Wednesday 25 January 2012

Stiltetyd, meditasie en olielensie-kerrie

2011-12-19 00h30

Dit was weer my kookbeurt gisteraand. Ek het alreeds vieruur begin kosmaak want ek het geweet dit gaan langer neem as normaal. Twee ure later is ek toe eers klaar en kan ons eet. Dit was beesvleisblokkies-kerrie in olielensies, bedien met rotis. Dis die rotis se voorbereiding wat so lank neem.


Beesvleis in olielensie-kerrie

Bestanddele:

1 koppie olielensies
¼ teelepel heel kojander
¼ teelepel heel komyn
4 kardamompeule, uitgedop
3 stukkies kaneelbas
4 korrels piment (allspice)
1 steranys
¼ teelepel anyssaad
½ teelepel borrie
1 eetlepel medium masala-poeier
1 teelepel knoffel, gekap
1 ui, gekap
1 eetlepel groen masala
500 gram beesvleisblokkies (goulash), in kleiner blokkies gesny
½ soetrissie, gekap
1 teelepel garum masala
sout na smaak

Roti

300 ml bruismeel of gewone koekmeel
1 eier, as jy een het, ek het nie.
sout na smaak
½ teelelpel heel komynsaad of anyssaad vir garnering
òf brooddeeg

Metode:

Bak die droë heel speserye in 'n droë pan tot die geure uitkom. Voeg dan 'n skeut olie by, vergaar verder tot die olie mooi gegeur is. Pasop vir aanbrand, dan is alles bitter en mens begin oor. Voeg die vleis by en braai tot dit begin bruin word. Verwyder die vleis en sous van die hitte en hou dit eenkant om te rus.

Voeg weer 'n skeut olie by die pan, asook die gekapte ui, soetrissie, groen masala en knoffel. Braai tot die uie deurskynened is . Voeg dan die masalapoeier en borrie by. Braai verder tot die droë poeierspeserye se geur uitkom.

Die olielensies moet vooraf in so twee koppies kookwater geweek word om uit te swel. Dit neem so 10-15 minute Voeg die geweekte olielensies by die uie in die pot en prut die sous tot die lensies begin opbreek.
Voeg dan die vleis weer by, kook deur en laat dit dan weer 'n paar minute rus. Die olielensies, ook bekend as dal, sal water absorbeer tydens die kookproses. Voeg water by soos nodig om die mengsel loperig te hou, anders kan dit aanbrand. Verwyder die pot se deksel sodra die lensie begin opbreek. Die sous sal dan indampp en verdik.

Jy kan so teelepel garum masala byvoeg vir garnering knap voor opdieneing. Dit sal die geur in die dis uitbring. Verder kan jy vars koljanderblare opkap en en bietjie by elke porsie in die bord sit. Moenie dit in die pot sit nie, koljanderblare het 'n sterk geur en kan die dis oordonder. Jy kan ook 'n bietjie saffraan aan die begin bysit. Week 'n paar stingels (2 of 3) in 'n halwe koppie kookwater. Sout die dis na smaak.

Rotis

Meng die meel en eier. Sout na smaak, so'n teelepelvol sal werk. Voeg water by die deeg soos nodig om 'n lekker brooddeeg te maak wat jy kan knie. Jy kan natuurlik liefs brooddeeg gebruik, maar op die boot raak dit nogal 'n luukse. Garneer die deeg met die komynsaad.
Verdeel die deeg in balletjies van so 30-40 mm nadat jy die deeg behoorlik geknie het. Rol die balletjies deeg dun uit en bak die rotis in 'n droë pan. Pasop vir aanbrand. Hierdie hoeveelheid is genoeg vir drie mense.

Die kerrie is genoeg vir 3-4 mense. As daar meer mense is, maak meer rotis en rek die sous deur dit effens te verdun.

Ons is nou naby die kus van Brasilië en so twee dae se seil vanaf Fortalesa, 'n groot hawestad. Ons is nou terug in redelike besige skeepsverkeer en ons wagbeurte is nie meer so rustig nie. Ons het vandag binne omtrent vier ure vier skepe gesien. Wanneer mens hulle sien op die horison is hulle waarskynlik net so meer as 'n halfuur weg van jou af, meesal minder.  'n Mens se horison aan boord die seiljag is maar naby omdat jy so naby aan die water is.

Die seevoeëls is weer terug., mens sien hulle nou gereeld. Die vlieënde visse is bietjie minder en ons het weer 'n dag geseil sonder 'n byt aan ons lyne. Dit sal nogal lekker wees om weer 'n vis te vang.

My navigasie is nog heel op standaard. Dit lyk ook asof ek die sekstant se gebruik onder die knie het. Die lesings kom nou met gemak en is nie meer so wyd verspreid dat ek lesings moet weggooi nie. Miskien is die oop weer en goed gedefinieërde horison deel van die rede. Ek was vandag nie lus om die sekstant te ontmantel nie, so ek het maar verlief geneem dat die indeksfout gaan kruip. My navigasie, na 'n oornagbeen, met die geassosieërde skattings en growwe onakkuraathede, is steeds binne tien seemyl korrek, vergeleke met die boot se GPS.

Vandag het ek vir die eerste keer na ST Helena-eiland my rekenaar uitgehaal en gebruik. Ek het 'n navigasieprogram by Renier gekry, wat oudergewoonte nie werk op Ubuntu/ linux nie. Daar is darem hoop, die helpfile dui aan wat ek van die internet af moet kry en wat ek moet doien om die program aan die werk te kry op Linux. Verder het ek 'n paar rekenaar-speletjies gespeel. En die eindresultaat is dat 'n mens breinmoeg is. Die tipe speletjie het natuurlik 'n groot invloed, maar ek sal liewer ander tydverdrywe soek ter see.

Ek het ook 'n klomp boeke vir die Kindle gekry. Dis nou vir 'n toekomstige tydverdryf. Sal maar sien of hulle goedkoop is op St Maarten, anders sal ek ene oor die internet aanskaf wanneer ek weer tuis is.

Ek sit nogal en wonder waar die lewe my heen gaan neem in die toekoms. Daar is nou 'n hele nuwe wereld wat oopgaan hier om my. En dis beduidend minder vreesaanjaend as die bedryf waaruit ek kom. Die bedryf waaruit ek kom is aan't sterwe en is besig om te kwyn, met die geassosieerde geskarrel na die oorblywende krummels van die krimpende begroting. Die bedryf waarin ek my begewe is aan die groei en dit lyk asof ek reg gerig is om 'n goeie tweede loopbaan te kan opbou in die seilvaartomgewing. Ek hoop dat Carol sal meedoen en ondersteun.. Sy gaan ook 'n besluit moet neem oor 'n tweede loopbaan, daar is nie tyd en vermoë vir aftree en niksdoen by die huis nie. Ek is nie seker of sy dit al ernstig oorweeg en oordink nie.

Verder begin die reis nou amper einde se kant toe staan. Daar is nog so knap meer as twee weke oor, dan is ons daar. Daar is natuurlik ook die stop by St Maarten, waar ons toerusting vir die boot sal oplaai. Klink my ons gaan teendaardie tyd ook nie meer aan boord kook nie, synde ons dan telkens aan wal kan eet en drink. En elke dag bad of stort. Dit gaan 'n belewenis wees!

Ons sal dan die boot skoonmaak en voorberei vir finale oorgee en aflewering. Na die reis van ses weke gaan dit aardig voel om weer permanent op vaste aarde te wee en die kamer staan stil. Ek mis natuurlik die katte ook, al hou hulle 'n mens uit die slaap. Veral so in die na-nag. En natuurlik mis ek my vrou. Dit gaan lekker wees om weer iets saam te doen. Die stap op die strand, die uiteet en so aan.


Ek reken ek sal minder Sodoku speel en meer lees. Die lees het my jare se goed gedoen hier aan boord. Dis 'n rustige soort tydverdryf en iets om jouself in te verloor. Daar is 'n persoonlike caveat vir my: ek moet miskien wegbly van vakliteratuur af, dis studie. Prediker 12 vers 12 lees: "En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees." Verder, die boodskap uit “Houseboat Chronicles” van Jake McDonald, is dat mens moet aanbeweeg. Die lewe gaan aan en dis nooit 'n goeie ding om aan die verlede vas te klou nie. Jy kan nie 'n toekoms bou op herinneringe nie, dis bietjie soos die Bybel se gelykenis van 'n huis op sand bou. Die see en water spoel die sand weg oor tyd, dan stort die huis in duie. Op dieselfde manier spoel die tyd en die lewe herinneringe uit jou gedagtes en die herinneringe vervaag. Dan stort jou lewe in duie as jy dit gebou het op herinneringe. Drome is anders. Dis goed wat beelde is in jou kop. Beelde in jou kop kan mens iets mee maak. Dis goed wat nog nie bestaan nie, maar wat more of oormore kan bestaan.

Daar is 'n element van beplanning en skepping in drome. Nie almal is nagmerries nie. En die nagmerries en spoke in my kop is grootliks besweer na hierdie reis. En ek kan bou aan my drome omdat die spoke stil is. Dan is daar tyd in mens se gemoed vir sulke gedagtes. Die Bybel vereis gereelde stiltetyd, 'n tyd van oorpeinsing,en gesels met jou God. So ook ander godsdienste. Die meer oosterse vorme van gosdiens gebruik meditasie. “Transcendental meditation” is die term. Dit transendeer mens se aardse woelinge en veroorsaak dat jou ego stil word, so dit transendeer jou ego as 'n begin. Daardie stemmetjie in jou agterkop wat jou slegte moed inpraat. Hoe dit ook al sy, dis 'n manier om stilte in jou kop te kry sodat jy kan tyd hê om jou hede te geniet en jou toekoms te kan beplan. Wel, dis hoe ek daaroor voel. En dit werk vir my.

Die meditasie is goed om jou gemoed tot rus te kry, selfs sielkundiges leer jou tegnieke om te ontspan. Elk geval, dit voel reeds goed vir my dat ek aanbeweeg uit my ou lewe na 'n nuwe een. Die ontdekkingstog is opwindend en laat mens sommer opgewek voel.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2013-01-23

No comments:

Post a Comment