Wednesday 18 January 2012

St Helena

2011-12-05 ST HELENA

Ons het vandag voet aan wal gesit op die eiland. Dis n heel middeleeuse dorp. Jamestown. Omtrent 3000 mense op die eiland. Lyk of daar erge Maori en Australiese Aborigine- invloed op die eiland is, geneties gesproke.

Ons het reeds gister aarriveer, maar moes wag vir doeane. Die Radio St Helena-mense kon nie hawebeheer in die hande kry nie, toe moes ons wag. 'n Hele middag verspil. Baie swak toerisme-beleid.

Die dorp is heel interessant. Jy stap van die hawe af deur 'n poort in 'n fortmuur om in die dorp te kom. Dit voel kompleet of jy deur 'n tydhek stap terug in die geskiedenis in.















Die winkels het nie juis veel om die lyf nie, meeste lyk of hulle 'n oorlewings-bestaan voer. Die mense is maar aan die arm kant, maar lyk nie juis ondervoed nie.

Ek sal moet Jack Daniels koop, daar is nie eers Bell's whiskey op die rakke nie, vergeet van enkelmout. En die goed is vrek vrek duur as gevolg van die Britse belastingstelsel op alkohol-inhoud. GBP 28.90 vir 'n bottel Jack Daniels. Ek het dit maar gelos.

Die plaaslike kos is maar so-so. Hulle aartappels word ingevoer. Baie vis, spesifiek roofvis, beskikbaar. Marlyn, tuna, swaardvis, saagvis, bonito, dorado. Min ander vis. Niks stokvis of snoek nie, dis Kaapse vis.
Ek het geld geruil uit my kredietkaart. GBP50. Transaksiefooi GBP2.50. Ek wil nie eers weet watse duik dit in my kredietkaart maak nie.
GBP6.30 vir 'n uur se internet-toegang. GBP12.60 vir twee ure. Maal met 15 om dit mooi af te rond. Dan kom jy uit by R200. QED. Ten minste het ek met Carol en Ewald gesels, al was dit onderbreek deur rekenaars wat hang en Carol se stokkie wat uitbom.'n Hele uur gesels. Dit was lekker. Ek het ook my joernaal-transkripsie oorgestuur met 'n paar fotos.

Die eilandmense is vriendelik, maar dis lekker om terug te wees aan boord. Dit voel na tuis wees.

Die SMS boodskappe deur die Iridium-satellietfoon werk, ek kry Carol se boodskappe.

Ons het lekker gesels met die eienares van die Consulate Hotel. Sy kom van Maun in Botswana. 'n Vuurvretermens. Sy het aangebied dat ons drank deur haar koop, dan kry ons dit teen groothandel-pryse. Sy was erg opgetrek oor ons aan boord moes bly oor burokratiese luiheid en reken sy gaan amptelik kla daaroor. Sy vertel van 'n ander boot wat op 24 Desember aangekom het, toe moes die mense Kersfees aan boord bly oor dieselfde nonsens.

Sy het ook vertel dat daar 'n kontrak gesluit is vir die bou van 'n lughawe op die eiland. Messrs Basil Read het die kontrak gekry. Ek dink om hulle te kontak , dis 'n 3-4 jaar projek en kan prdallks so ietsie daar verdien. Daarna kan ek behoorlik aftree en permanent seil.

Ons het gisteraand al my enkelmout whiskey (Jura) opgedrink en meeste van die Black Bottle (Hostile takeovers, no lawyers). Die manne hou nie daarvan nie, so ek reken ek sal maar daarvan saamneem op die volgende reis.

Ek moet erken ons het lekker gekuier gister. Kaart gespeel, toe later, na sononder, op die trampolien voor gaan lê en slimstories kwytgeraak. Klomp waarhede het ook uitgekom, nie vir publikasie. Nog spoke, ook in die ander mense se koppe, is nou weg. Nou is almal se maskers weg en ons is blootgestel aan mekaar.

Ek reken dis 'n goeie roep vir die been wat voorlê. 28 dae. Dis goed om 'n slag stoom af te blaas.

Maar daar het ook 'n paar waarhede uitgekom. Drikus se seksuele voorkeure was 'n ongemaklikheid, Renier en ek was beide bekommerd oor die ander se reaksie. Dis weg, en ons kan almal oor en weer skerts per geleentheid. Die manne sien ook om na my welstand. Ek kom agter dat hulle die meer fisiese en moeilike takies op hulleself neem.

Maar ek weet dat ek my kant sal moet bring met die skoonmaak van die staalwerk!

Ons het nie wagbeurte hier terwyl ons voor anker lê nie, dus kan ons 'n hele nag deurslaap. Mens vergeet hoe dit voel. Ook die wereld wat nie wil stilstaan nie. Vaste aarde is 'n heel ander konsep as jy eers twaalf dae op 'n boot was. Dit voel snaaks om land te sien, wat nog van rondloop daar.

Maar nou is dit tyd om te gaan slaap.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment