Thursday 19 January 2012

Visvang en ek skryf 'n pen leeg

2011-12-14 21h00

Vandag is 'n baie interessante dag gewees. Ek het vanoggend nogal hard gewerk op my skof van 03h00-06h00.

Die weer was vol donderwolke en daar daar was 'n hele paar squalls om ons. Sommer ontstuimige lug. Die water is gelukkig nog redelik plat, so een meter of so se deining. Maar so tussen die squalls deur het die wind 'n hele paar keer van rigting verander en na elke squall sommer gaan lê. Dis asof die weer bietjie woer-woer gespel het met die boot. Ek het vir twee ure gesit en aktief die boot geseil. Seile verstel, laveer (“tack”), seile inrol, uitrol en die enjin aan en af. Niks tyd vir bepeinsing nie. Ek was half bly toe my skof verby was. Gelukkig het Drikus bietjie vroeër opgestaan en toe het ons darem saam tee gedrink, voor ek in die kooi geduik het.

Later in die dag sit ons nog so en gesels, toe vat 'n kolossale vis Renier se kunsaas. Gelukkig was dit op die visstok, maar toe ons weer sien is al die lyn byna afgerol, selfs teen die swaarste rem en die boot wat agter die vis aanjaag.

Dis nogal 'n hele gedoe om die seil ingerol te kry, beide die enjins aan en die boot op dreef agteruit agter die vis aan. Na dit alles, toe kom die vis los. Ons stel toe maar weer alles op en Renier is terug na sy kajuit. Hy was kwalik terug in sy kajuit, toe ek sien hoe sy stok se punt so wip-wip maak.

Hierdie slag is almal paraat maar die vis vat toe nie die aas nie. Ons het darem almal 'n vinnige blik op die vis gehad. Soos hy agter die aas aan is. 'n Monster van oor twee meter, sou ek skat.Die gure weer van voor dagbreek het so teen laat vanoggend opgeklaar en het van toe af mooi opgeklaar gebly met die wind wat uiteindelik bestendig uit die suidooste waai. Ons seil sedertdien alte lekker.

Die weer is lekker warm en ek loop net met 'n broek aan, selfs nou ná negeuur in die aand. Ek reken ek het al effens bruiner geword die laaste paar dae. Ek gebruik nie sonbrandmiddels nie omdat 'n mens nie so lank in die son is op 'n keer nie.

My navigasie-oefeninge begin vrugte afwerp. Tussen Drikus en myself het ons die sekstant se nukke en grille uitgepluis. Ek moet nog 'n manier vind om dit uit te haal, maar ten minste weet ons nou hoe om die instrument te kalibreer voor elke lesing.

Verder het ons uitgepluis dat om 'n paar lesings te neem, dan te kies watter van hulle om te gebruik, maak 'n beduidende verskil op die integriteit van die plot. Jy kan maklik sien watter lesings is verdag.Jy kan ook maklik sien hoe wispelturig jou metings is! Maar vandag was my plot binne vyf seemyle van die GPS-pposisie af. Dit na 22 uur se dead reckoning wat bygewerk is.

Ek plot die vordering van die reis op my kaart en gebruik die boot se GPS-log as basis. Die skaal is so groot dat my slegste posisie-bepaling minder as 6mm verskil maak op die kaart.
'n Bietjie staistiek: Ons is vandag 23 dae op reis. Tot en met 12h00 vanmiddag, plaaslike tyd, het ons 2835 seemyle afgelê. Ons is basies halfpad met die reis. Ons is byna oor die wye deel van die Atlantiese Oseaan. Ons is 8 dae op reis uit St Helena. En ek het so pas my eerste pen leeggeskryf.

Nou skryf ek met 'n Artline pen met 'n 0.4mm punt. Die pen skryf lekkerder as die vorige ene.

Ons het ook vandag ons horlosies met 'n uur teruggestel. Dit maak ons nou vier ure agter SA tyd. Ons gaan nog twee ure agter raak.

Die lewe aan boord is heel vrolik. Ek is die enigste ene aan boord wat nog 'n vis moet opsny. Renier het twee en Drikus een gevang. Ons aande is gesellig. Ons eet aandete so iewers tussen 17h00 en 18h00. Daarna speel ons kaart. Die kaartspel van die oomblik is Uno, 'n spesiale variasie van vreetkaart. Mens speel dit met 'n spesiale pak kaarte. Tans is ek die kampioen, maar ek dink die glorie gaan van korte duur wees. Die kaarte se behoorlike skommeling aldan nie, maak 'n groot verskil en ek was tot dusver gelukkig met die val van die kaarte. Dit alles gee aanleiding tot groot pret en geskerts.

Tussen Drikus en Renier het hulle vragte elektroniese kaarte en programmatuur. Vandag het hulle Renier se rekenaar opgestel en al die programmatuur aan die werk gekry. Ek is volgende aan die beurt. Ditto vir musiek en videos. Ek het nog niks videos gekyk op die rekenaar nie, bloot om twee eenvoudige redes: Die rekenaar se battery word gou pap, dan het ek 'n logistieke probleem om dit weer gelaai te kry. Ek kan dit net doen as die boot se enjin of die generator loop. Die ander rede is dat ek tot nou toe nogal heel besig was met navigasie-studies.

Ek sal 'n minder kragtige rekenaar kry om aan boord te gebruik. Beide Renier en Drikus gee te kenne dat rekenaars berug is vir gou oproes ter see op seiljagte en ander klein bootjies.

Die maan is tans besig om op te kom so tussen 'n paar los bondels wolke deur. Die hemelruim is verder redelik oop en die sterre is mooi helder. Die rustige omgewing in die nag vervloei so inme. kaar dat 'n mens amper voel jy leef in 'n droomwereld.

Ek verstaan nou goed hoekom die raad oor kameras aan boord is wat dit is: Neem 'n eenvoudige kamera, want dit het slegs nut by die vertrek en aankomste, verbind deur 'n massa van mooi sonsopkomste en -ondergange en maanskyntonlele. Jy kry amper 'n oordosis daarvan en kan maar min daarvan afneem want die boot staan nie stil nie.



Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment