rowernes destyds. Die Spaanse skepe, met hulle vragte skate bestem vir Spanje en Europa, het daar by Antiqua bymekaar gekom voor hulle in konvooi onder geleide van Spanje vertrek het. Ek dink dit is by Antiqua. Dit kon ook een van die ander groot eilande soos Haiti gewees het. Of is dit nou Hispaniola wat vandag Haiti en die Dominikaanse Republiek huisves? Elk geval, dis ‘n baie beroemde en berugte deel van die wêreld. Dis tegnies deel van die Atlantiese oseaan, maar het sy eie naam. Die naam is afgelei van die word Karib, wat die inboorlinge van die omgewing was.

Ons drie aan boord maak nogal ‘n gesellige driemanskap uit. Die spangees is uitmuntend en ons meer vriende as kollegas. Renier reken dis waarskynlik die laaste reis in ‘n lang tyd waar almal luister na Maria Callas en Laurika Rauch. Hoewel dit nie ‘n eklektiese mengsel van musiek is nie, sal die jonger geslag dit waarskynlik nie regtig waardeer nie.

Uit sy opmerking lei ek af dat meesal mense na hulle eie musiek luister met oorfone. Vir my is dit ‘n manier om jouself te isoleer van die geselskap om jou, beskou uit ‘n sosiale oogpunt. ‘n Mens isoleer jouself egter ook van die naturlike gebiede om jou. Dis vir my ‘n bietjie onbegryplik dat mens jouself isoleer van die natuur.

Veral hier op die boot waar jy gekoester sit in die arms van Moeder Natuur en min of meer blootgestel is aan al die elemente van haar gemoed. Die sosiale omgewing moet voorwaar gespanne wees om so ‘n isolasie te regverdig. Daar is derduisende mense wat groot geld betaal juis om weg te kom van die kunsmatige omgewing waarin hulle in die stad lewe. Ons het juis hieroor gesels vandag.

Die media is uit en uit daarop gerig om ‘n spesifieke aspek van die werklikheid te skep om sodoende ‘n produk of reeks produkte te kom verkoop. Dis al meer en meer ‘n kuber-ruimte waarin ons leef. Dan gaan mense en neem stukke daarvan saam op ‘n reis in die natuur in. Ek kan onthou hoe ons verbied is om radios op Voortrekkerkampe te neem. In later jare het ons vanself die radios en cd spelers afgeskakel wanneer ons by ons jagbestemming inry. Nou lyk dit asof die kuber-omgewing besig is om die natuur te verdryf uit die natuur uit, by wyse van spreke. Dis half jammer want musiek is goed om na te luister na ‘n week of wat van stilte. Ek is duidelik nog besig om af te wen.

Aan die ander kant is ek die enigste een wat nie persoonlike musiek het om na te luister nie. Ek het wel musiek op ‘n stokkie, maar kan die musiek net luister op ‘n openbare vlak aan boord, synde ek nie oorfone of iets dergliks het nie. Ek het na vele oorweging besluit dat dit nie noodwendig ‘n nadeel is nie. Ek is intern gerig vir my geestelike ontspanning en stimulasie, dus is die eksterne vorms van vermaak vir my van minder belang. Dit is egter nie in die algemeen die geval nie en mens respekteer ander se reg op sy eie vermaak.

Hierdie klink hengse filosofies, maar dit is waarskynlik die dinkpatroon om te volg wanneer mens konflikterende belange het in ‘n beperkte omgewing, soos ‘n klein boot. Die boot is groot in fisiese afmetings, groot genoeg om in redelike gerief die wye oseaan aan te durf.

Op ‘n ander manier, of op ‘n geestelike en sielkundige vlak is die boot baie klein en daar is relatief min privaatheid. Ons boot is groot genoeg dat daar vier ‘en suite’ dubbelkajuite is. Elkeen aan boord het sy eie kajuit, kompleet met ‘n badkamer. Dit vergroot die sielkundige omgewing darem redelik, maar dis nie op al die bote so nie. Miskien het mens dan tog wel oorproppe en jou eie musiek nodig om ‘n privaat kokon van musiek te skep in jou eie slaapbank, wat tipies gedeel word met iemand anders wat op diens is terwyl jy af is.

Ek geniet nogal my nagskofte. Dis my eie tyd waarin ek met myself kommunikeer, so op ‘n manier. Die werk aan die boot bedryf en sorg dat alles redelik veilig daaraan toe is hou mens nie regtig erg besig nie. Dus het ‘n mens genoeg tyd om te mediteer. Vir my is dit die prys wat ek kry vir my ondernemerskap om deel te wees van hierdie wereld. Jy sien meesal die oseaan en ervaar hom in al sy fasette. Dan sien jy ander werelddele, ontmoet ander mense en ervaar ‘n deel van hulle kulture. Jy leer ook jou skeepsmaats baie goed ken.

In elk geval, as jy mooi oplet en nie jou psige oorlaai met kunsmatige vermaak en afleiding nie, dan leer jy jouself ken.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment