Friday 27 January 2012

Voorrade, lang reise en verdwaal op die see.

2011-12-20 03h00


Gister weer 'n boodskap van Carol af gekry.

Dit klink of dit goed gaan. Die Volvo is nou reg, sê sy. Nou is dit nog my telefoonsage. Ek hoop eintlik dat dit ook uitgesorteer is.

Gister het ons baie lekker wind gehad en het lekker geseil. Om presies te wees het ons amper twee volle dae geseil sonder o die enjin te gebruik. Vanoggend, knap voor ek aan diens kom, het Renier die enjin aan die gang gesit omdat die wind gaan lê het. Ek het amper gedink dis oor 'n groot skip te naby aan ons is.

Ons het gister vyf skepe gesien. Die ene het voor ons verbygevaar op 'n afstand van seker so 800m. Ons het rondgewaggel in sy vaarwater, so naby was dit. Dink 'n bietjie; Die hele grote oseaan, en twee vaartuie het amper 'n “near miss” op 'n botsing. Gelukkig was dit in helder daglig. My indruk van die gebeurtenis is dat die vragskip se bemanning nie juis omgee vir ons nie.

Ons is nou so honderd seemyle van Brasilië se kus af en seil parallel met die kus. Oor 'n paar dae sal ons die mond van die Amasone-rivier oorsteek. Die reis raak nou meer interessant.

In terme van 'n vorderingsverslag is mens nou in staat om jou posisie te gee relatief tot landmerke, instede van 'n kruisverwysing van ko-ordinate in die middel van die oseaan. Jy kan jou posisie Google as jy internet toegang het en jy sal land daar naby sien. Relatief gesproke, natuurlik.

Honderd seemyle is nog steeds 'n groot deel van 'n dag se seil. Dis omtrent so ver as van Pretoria na Kroonstad.

Ons kos raak nou beduidend minder. Die vrieskas raak leeg, so ook die koskaste. Ons is nou op ons voorlaaste boks beskuit. Die sout is amper op, dan moet ons die growwe soutmeul gebruik. Ons begin alreeds beplan vir ons Kersmaal. Daar is darem 'n bottel vonkelwyn van JC le Roux.

Ek begin nou minder lees. Ek vermoed ek is lees-tam van al die worstel met Michener se Source. Dit raak bietjie woes en mens is naderhand bietjie gatvol vir die verweefdheid van die geskiedenis. Michener moet 'n man wees van erge deursettingsvermoë om so 'n werk te voltooi. Die boek bestaan uit sewe of meer stories wat saamgegooi word om Israel en die Jode se geskiedenis te plot. Telkens is daar verhale van menslikheid, onmenslikheid en wreedhede. Dit raak eentonig.

My navigasievermoë is nou mooi afgerond. Soms sukkel ek om te besluit oor die basiese verwysings, dan kos dit my herberekening van die lesings. Die resultate is telkens in die kol en die soort probleme wat ek kry is verfynings. Ek het waarskynlik (hopelik) die sekstant se nukke uitgesorteer.

Die indeks-spieël wil nie stabiliseer nie en die indeksfout het heeltyd verander. Selfs van voor die lesings tot na die lesings. Ek het toe die spieël ontmantel, die montering en die stelmeganisme nagegaan, en die spieël weer teruggesit. Die montering en die stelmeganisme is toe blootgestel en ek was in staat om die probleem te analiseer. Nadat ek die spulletjie weer aanmekaar gekry en gekalibreer het, lyk dit asof ek nou die probleem hok geslaan het. Ek neem steeds lesings van die son. Vir 'n geruime tyd het ons nou al genoeg wolke dat mens nie sterrelesings kan neem in die skemertyd nie. Ons is so naby aan die ewenaar dat mens in elk geval nie juis 'n lang skemertyd het nie. Jy moet maar gou speel om jou lesings te kry vandat jy die sterre kan sien tot die horison verdwyn in die donker. Wanneer daar wolke is, is jy basies gesnoeker.

Die sterrebeelde is natuurlik nou anders as by die huis. Orion, byvoorbeeld, staan regop, nie op sy kop soos gesien uit Suid Afrika nie. En party van die ander bekende sterrebeelde is nie meer heelnag sigbaar nie. Soos die Suiderkruis, byvoorbeeld. En daar is nou 'n ander stel sterre wat sigbaar is. Ek sal bietjie die Poolster soek as daar weer 'n oop naghemel is. Ek dink ons behoort die ster te kan sien van 5 grade suid af.

Steeds het ons geen dolfyne gesien nie, met die uitsondering van die enkele wat Renier gesien het. Dit is teen die verwagting in en ons sit en wonder wat die redes daarvoor kan wees. Ons sien darem weer voëls. 'n Mens kan amper begin verstaan watter nood Noag van ouds in sy ark moes gehad het na veertig dae sonder sig van land. Ons hele reis is in dieselfde grootte-orde. Ons het egter die voordeel van kaarte, navigasie-inligting en ons kan selfs op 'n eenvoudige manier weerinligting bekom. Ons doen dit deur Renier se pa te bel, dan soek hy die inligting op 'n internet webbblad, waarna hy dit sms na ons toe, alles per satelliet-telefoon. Mens wonder hoe moes Noag en sy mense gevoel het so op die oop water, sonder al hierdie hulpmiddele. Meer nog, hulle het nie geweet of daar nog ander mense oor was op die aarde nie. Dit moes half vreesaanjaend gewees het.

Simon Winchester bespreek ook 'n element hiervan in sy boek Atlantic. In die era van die ontdekking van die nuwe wereld het die seevaarders ook nie juis veel inligting gehad nie. As jy in daardie tyd by die hawe uitgeseil het, was jy maar in dieselfde bootjie, by wyse van spreke, as Noag destyds. Veral ten opsigte van die sielkunde van die situasie. Noag het sy ding gedoen in opdrag van sy God, die Europese ontdekkingsreisigers het 'n wilsbesluit gemaak en uitgevoer. Die wilsbesluit is aangevuur deur waarskynlik ekonomiese redes. Hulle wou ryk word.

In sy boek The Wayfinders bespreek Wade Davis die Polinesiërs se vermoë en tegnieke om oor die Stille Oseaan rond te vaar sonder om juis te verdwaal. Hulle het nie 'n geldhonger ekonomie gehad nie, dus was hulle seereise meer van 'n sosiale aard, om nuwe eilande te beset, besoek of iets dergeliks. Dis interessant om te dink dat die Polinesiërs vir 'n paar duisend jaar die Stille Oseaan bevaar het sonder die hulp van kaarte, kompas of enige ander meganiese hulpmiddels. Hulle het die sterre verstaan en ook die weerkunde van die omgewing.

Daarteenoor het Ferdinand Magellaan die hele Stille Oseaan oorgesteek sonder om een van die duisende eilande van daardie oseaan raak te ry. Die Mariana Eilande, waar hy die eerste keer aan land gegaan het, is basies al amper by Australië. Hy het darem by een of twee ander eilande verbygeseil sonder om te land. Waarskynlik is dit as gevolg van 'n gebrek aan verstaan van die weerkunde, want die eilande in die Stille Oseaan is in die orde van 50 seemyle uitmekaar, net so buite sig. En Magellaan moes tussen hierdie kettings of reekse van eilande deurvaar. Miskien is dit sy straf gewees vir een of ander sondes waarvoor die Here hom oor die oseaan laat swerwe het. Soos die Israeliete van ouds bietjie moes rondswerf in die woestyn destyds.

Maar ons verdwaal darem nie. Nie soos een dametjie by my plaaslike haarkapper nie. Hulle het op 'n seereis van die Kaap na Rio iewers op die see vir drie dae lank verdwaal.

Ek is nie seker hoe mens dit regkry nie.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment