Monday 27 February 2012

Toekomsplanne in 'n squall

2011-12-26 21h00
En nou is dit ‘n dag later. ‘n Dag nader aan ons bestemming. Die afstand wat oorbly is nou drie syfers, nie meer vier nie. En vandag was Maandag. Ons vooruitskatting is nou om volgende Maandag in St Maarten te wees.

Die dag was redelik stil en rustig. Ons is in ‘n seestroom wat ons meesleur teen so raps meer as twee knope. Ons het ‘n lekker wind gehad heeldag lank en ons effektiewe spoed was oor sewe knope.

Alles rustig tot vyf minute gelede. Toe slaan ‘n squall ons en ek moes seil inrol vir die vale. Die wind was sterk genoeg dat die boot, sonder enige seile, gemaklik nege knope spoed gehou het. En ek sit hier in die salon in ‘n plas sweet van die inspanning. Ons motor nou tot die weer bietjie bedaar het. Tussen die boot wat rondspring in die weer en my uitasemgeit het my handskrif ook sommer verval na oer-hierogliewe.
‘n Mens kan agterkom aan die geselskap aan boord dat almal nou uitsien daarna om weer land te sien. Renier het kontak gemaak met ‘n vriend wat ook aflewerings doen en dié het tekenne gegee dat daar aflewerings is na Australië. Die vangslag is dat mens verkeerd-om na Australië seil. Deur die Panama-kanaal, via die Galapagos-argipel en Tahiti. Die rede is blykbaar, dat hierdie bote nie sterk genoeg is om die ‘roaring forties’ deur te maak op die roete oor die Indiese Oseaan nie. Dit beteken ‘n reis van vyf maande.
Daar was ‘n eenparige nee van hierdie boot af.

Ons is almal vandag effens tam na gister se verandering in die roetine met die Kersmaal op die middagete instede van die gebruiklike aandete. Ons het die middag baie rustig deurgebring en niemand was juis lus vir kos gisteraand nie. Toe kom die squall ook nog, wat veral my energie getap het. Vanaand gaan dit darem beter nadat ek deur die middag en na aandete ‘n uiltjie kon knip.

Maar ek dink die tamheid is nie die rede vir die rigting van die gesprekke nie. Die verdere nuus was dat daar eers weer in aanstaande Maart aanstaande jaar aflewerings na Sentraal Amerika en die Karibiese Eilande sal wees. Die ander twee manne dink om ‘n vakansie uit te pak. Ek beplan om my kwalifikasies tot by Yachtmaster Ocean te voltooi. Ons almal kyk ook diep in ons eie sake en wonder wat die toekoms verder inhou.

Vir my is dit ‘n nuwe ervaring, want vir die eerste keer in my lewe is ek regtig vry om besluite oor my lewe te kan maak. Tot onlangs toe het ek nog vir Mammon gedien en was sy slaaf. Nou is dit anders en ek kyk met totale nuwe oë na die lewe. Op die rype ouderdom van sewe en vyftig jaar, nogal. Ek het al ‘n paar keer op hierdie reis so in die stilligheid gewonder hoekom ek so lank geneem het om die besluit te maak. Ek vermoed dis die juk van finansiële slawerny wat net te groot en swaar is.

En mens het nie al die aardse besittings, veral statussimbole, nodig om gelukkig te wees nie. Soos dit nou met my gaan sal ek waarskynlik ophou belasting betaal omdat ek gewoon te min verdien in rande. Ook omdat ek nie lank genoeg in my land is om te kwalifiseer nie. Ek bid dat dit laasgenoemde is. Maar dis steeds die toekoms. Ons bepaal nie volledig ons eie toekoms nie.

Van aardse besittings en statussimbole gepraat, myne is beide besig om te kwyn. ‘n Vriend en kollega het onlangs opgemerk date ek selfs nie my eie boot sal besit nie. Hy het gereken ek is bestem om ander mense se bote te seil. Soos dit nou lyk is hy in die kol. Die man se geloof is sterker as myne en ek het nogal op hom gesteun vir geestelike ondersteuning in my laaste dae by Denel. My skeepsmaats reken ook dat ek op die regte pad is met my tweede loopbaan en die pad wat ek loop. Komende van hulle laat dit my goed voel, heel positief vir die toekoms.

En ek loop een tree op ‘n slag en vat elke dag soos hy kom. Daar is ‘n duidelike rigting vir my vir die volgende twee maande. Ek loop hierdie pad tegemoet met volle vertroue.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Sunday 19 February 2012

Squalls en natreen

2011-12-26 04h00
Gister was Kersfees aan boord. ‘n Baie interresante dag met opwinding.
Ons het ‘n rustige oggend gehad tot Renier ‘n klein tuna gehaak het. Tien sekondes later het ek ook een aan die hoek gehad.

Daarna was dit tyd om ‘n bier te geniet. Dis hengse warm gewees en ons het al drie buite gesit en bier gedrink. Daarna was dit tyd vir Kersmaal voorberei en ek het my gebruiklike navigasie deurgewerk met ‘n stel sonlesings. Jy sal jou verbaas oor hoe lank dit neem om ‘n stel lesings te verwerk na net een bier op ‘n leë maag. Dis nou terwyl Drikus kos maak. Sticky sweet hoender met rysslaai, kool en botterboontjieslaai en soetmielie plaatkoekies. En daarby ‘n bottel droë Sauvignon Blanc vonkelwyn van JC le Roux. Maskas, maar het ons gesmul! Later sit ons toe op die agterdek in die hitte van die tropiese middag en geniet die laaste van die porsie vonkelwyn.

En so tussendeur vang ons toe nog twee babatunas gelyk. Ons dink hulle skool agter die hatch vliënde visse aan, want die seevoels koek ook saam in dieselfde area.

Ek kan vir Carol bel en ‘n kort rukkie gesels. Dit was nogal regtig baie lekker om haar stem te hoor. Ek dink dit was vir haar nogal ‘n verrassing. Aan haar praat klink dit asof ek van voor af sal moet vriende maak met die katte! Dis darem nie meer lank nie, dan is die reis verby. Ons is so knap meer as ‘n duisend seemyl van St Maarten af.

Maar die opwinding van die dag was op my wagbeurt van 18:00 – 21:00 gisteraand. Ons het nie kaart gespeel nie en elkeen het sy eie ding gedoen. Die klankstelsel het Boney M, Edith Piaf, Laurika Rauch en ‘n paar ander uitgedraai. Nogal heel rustig. Ons sit nog so toe sê Renier maar die wind kom op. Dit was toe net mooi donker en ons het die seil met moeite afgerol as gevolg van die 60km/h. Gepaardgaande met reën. Daar sit ek toe sop, sop nat gereën. Gelukkig in my baaibroek. Drikus het my kajuit se luik toegemaak toe hy sien dit reën in. Gelukkig is daar toe nie te veel water in my bed nie en ek kon toe so ‘n natterige slapie uitpak voor hierdie diensbeurt.

Maar eers het ek woes natgereën. Al die ou los velle is sommer afgereën. Dis snaaks hoe mens natreën as jy elk geval amper nie klere aan het nie. Miskien is dit ‘n ding van natgereën voel. Dis ‘n ding van ongemaklik voel. Dit was nou nie juis ‘n vreeslike koue reën nie, net koud genoeg om lekker te voel. Die sterk wind se afkoeling is eintlik die erge ding. Daar sit ek toe in my kozzie met die wind en reën in my gesig, oë en hare. 

Letterlik.

Squall
En hier langs my sit Drikus knus met sy reënbaadjie aan. En daar onder staan Renier, ook met sy reënbaadjie aan en trek aan ‘n sigaret. Renier het gou weer sy reënbaadjie uitgetrek want dit was steeds warm as mens uit die wind uit bly. Die squall het so driekwartier aangehou, toe gaan lê die wind, maar dit het nog vir ‘n ruk aangehou reën.

Ons het toe die hele nag ge-motor want jy kon nie die squalls sien in die nag nie en sal die boot omgooi of skade aandoen as so ‘n storm jou onkant vang. Tans is die wind nog mooi sterk, so 19 – 20 knope en ek hoop dit bly so, dan kan ons weer seil wanneer dit lig genoeg is om die squalls te sien aankom. Die wind is reg op die boot, dus gerieflik om te seil. Die deinings is ook dwars en slaan en stamp die boot ongemaklik rond. Mens kan dit sien aan die strepe wat ek deur my skrif maak elke keer as die boot so ‘n slag rondspring. Nie baie gemaklik nie. Jy val ook rond in jou bed. Dit hou jou gerieflik uit die slaap en dan sit jy rond met brand-oë van die wind, reën en min slaap. Lekker avontuur!
Maar miskien net vir die eerste keer…


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Visse en meditasies

2011-12-25 00h10
Kersfees 2011. Hoe het die jaar ten einde gesnel! Hier sit ek êrens op die diep blou see in tropiese hitte wat skrik vir niks. Gelukkig is dit nou nag, en sit mens nie in ‘n plas sweet nie.

Hierdie jaar was vir my baie erg met Werner se oorlye en die gepaardgaande trauma. Dis heelwat vererger deur die trek en die operasie op die knie, met die oor-en-weer vliegery en die uitmekaar wees.

Aan die positiewe kant is daar die aflossing van al die skuld en die ding van aftrede. Die vryheid is ongelooflik lekker. Deel daarvan stel my in staat om my drome te kan nastreef, wat my hier op die boot het.

Ons reis is nou amptelik op enkelsyfers dae vir die restant. Tans is ons nog by die Brasiliaanse kus en wel regoor die Amasone-rivier se monding. Dis omtrent ‘n drie-dag-reis om die monding verby te steek. Maar nou is elke dag nog ‘n mylpaal om af te tel.

Al hierdie is natuurlik soveel stories vir die vaak vir die leek. Die enigste manier hoe ons weet waar ons is, is die GPS en my sekstant en plotte. En selfs die plotte wat ek maak is net ‘n paar strepies op die papier. Daar is geen ander detail op die papier as die lengte- en breedtegrade wat ek teken en name gee, en die strepies en kruisies van ons vordering nie. Die skaal is te klein. Dus, op ‘n manier, as jy nie die strepies en syfers op die papier kan verwys na ‘n groot skaal nie, lyk dit steeds soos die prentjie buite die boot. Blou water reg rondom jou. Jy sal smaak die land het van die aardbol af verdwyn.

Nou begin die Polinesërs se benadering sin maak. Hulle reken die navigator trek die land op uit die see uit. Vir die beeld wat mens sien soos jy naderkom is dit waarskynlik ‘n geldige perspektief. Ons is nou al meer as ‘n maand op die see en het nog net St Helena eiland gesien. Darem ook al ‘n paar skepe. So waar is die land dan? Versink in die see. Die perspektief is so goed soos kan kom.

Vandag, of liewer gister, se opwinding moet die visse wees. Ek het ‘n kunsaas verloor met ‘n vis wat gebyt het. Kort daarna vang ons toe ‘n Dorado op die visstok. Ek het ‘n beurt gekry om die vis te bewerk en was nog besig daarmee toe ons nog twee visse vang. Dié slag was dit baba tunas, een met strepies en een geelvin tuna. Daar was ‘n hatch van vlieënde vissies, en tussen die voëls en roofvis was daar ‘n groot fees. Die dolfyne het selfs meegedoen.

Dit was my beurt om te kook en ek het tamatiebredie met beesvleisblokkies gemaak. Ek het ‘n halwe ui en ‘n kwart soetrissie gebruik uit kosbare voorraad wat kleiner is as die dae wat oorbly. Die bredie het ek voorgesit met bruin rys. Die het groot byval gevind. Renier het selfs ‘n bottel crème soda gaskoeldrank oopgemaak. Ons het almal gesmul. Vir die kersmaal is die Drikus se beurt. Ons gaan hoender kry in ‘n soet-en-suur sous. Klink lekker. Hy en Renier het uitgeruil met die kosmaak wat Renier reken hy kan nie goed genoeg kook om ‘n kersete uit te draai nie. Ons sal die hoofete vir middagete hê, nie aandete soos gewoonlik nie. Ek sien uit daarna.

Ek het vandag klaargemaak met Slave Species of God. Dis ‘n baie interessante boek en mens kyk na die bybel en ander ‘heilige’ geskifte uit ‘n heel ander perspektief. Jou beskouing van vvv’s word ook beïnvloed. Die volgende boek wat ek lees sal sommer net ‘n storieboek wees. Ek sal ook so tentatief kyk na die seilvaart handboek wat Drikus vir my gegee het. Dit dek die sillabus vir die Yachtmaster kwalifikasie.
Ek hoop van harte dat my koplamp se batterye hou, anders gaan ek sukkel in die nag, so met my flits in die een hand.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Goeie navigasie en ons kruis die ewenaar

2011-12-23 21h00
Vandag se mylpaal is noodwendig die oorsteek van die ewenaar. Ons het Renier se navigasie-lesse onderbreek om dit met ‘n bier te vier. Ons het selfs ‘n foto geneem van die geselligheid.

Ek het begin agterkom van een van die meganismes waarmee ‘n mens se dae op die reis begin deurmekaar raak en jy tred verloor met die tyd en die almanak.

Dis nou al die derde skof wat ek vandag werk en die tweede keer wat ek opstaan na ‘n slapie. Hierdie slapie was nou net twee ure, maar jou kop wil al hê dit moet die volgende dag wees. Daar is weliswaar ‘n les hierin: Moenie slapies tel om die almanak af te merk nie, jy gaan jou tyd vooruitloop. Of so iets.
So tussen die navigasie lesse en ‘n bier later, verwerk ek my stel lesings van vanoggend en kry ‘n 9 myl fout of daar rond op die oornag vordering. Die stel lesings vanmiddag, so vier en ‘n half ure later, is toe weer saam met Renier geneem. Dis nou sodat hy vertroue kan opbou in sy lesings en die verwerkings en plot van die resultate kan oefen. My stel lesings werk toe op ‘n potloodstrepie se dikte presies uit. Soms is die toeval vreemd, maar dit kom op ‘n geleë tyd! Drikus sal more my berekeninge nagaan.


Vandag kon jy regtig voel ons is in die trope. Buite waai die wind net koel genoeg om jou af te koel. Hier binne en in my kajuit is dit snikheet en bedompig warm. Mens sit amper in ‘n plas sweet hier in die salon. Selfs nou, halftien in die aand, is dit nog warm hier binne, maar die plas sweet is nie meer daar nie. Ons is nou al fluks aan’t vorder verby die Amasone-delta. As ek die kaart reg lees is die delta in die orde van ‘n duisend kilometer wyd. Dis nie duidelik op die see-kaart nie want die seekaart wys net die bevaarbare waters. En dis nogal groot, ‘n paar honderd seemyle stroomop. Maal met 1,852 om dit kilometer te kry en jy kry die idee van die enormiteit van hierde grootste rivier in die wereld.

Drikus het vandag die oond ingewy deur ‘n pampoen (butternut) botterskorsie in stukke te sny en dit te bak. Dit het ons saam met gebakte Dorado-filette geëet, met kous-kous vir die stysel. Het het die kous-kous met skoon seewater berei wat hy gekook het. Ons het besluit dit ‘n goeie idee, hoewel ek later besluit het ek sal dit met die helte verdun. As jy die water weer gaan weggooi, soos vir aartappels kook, dan gebruik ‘n mens skoon seewater. Ek dit moet gekook word want daar is lewende goed in seewater.

Dit was ook vandag wasdag. Die koue stort is nou lekker lou en mens wil sommer lank onder die water staan. Maar dis ook ons drinkwater, so jy werk maar spaarsaam daarmee. Ek sal more weer wasgoed was, bedoelende my beddegoed. Ek het nog ‘n skoon stel lakens en slope. Die wasgoed was ek sommer in seewater, dit voel goed genoeg met die handwaspoeier. Renier reken een van die dae kan ons twee keer per week in vars water stort, ons het genoeg oor.

Dis nogal iets om na uit te sien. Beide Drikus en Renier vertel van reise waar die disippline nie so goed was nie en die skipper die water moes rantsoneer. Ek hoop nie ek kom op so ‘n reis nie.

Verder sien ek uit om ‘n barbier te spreek iewers waar ons aan land kom. My hare is nou myle te lank vir die tropiese toestande waarin ons nou lewe, en my baard laat my regtig oud lyk. Ek sal darem ‘n foto neem, dis nie meer ‘n grizzly nie, maar nou grys. Ek sal soek vir skeergoed ook, daar behoort ‘n winkel op St Maarten te wees wat sulke goed smous, dis mos ‘n duty-free eiland.

Dit gaan snaaks voel om weer ander mense te sien. Ons is nou al meer as ‘n maand op pad en het laas op St Helena mense gesien. Teen die tyd wat ons by St Maarten aankom sal ons ‘n volle vier weke uit St Helena wees. Dan is dit Omie Vader Krismis Ziets tussen die vietse vakansieganger-lywe op St Maarten. Dit kan net snaaks wees!

Daar is blykbaar gemaklike internet-toegang, dan kan ek weer behoorlik kontak maat met die huismense. Ons gaan so medium besig wees met die boot se uitrusting en skoonmaak  maar sal darem vrye tyd ook hê. Ek het nodig om my sout-skurwe voete in seesand te kry.

Ek is nou amper klaar met die boek 'Slave species of God’. Die skrywer van die boek, Michael Tellinger , het ‘n interessante interpretasie van die ou geskrifte waaruit die Bybel ontstaan het, asook die interpretasie van die Sumeriese klei-tablette uot Mesopotamië en omstreke.

Sy interpretasie bied ‘n verklaring van die teenstrydighed en gapings in kontemporêre geloof en interpretasie van die ou geskifte. Hy voer aan dat daar eksterne wesens was wat die mense op aarde geskep het om hulle slawe te wees. Dit klink ongelooflik, maar kan ‘n geldige punt wees. Daar is nie regtig getuienis daarteen nie. Dit sal ‘n opskudding veroorsaak as hierdie wesens uit die ruimte die aarde weer besoek en dié keer alleenlik op die internasionale media rondpronk. ‘n Hele aantal godsdienste sal daar en dan verval. Dit mag nogal chaos veroorsaak!
Hier buite suis en stamp dit soos die boot voortbeur deur die water. Die see is nie meer so stamperig soos vroeër vandag nie, maar ons skud nog steeds so ‘n bietjie rond. En die see klop hard teen die onderkant van die dek tussen die rompe. Dis nogal ‘n steurende geluid, maar mens raak dit gewoond. Ek begin nou verstaan waar die argumente tussen enkelrompe en dubbelromp bote vandaan kom. Ek sal bietjie ‘n reis per enkelromp boot onderneem om genoeg ervaring te kry om self te kan oordeel. Ten minste weet ek die koppie koffie bly staan op die tafel sonder om die koffie uit te gooi op ‘n dubbelromp boot, self in vyf meter golwe.

Jy kan dit nie doen op ‘n kleinerige enkelromp boot nie. Ook nie sit en skryf by die tafel soos ek nou doen nie. En wanneer jy begin posisies plot sal jy jou speelgoed mooi onder beheer moet hê op ‘n enkelromp boot, anders vlieg dit die hele salon vol. Iets om in gedagte te hou. Maar ek sal steeds die sekstant saamneem, dit hou aan met werk.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Nav lesse vir die skipper


2011-12-23 03h15
Dis toe nie my beurt vir kook op Kersfees nie, maar wel Renier s'n. Wys jou hoe verloor ‘n mens tred met tyd, so met die skofte wat aanskuif en so aan. Die algemene idee met die Kersete is dat ons ‘n groot middagmaal sal eet, dan braaibroodjies die aand, of miskien ‘n slaai. Ons moet ‘n dis maak vir die hoofete wat by die droë sjampanje pas! Nogal.

Ons is nou besig om die mond van die Amasone rivier te benader. Daar is so ‘n groot inham in die kus, ter waarde van so twee, drie dae se seil. Die Amasone mond uit in hierdie inham. Die boot seil baie lekker al vir die afgelope drie, vier dae. Ons moet al die opwekker gebruik om die batterye gelaai te hou want die enjins loop glad nie. Die wind is nou uit die ooste en ons kry deinings van die kant af, effens skuins. Dit maak dat die boot nogal bokspring en baie raas.

Amasone delta sonsondergang
Gister was daar ‘n bietjie opwinding. Amper. ‘n Skip wat ‘n lang kabel van 6 seemyle sleep, het geroep na ‘n seilvaartuig. Dis nou op die radio. Hy het seker vyftien minute of langer geroep en selfs die seilvaartuig van belang se posisie gegee. Die seilboot was blykbaar op pad om oor die kabel te seil en hulle het gevra dat die seiljag van koers verander. Dit was lank en ons het naderhand gedink hy praat met ons, want die gegewe posisie was naby ons, so vyftien myl weg. Ons het selfs naderhand van koers verander, toe reageer die gewraakte vaartuig eers. Al hierdie het onder die horison gebeur en die hele petalje het hom oor die radio afgespeel. Ons eie stukkie opwinding vir die dag.

Vandag is weer wasdag want dis Vrydag. Langnaweek in Suid Afrika, maar normale roetine aan boord. Niks kunsaas gister uitgesit nie, ons seil te lekker en maak tyd op teen ons schedule. Dit gee ons ‘n ekstra rusdag by St Maarten of by Barbados. Daar is so 1800- odd seemyl oor op die reis. Dis twaalf dae.

Mens kan aan die koskas en die yskas sien dat die reis einde se kant toe staan. Ons is op die laaste pak beskuit en daar is nou nie meer ‘n stapel maalvleisporsies oor nie. Ek is bekommerd oor die sout, dit lyk min. Ek kook maar met sojasous sodat ek nie sout hoef te gebruik nie. Ons het baie aartappels oor, so ek beplan ‘n kerrie aartappelslaai. Ek sal miskien so halwe ui gebruik, maar ek dink die uie is amper op. Ek wonder wat kan ‘n mens nog met aartappels doen? Miskien moet ek more chilli con carne maak met kapok-aartappels. Jy kook die aartappels in seewater, dan het jy nie sout nodig nie. Dis gou om te maak. Anders weer ‘n tamatiebredie met sampioene. Dit kan ook werk. Ons het op die eerste aand van ons reis laas tamatie-bredie geëet en daar is nog baie blikke tamatie oor.

Ek sal weer seewater so bietjie-bietjie by disse gooi om die sout genoeg te kry. Die water kan mos maar wegkook.

Hmmm, gawe idee!

Ek is nou maer genoeg day my kozzie vanself afval. Ek sal maar die ander dra tot ek ‘n gordel kan bewimpel. Die maerword is minder as wat ek verwag het. Daar loop stories rond wat te kenne gee dat mense uitgeteer lyk na so ‘n Atlantiese kruising soos hierdie. Miskien lê die ding daarin dat ons relatief gemaklik lewe en ons eet ordentlik. Nie boeliebief met tamatie- en uie- smoor nie. Die hemele behoed ons.
Ek kom wel agter dat my bene begin styf voel. Sal maar begin strek oefeninge doen soos wat die see toestande dit toelaat. So semi yoga en pilates verbastering. Ten minste sal my kern spiere goed werk. Ek buig my knieë gereeld, want ons loop nie juis rond nie, dus kry jou bene beduidend minder oefening as op land.

Daar was so pas ‘n sms van Carol af. Dis nogal lekker, so terwyl ek ‘n stukkie alleentyd het. Maar ek glo dat sy nie besef daar is reeds vyf ure verskil tussen ons en haar nie. En eersdaags nog ‘n uur.

Ek prober my bes om mooi te skryf dat ek self dit later kan lees, maar die boot spring so rond dat ek my hele arm op die tafel moet druk anders trek ek ‘n streep oor die papier.

Drikus en ek het gister begin met sterrenavigasie-klasse vir Renier. Dis nogal ‘n missie want ek loop een rigting en die boek verduidelik dit anders. Drikus reken dis beter om die boek se werkswyse te volg, dan konformeer mens met die groter gemeenskap. Dis nog ‘n aanduiding van die alternatiewe denkwyse wat ek het. Drikus en ek het dit bespreek en ek het besluit om terug te staan, anders gaan ons vir Renier heeltemal deurmekaar maak. Die storie van my lewe.

Dis ‘n meulsteen om mens se nek om beduidend meer vlug van begrip te wees as die omgewing. Ek moet maar steeds leer om dit te verwerk. En verlang al na kontak met die Mensa-mense. Daar is ‘n paar lede in die Kaap wat ek nog kan onthou. Dit sal lekker wees om weer kontak te maak.

Ek wonder hoe lyk Shamrock nou. Roux het berig dat die enjins en prop nou herstel is en dat die werk aa die kajuit omtrent voltooi is. Dit was 5 Desember. Ek wonder of Roux-hulle nou vakansie hou op die boot. Ek hoop so, die boot kort so ‘n versie revamp, dan is dit ‘n lekker boot. Dis tans ‘n lekker boot om in te kuier, nog nie noodwendig gereed vir ‘n lang reis nie. Maar ‘n mens kan lekker Port Owen en Langebaan toe seil, dis ‘n twee-dag seil. ‘n Oornag trippie. Dit kan interessant raak met min mense aan boord omdat die boot nie ‘n stuuroutomaat het nie. Iemand moet deurentyd die boot stuur. Hierdie seereis van ons sou nou uitmergelend gewees het sonder die stuuroutomaat.

Tegnologie is ‘n wonderlike hulpmiddel, maar dis nogal avontuurlik om soms daarsonder klaar te kom. Ons het byvoorbeeld ‘n mikrogolfoond aan boord, maar dit word glad nie gebruik nie. Al die kookwerk is op ‘n 2 plaat gasstoof gekook. En die sterre-navigasie is nog ‘n aspek. Vir hierdie lang reis is die stuuroutomaat ‘n belangrike komponent as gevolg van die groot afstand en lang tydsduur van die reis. Op kort reise is dit waarskynlik ‘n luukse waarsonder mens kan klaarkom.

Jy kan ‘n baie interessante tyd belewe deur bietjie te dink voor jy nog wereldsgoed koop waarsonder jy kan klaarkom.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Roerbraai groente, maalvleis met cous-cous en navigasie

2011-12-22 00h45

Vandag was redelik stil. Ons het goeie wind gehad en ‘n seestroom wat ons aanhelp. Nou, later in die nag, het die wind opgekom en effens gedraai, nou kry ons dit van die stuurboordsy. Ons het amper 10 knope geseil vroeër en op die oomblik seil ons teen so 8-9.5 knope. Dis ‘n lekker spoed, maar die deining op die sy maak dat die boot maar bietjie bontspring en stamp.

Ek kon vanaand ‘n lesing neem op Venus. Dis baie meer akkuraat as ‘n sonlesing, net omdat mens ‘n goed gedefinieerde horison het. En Venus is ‘n puntbron. Mens sien nie die skyf nie, dus is dit redelik maklik om die kolletjie op die horizon te sit. My lesings was mooi gegroepeer en die fout is 6 myl op die GPS posisie.
Ek het vandag weer gekook. Die vorige keer het ek twee ure voor die stoof gestaan, hoofsaaklik om die rotis te maak. Hierdie slag was dit ‘n kwartier na twintig minute, toe eet ons. Ek het roerbraai maalvleis met groente en kous-kous gemaak.

Roerbraai groente en maalvleis met kous-kous

Bestanddele
500g maalvleis
1 brandrissie, gekap
1 teelepelvol knoffel, gekap
½ pak gevriesde roerbraaigroente
1 blik sampioene in pekelwater
1 ui, gekap (hierdie het ek nie gehad nie)
2½ koppies kous-kous
Skeut sojasous
2 – 3 koppies kookwater

Metode

Braai die knoffel en rissie saam met die gekapte ui tot die ui deurskyn. Ek het botter gebruik want ons olie aan boord begin min raak en ons het baie botter. Voeg die maalvleis by en braai tot dit bruin is. Verwyder van die hitte en plaas dit eenkant om te rus. Voeg ‘n skeut sojasous by.

Braai nou die gevriesde (of rou, wat ookal jy het) groente tot dit ‘al dente’ is. Sit die vleis terug en voeg die sampioene met die water by. Prut tot alles mooi deurgekook is en laat dit dan rus.

Voeg nou die kookwater by die kous-kous. Jy kan ‘n bietjie sout vooraf bysit, of gebruik ‘n bietjie groente-ekstrak.

Wag so 7 – 8 minute vir die kous-kous om die water te absorbeer en dien dan op.

15 minute, kant en klaar.

Bon appétit!



Die dis het goed byval gevind en is baie maklik en gou om aanmekaar te slaan. Die groente en vleis wat gemeng is maak dit interessant. En dit werk saam met die kous-kous, wat die konsistensie het van krummel pap. Die dis sal natuurlik ook lekker werk saam met krummelpap.

Ons is nou steed so 50 – 60 seemyle vanaf die kus af, iewers knap verby (Noord) van Fortalesa en in die rigting van die Amasone delta. Daar is ‘n maand verby sedert ons uit Kaapstad vertrek het en ons is nou 16 dae uit St Helena uit. Daar is nog so 13 – 14 dae oor van ons reis. Ons is ook nou baie naby aan die ewenaar en sal dit eersdaags kruis. Die weer is fantasties. Dis baie warm, maar die wind koel mens goed af.
Dis vandag die somer-sonstilstand in die suidelike halfrond (Summer salstie), ‘n Heidense (Pagan) feesdag. In oor drie dae is dit Kersfees, wat ‘n Christelike feesdag is en sy ontstaan klaarblyklik in die heidendom het. So verneem ek, in elk geval. Ons sal ‘n lekker dis maak. Dit sal my kookbeurt wees. As ons nog ‘n vis gevang kry, kan ons vis eet vir middagetes. Iets lig wat vinnig berei kan word. Dit sal ‘n seen wees, en lekker afwisseling van die 2-minuut noedel konkoksies wat ons uitdraai.

2 Minuut noedels, tuna en gebakte bone. Peri-peri sous vir garnering. En klomp briekmerke in jou broek agterna. Nogal. Ek hoop ons vang ‘n vis. Ek sal kedgeree maak en dit as ‘n koue slaai voorsit.

Hierdie deel van die reis is nogal interessant ten opsigte van die werklading op ‘n skof, veral nou in die nag. Jy moet elke 15 – 20 minute opstaan en gaan kyk of daar nie verkeer is nie. Net vanaand het ons ‘n skip gesien wat iets op sleeptou het en ons moes uitdraai en om ‘n visserboot seil. Die vaartuie self kan mens natuurlik nie sien nie, maar hulle moet ligte wys ooreenkomstig hulle status. Ek het party van hierdie nog net in die boeke gesien. Dit voel anders wanneer jy op die oop see so iets gewaar. Ons het maar die boeke nadergesleep om die ligte te kon interpreteer. Die vissersbote is makliker. In hierdie geweste het hulle alleenlik die ligte aan wat nodig is om op dek hulle werk te doen, asook een wit lig wat bedoel is om aan te dui dat dit ‘n motorskip onderweg is (steaming light). Eers wanneer jy naderkom skakel hulle die ander nodige ligte aan. ‘n Mens weet gelukkig vooraf daarvan en hou maar ver verby, net ingeval ‘n mens hulle nette vang.

Ons het ons horlosies vandag nog ‘n uur terug gestel. Ons is nou drie ure na Greenwich-tyd en vyf ure agter SA tyd. Dit, tesame met die kort kosmaak-tyd, het ‘n marathon kaartspel sessie veroorsaak. Dit was ‘n jolige tyd gewees. En die luim wissel van lighartig tot baie ernstig, afhangende van hoe die pot verloop. Groot vermaak nog steeds.

Ek koester nou nog Carol se sms. Dis nogal ‘n openbaring om te hoor hoe die gesprekke begin gaan rondom sateliet-kommunikasie- en fone. Dis ‘n gedagte wat duidelik almal van ons begin pla. En dis gesetel in die hunkering na ander mense, veral die geliefdes. Niks wat iemand sê nie, maar daar is duidelike tekens.
Almal het gelag toe ek deurmekaar raak met my skoftye. Nou gebeur dit met Drikus, ten spyte daarvan dat hy ‘n gevorderede selfoon het en ‘n wekker kan stel. Renier, op sy beurt, begin vergeetagtig raak. En dis toenemend. Ek het hierdie soort ding laas in Nigerië ervaar toe die expats uit Brittanje se skofte so verval het. Toe het ek dit gesien in hulle taalvermoë, wat uitkom in korrespondensie. Toenemende spelfout en taalfoute soos die tyd aangaan. Gelukkig is die groepsgees en moraal aan boord positief en ons dra mekaar. Dis nie nodig om kwaad of aggressief te raak nie.

Hierdie veranderde gedragspatrone dui natuurlik op ‘n ligte spanning wat opbou en waarvoor die skipper sy beplanning moet aanpas. Die stop by St Helena is deel daarvan. Dan, afhangende van toestande, kan ‘n mens nog ‘n stop maak by Barbados of ‘n ent verder. Maar dis ‘n ding van sielkunde waarvoor die skipper mooi op die uitkyk moet wees.

Dis deel van die bestuurstaak, waar daar geen kursusse vir voornemende seiljagvaarders aangebied word nie. Perdalks omdat dit meestal rustige tipe mense is?

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

Mymeringe oor musiek en 'n mylpaal

2011-12-20 21h00

Vandag het ek nog ‘n mylpaal behaal. Ek het my eerste Atlantiese kruising in ‘n seilboot voltooi. Wel, soort van.

Ons is verby die wye deel van die oseaan, en hoewel ons nog steeds in die Atlantiese oseaan is, seil ons nou so honderd myl van die huis af al teen die kus op. Daar is ‘n seestroom wat help en ‘n wind van so by die twintig tot vyf en twintig knope. Die boot seil gerieflik teen knap oor sewe knope met stote oor agt knope. Die wind is bestendig en die boot maak gelukkige geluide. Dis ‘n lekker opwindende gevoel en is beter as die stadige kus en wispelturige wind wat ons genoop om met groot afstande te motorseil.

Ons het weer ‘n paar skepe gesien vandag. Maar die mees opwindende deel was toe die dolfyne kom kuier het. Ons was nog besig om kaart te speel, toe sien ons net hoe spring die dolfyne skoon uit die water uit om ons te roep. Ek is redelik oortuig hulle het ons geroep om te kom kuier, want toe ons nou eers voor op die trampoline lê en oor die boeg loer baljaar hulle toe éérs. Hulle swem so tussen die romp en dan draai hulle op hulle sy om vir ons te loer. Dit op ‘n afstand van minder as twee meter. As die boot ‘n bietjie laer was kon mens aan hulle geraak het wanneer die deinings verbykom. Dit was ‘n opbouende en blye ervaring. Jy voel sommer welkom.

Die weer is nou steeds lekker warm en die wind bring lafenis. Ek kom agter dit word in die algemeen warmer want my kajuit is beduidend warmer. Ek moet die luik bedags oop hou, anders word dit ondraaglik warm.

Die sms boodskappe wat ek vanoggend van Carol af gekry het, het my dag redelik opgekikker, al is ‘n sms maar ‘n soort van ‘n afskeep kommunikasiemiddel. ‘n Mens wil maar kontak hou met jou geliefdes, ten spyte van al die opwinding van die reis. Ons het nog so effektief sestien dae of so se seil oor. Die res is ons in hawens of marinas om die boot te her-bevoorraad of af te gee. Dit lyk of ons beide Kersfees en Nuwejaar ter see sal wees. Ons vooruitskatting is dat ons eers teen 1 Junie by Barbados sal wees.

Nou is dit naby aan die Karibiese see. Daar waar die seerowers van ouds uitgehang het. Die plek waar ons heen gaan, Tortola, was ‘n erge rowernes destyds. Die Spaanse skepe, met hulle vragte skate bestem vir Spanje en Europa, het daar by Antiqua bymekaar gekom voor hulle in konvooi onder geleide van Spanje vertrek het. Ek dink dit is by Antiqua. Dit kon ook een van die ander groot eilande soos Haiti gewees het. Of is dit nou Hispaniola wat vandag Haiti en die Dominikaanse Republiek huisves? Elk geval, dis ‘n baie beroemde en berugte deel van die wêreld. Dis tegnies deel van die Atlantiese oseaan, maar het sy eie naam. Die naam is afgelei van die word Karib, wat die inboorlinge van die omgewing was.

Ons drie aan boord maak nogal ‘n gesellige driemanskap uit. Die spangees is uitmuntend en ons meer vriende as kollegas. Renier reken dis waarskynlik die laaste reis in ‘n lang tyd waar almal luister na Maria Callas en Laurika Rauch. Hoewel dit nie ‘n eklektiese mengsel van musiek is nie, sal die jonger geslag dit waarskynlik nie regtig waardeer nie.

Uit sy opmerking lei ek af dat meesal mense na hulle eie musiek luister met oorfone. Vir my is dit ‘n manier om jouself te isoleer van die geselskap om jou, beskou uit ‘n sosiale oogpunt. ‘n Mens isoleer jouself egter ook van die naturlike gebiede om jou. Dis vir my ‘n bietjie onbegryplik dat mens jouself isoleer van die natuur.

Veral hier op die boot waar jy gekoester sit in die arms van Moeder Natuur en min of meer blootgestel is aan al die elemente van haar gemoed. Die sosiale omgewing moet voorwaar gespanne wees om so ‘n isolasie te regverdig. Daar is derduisende mense wat groot geld betaal juis om weg te kom van die kunsmatige omgewing waarin hulle in die stad lewe. Ons het juis hieroor gesels vandag.

Die media is uit en uit daarop gerig om ‘n spesifieke aspek van die werklikheid te skep om sodoende ‘n produk of reeks produkte te kom verkoop. Dis al meer en meer ‘n kuber-ruimte waarin ons leef. Dan gaan mense en neem stukke daarvan saam op ‘n reis in die natuur in. Ek kan onthou hoe ons verbied is om radios op Voortrekkerkampe te neem. In later jare het ons vanself die radios en cd spelers afgeskakel wanneer ons by ons jagbestemming inry. Nou lyk dit asof die kuber-omgewing besig is om die natuur te verdryf uit die natuur uit, by wyse van spreke. Dis half jammer want musiek is goed om na te luister na ‘n week of wat van stilte. Ek is duidelik nog besig om af te wen.

Aan die ander kant is ek die enigste een wat nie persoonlike musiek het om na te luister nie. Ek het wel musiek op ‘n stokkie, maar kan die musiek net luister op ‘n openbare vlak aan boord, synde ek nie oorfone of iets dergliks het nie. Ek het na vele oorweging besluit dat dit nie noodwendig ‘n nadeel is nie. Ek is intern gerig vir my geestelike ontspanning en stimulasie, dus is die eksterne vorms van vermaak vir my van minder belang. Dit is egter nie in die algemeen die geval nie en mens respekteer ander se reg op sy eie vermaak.

Hierdie klink hengse filosofies, maar dit is waarskynlik die dinkpatroon om te volg wanneer mens konflikterende belange het in ‘n beperkte omgewing, soos ‘n klein boot. Die boot is groot in fisiese afmetings, groot genoeg om in redelike gerief die wye oseaan aan te durf.

Op ‘n ander manier, of op ‘n geestelike en sielkundige vlak is die boot baie klein en daar is relatief min privaatheid. Ons boot is groot genoeg dat daar vier ‘en suite’ dubbelkajuite is. Elkeen aan boord het sy eie kajuit, kompleet met ‘n badkamer. Dit vergroot die sielkundige omgewing darem redelik, maar dis nie op al die bote so nie. Miskien het mens dan tog wel oorproppe en jou eie musiek nodig om ‘n privaat kokon van musiek te skep in jou eie slaapbank, wat tipies gedeel word met iemand anders wat op diens is terwyl jy af is.

Ek geniet nogal my nagskofte. Dis my eie tyd waarin ek met myself kommunikeer, so op ‘n manier. Die werk aan die boot bedryf en sorg dat alles redelik veilig daaraan toe is hou mens nie regtig erg besig nie. Dus het ‘n mens genoeg tyd om te mediteer. Vir my is dit die prys wat ek kry vir my ondernemerskap om deel te wees van hierdie wereld. Jy sien meesal die oseaan en ervaar hom in al sy fasette. Dan sien jy ander werelddele, ontmoet ander mense en ervaar ‘n deel van hulle kulture. Jy leer ook jou skeepsmaats baie goed ken.

In elk geval, as jy mooi oplet en nie jou psige oorlaai met kunsmatige vermaak en afleiding nie, dan leer jy jouself ken.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12