Monday 16 January 2012

Uiteindelik mooiweer

26 November 2011

Aandskof.  Vandag het die son uitgekom en die wind het bestendig gewaai. Die see is kalm genoeg en ons het heeldag geseil. Hopelik hou hierdie weer aan vir 'n paar dae. Dis 'n heerlike ervaring om net die see te hoor. Die stuuroutomaat (“autopilot” vir dié van ons waarvan die Afrikaans gebrekkig begin word.) raas maar min. Ons luister na Mozart en Maria Callas, so tussen die geluide van die wind en die see. Dis 'n rustige atmosfeer by uitnemendheid.

Almal aan boord is duidelik in 'n beter bui en die algemene gemoedstoestand is lekker positief en opgewek. Dis nie lekker om vyf dae lank te stamp en skud in 'n gewldige see en amper stormwind nie. Mens slaap nie juis goed nie en dit maak almal maar effe knieserig.

Ons sien maar min seevoëls en tot dusver geen visse of ander seediere nie. Wel 'n paar stukke seebamboes wat saam met ons uit die suide moes kom.

Ek het verder studeer in die sterre-navigasie. Dit staan nêrens in die boek nie, maar sterrenavigasie werk dieselfde as gewone kusnavigasie: Mens het minstens twee, maar verkieslik drie peilings nodig om jouself te posisioneer.

Die tabelle help om die korreksies aan te bring om te kompenseer vir tyd van die dag, jaar, hoogte bo seevlak en parallaks vir die son. Ten minste verstaan ek dit.

Ons het vandag vir die eerste keer op die reis sonder truie en windjekkers geloop. Dis nogal 'n groot verandering. Mens sal glo die liewe Here het 'n skakelaar gegooi om die weer te verander.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment