Google Perspektiewe | Ziets' Ramblings

Monday, 16 January 2012

Perspektiewe

25 November 2011

Einde van my middagskof. Die wind het effe afgeneem. Dit waai nou 20 knope met vlae van 25 knope. Die see is ook platter. Die 5m golwe kom nou net so elke twee minute. Maar ons lyk steeds soos karakters uit “Dinner for One”; steier rond soos die arme lyfeiene in die eenakter.

Ek het iewers in die nag uitgevind wat beteken genoeg slaap. Jy kan nie slaap uitmis tussen skofte en dink jy gaan sterk wees nie. Dit vang jou op subtiele maniere. Jy steier meer rond, dan dra jy maar jou veiligheidsharnas. Jy maak ook oordeelsfoute omdat jy vergeet jy's nuut. Dan doen jy simpel goed op eie houtjie instede van om te vra of te dink.

Soos rondsteier met 'n skerp mes in die hand.

Gelukkig is daar engele wat oor ons waak en, in Nataniel se woorde, vir jou vertel as jy droogmaak.
Mens se emosies raak ook op hol so in die allenigheid op die brug wanneer jy moeg is. Jy raak ook gou nukkerig en sommer moerig. Maar die ergste is die spoke in jou kop. Die spoke wat deur jou ego opgejaag word.

Hierdie spoke vertel jou jy het aangejaag en die see gaan jou verswelg. 'n Ander spook fluister in jou oor dat die mense by die huis nie vir jou omgee nie, hy saai twyfel in jou gemoed. Ook twyfel oor jou toekoms.

Ek kry die idee dat die groot toets van reise soos hierdie een meer gaan oor die bou van 'n mens se karakter as oor die fisiese ontbering.

Dis nogal 'n skuif in perspektief.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment