Google Navigasie en wasdag | Ziets' Ramblings

Wednesday, 18 January 2012

Navigasie en wasdag

2011-12-07 12h20

Ek het gisternag my eerste vlieënde vis gesien. Dis nou nadat hy my op die brug teen die been geklap het. Ek het my half simpel geskrik.Soveel so dat ek hom summier van die dek af geskop het en skoon vergeet het om 'n foto te neem.van die ou vissie van so 15 tot 20 cm.

Mens skrik jouself bedinges wanneer daar so gevaarte hier uit die donkerte jou klap. Waarskynlik is die slagoffer se reaksie skreeusnaaks, maar op daardie oomblik is dit 'n uitmergelende ervaring.

Ek het nogal baie studeeer in die sterrenavigasie en het begin agterkom waar lê my foute. Dis beide in my lesings en in die lees van die tabelle. Dit moet omsigtig gedoen word en nie met haas nie. En daar is 'n paar lesse

  1. Bevestig die kalibrasie van die sekstant telkens voor elke lesing.
  2. Gebruik groot hoeke om 'n plot te doen. Klein hoekies veroorsaak groot foute in posisie.
  3. Maak seker dat jy die korrekte tabelle tabelle in die almanak en reduksietafels gebruik.
  4. Maak seker jou berekeninge is in die regte rigting. Let op die teken en in watter halfrond jy werk.
  5. Gebruik lang basislyne vir dead reckoning, anders kry jy klein hoeke.

Ek begin verstaan watter korreksies waar gebruik word. Die oorwegende faktor is om presies te werk met opsoektabelle en berekeninge. Die proses oorheers alles; wanneer dit gesnap word is navigasie kinderspeletjies van daar af.


Dit was vandag 'n baie “stadige” dag. Byna geen wind nie, gedeeltelik bewolk, plat see, geen voëls of visse nie. Renier het darem dolfyne gesien op sy skof, die res van ons niks. Dit was nog koel en 'nmens trek nog warm goed aan vroeg in die oggend. Dis tyd dat dit bietjie warmer word, dan kan ek my bedlinne, truie en langmou T-hemp was. Hulle is teeen hierdie tyd bietjie hengse vuil.
Tussen die seelug, wat tans droog is, en die soutwater waarmee ons die dek afwas raak mens se vel nogal baie droog en skurf. Ek is bly ek het 'n familiegrootte bottel lyfroom saamgebring. Dit kom heel handig te pas..

Ek het nou gaan sekstantlesings neem van die maan en Venus. Dis nogal 'n uitdaging om die sekstant te gebruik in die helder maanlig. Die maan verblind jou en al die sterre is dan maar dof. Ek sal sterrelesings neem wanneer die maan bietjie weg is. Nou is dit kompleet soos 'n verligte straat in 'n gegoede woonbuurt; alles is gebaai in so silwer lig.

En so motor ons voort. Soos 'n stadige kar deur die Karoo. En al die dae is dieselfde en al die nagte is dieselfde. More gaan ons roes afhaal. Dit klink my dis so uur of wat se werk. Dan behoort die boot weer spiekeries te lyk. Daar is nou beduidend minder dieselkanne op die agterdek. Ons het hulle leeggemaak in die brandstoftenks en die leë kanne vir die watertaxi-drywer op stHelena gegee. Ek reken die laastes sal weg wees met die volgende aanvulling van die brandstoftenks.

Terug by die skoonmakery. Daar is tandeborsels aangekoop op St Helena. Dis nou vir die klein hoekies en gaatjies se roes. Klink bietjie soos diensplig, net anders. Ou toppie Ziets wat met 'n tandeborsel die boot se staalwerk bykom! Nogal 'n treffende beeld, so in 'n mens se gedagtes.

Ons het vandag ons horlosies 'n uur teruggestel, want ons is nou in die volgende tydsone wes van Greenwich. Ons seil so teen 140 seemyle per dag. Dis die ekwivalent van so bietjie meer as 2º op die ewenaar. Ons is op 15º suid, so ons kruis meer grade as dit. Maar ons seil nie reg wes nie, meer wes-noordwes. Dit gee so 2º/dag inkrement, wat rofweg vertaal na sewe dae vir 15º lengtegraad op die ewenaar. Dit beteken een uur tydsone-verskil elke week wat ons seil.

Ons verloor nou tyd, maar maak dit weer op wanneer ons vlieg. Dan skop die “jet lag” in. Mens wonder of die opgepotte rus kan help met die “jet lag.” Ek kan gelukkig heeldag slaap om te herstel daarvan.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment