Wednesday 18 January 2012

Maalvleiskerrie en die rustigheid

2011-12-07 00h25

Dit was gisteraand my kookbeurt. Ek het vooraf beplan vir maalvleiskerrie.

Maalvleiskerrie
Bestanddele:
400 g maalvleis
5 klein aartappels, in dun blokkies gesny
1 blik tamaties
1 blik ertjies
1 groot ui, gekap
¼ soetrissie, gekap
1 telepel knoffel
1 eetlepel kerriepoeier
1 eetlepel nat masala
1 klein brandrissie, gekap
¼ teelepel heel koljander korrels
1 telepel garum masala
½ teelepel fyn komyn
¼ teelepel heel komyn
3 kardamompeule
¼ teelepel anyssaad
1 steranys
Stukkie kaneelbas
Sout
3 korrels wonderpeper (allspice)
1 eetlepel maizena
½ koppie bruin lensies
1 ½ koppie rys

Metode:

Braai die droë heel speserye in 'n droë pantot dit verbruin. Voeg 'n skeut olie by en vergaar verder in die olie. Voeg die maalvleis by en bak tot alles mooi bruin en deurgebraai is. Verwyder van die pan en hou dit eenkant om te rus.

Gooi weer 'n skeut olie in die pan. Voeg die uie, soerissie, brandrissie, en knoffel by. Prut tot die uie deurskynend is. Voeg die res van die speserye by en prut tot dit deurgekook is. Wees versigtig om nie die droë poeier-speserye te brand nie. Voeg die tamaties by asook die aartappels. Prut tot die aartappels amper gaar is en voeg dan die ertjies by. Prut to alles deurgekook het en voeg dan die vleis weer by. Prut tot alles gaar is en voeg dan die garum masala by. Verdik die sous met die maizena.

Kook intussen die rys en lensies saam. Die lensies gee lyf aan die rys.

Dien op wanneer alles gaar is.

Hierdie metode neem maalvleiskerrie in 'n ander dimensie van kulinere genot in. Die geure is net meer opvallend en die dis is baie vullend. Die resep hierbo is ook nie te sterk nie.

Die manne het weer elkeen twee rondtes geëet. Ten spyte daarvan dat ek die rys en lensies amper te rou opgedien het. Ek het self so pas 'n klein porsie geëet op 'n sny brood. Net so vir 'n middernagtelike versnaperinkie, sien. En was dit nou lekker!

Ons is almal bly om weer aan boord te wees en aan die gang. Dis asof die land nie meer so erge aantrekkingskrag het nie. Vir my in elk geval. Die lewe aan boord is beduidend minder burokraties.

Op die oomblik is ons besig om te motor, daar is geen wind nie. Die maan is amper vol en sit reg bo ons. Dis gedeeltelik bewolk en die lig op die see is baie romanties. Jy sien 'n ligbaan van maanlig op die water en die hele see om jou is so mooi donker kleur. Jy kan selfs die horison behoorlik uitmaak.

Dis vanoggend helder genoeg om 'n paar sterrelesings te neem, as dit nie vir die wolke was nie. Miskien wel later. Ek het die observasie reduksie-berekeninge nou onder die knie en is heeltemal in staat om op grond van sonlesings en “dead reckoning” myself te plot. Nou is dit 'n kwessie van maan- en sterrelesings en die verwerking daarvan.

Ons het gister heeldag 'n kunsaas gesleep, maar weereens niks gevang nie. Ek het darem op my diensbeurt gister 'n bietjie beweging in die water gesien. So 'n vinnige kol spatsels, soos wat 'n skool klein vissies maak as 'n groot vis hulle jaag. Dis darem iets.

Een van die dae sal ons begin om die staalwerk op die boot skoon te maak. 'n Mens staan verstom oor die mate van roes wat reeds sigbaar is, slegs twee weke nadat die boot te water gelaat is. Dit klink darem of dit nie 'n lewensroeping-tipe taak is nie.

Intussen is ek steeds besig om gewig te verloor. My knie is ook reg en ek het nie meer 'n probleem met 'n sinus-drup nie. My enkels swel ook glad nie op nie. Maar ek was redelik uitasem na ons bietjie vinnig die bult op geloop het in die dorp op St Helena. Dit lyk of die luilekker lewe op die boot 'n groot duik maak in mens se fiksheid, veral ten opsigte van hart- en long oefening.

Die gebrek aan kardio-vaskulêre oefening is waarkynlik nietig vergeleke met die positiewe effek van lae stres, baie rus en geen alkohol nie.

Dis interessant, maar daar word niks aan boord gedrink terwyl ons ter see is nie. Ons sal iets neem vir Kersfees en dan wanneer ons weer land kry en anker of vasmeer. Dis waarskynlik uit hierdie gewoonte dat jotties 'n reputasie kry van drinkelaars; Almal sien hulle drink aan wal. Behalwe die hard-core Vaaldam-sailors natuurlik. Hulle vat 5c se brood en R10 se drank aan boord, nogal.

Maar die manne sal vir my sê TMI: Too Much Information.

Ons praat nie daaroor nie.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment