Monday 16 January 2012

Gewigsverlies en fosforligte in die water


1 Desember 2011

Ek het vandag met Carol kontak gemaak per satellietfoon. Dit was aaklig. Twee minute is gou verby. Die kommunikasie was swak, beide vir die mense en ook die elektroniese kanaal. Die kanaal was hakkerig en en stemme onderbroke. En die gesprek was in kort woorde.

Kort woorde dra nie juis veel inligting oor nie, dus wag ek maar vir die WiFi fasiliteit op St Helena. Hierdie poging was teleurstellend en ek sal nie weer dit probeer nie. Ek kon darem die boodskap deurkrydat Carol my kan sms op die boot via die internet.

Driekus het vandag weer kos gemaak. Hy het vis gebraai, in meel gerol en diepolie. Die vis is toe bedek met 'n glasuursous van kerriepoeier, gebraaide uie en suikerwater wat hy gekook het tot dit dik word. Dit smaak uitmuntend en is 'n variasie op die roerbraai vark en hoender wat ek tuis berei. Die vis was bedien met aartappelslaai. Lekker!

Ons het vandag ons eerste “squalls” gekry. Dis los reënbuie wat met 'n sterk wind geaard gaan. Behalwe dat die windvlae nie juis sterk was vandag nie. Ek het genoeg son gesien om weer twee lesings met die sekstant te neem.

Voorts het ek my van my bestaande lesings verder verwerk en geplot. Die resultate wissel van hengse akkuraat tot middelmatig. En ek het nog baie oefening nodig om akkurate sekstantlesings te neem.

Vandag het ek my broek nog so 'n versie stywer vasgemaak. Ek verloor hengse baie gewig. Of so voel dit altans. Ons eet net een behoorlike ete per dag en die res van die tyd is dit elkeen vir homself. Ek het gisteroggend die reste van die vorige aandete vir ontbyt genuttig. Middagete is 'n grondboontjiebotter toebroodjie of 'n appelkooskonfyt en kaastoebroodjie. Ek het myle te veel versnaperinge en soetgoed saamgebring. Tot dusveer het ek nog net omtrent vyf pakkies goed opgeëet en van dit het my maag ontstel. Mens moet maar versigtig vir droeë vrugte en so aan.

Ons het vandag ons horlosies nog 'n uur teruggestel om aan te pas by die tydsone. Anders kry jy dat dit al agtuur is voor die son opkom. Of anders ruil jy wagbeurte om 06h00 in die pikdonkerte. Dis baie subtiel, maar mens kom die verskil agter. Dit gebeur stadig, dus is jou liggaamsklok in staat om by te hou. Maar ek dink dit gaan woes wees om terug te vlieg met die jet lag en al.

My handskrif is nie juis iets om oor te spog nie, maar mens moet in ag neem dat ek sit op en skryf op 'n boot wat nogal heelwat beweeg, as jy dit nie bokspring wil noem nie. Ek vermoed die beweging is deel van die rede vir die gewigsverlies. Dit bly egter terapeuties om te sit en skryf. So in die ritme van die golwe en deinings, met die geruis van die water om die boot.

'n Terugkeer na tradisionele kunste en vaardighede. Straks Victoriaans as jy wil. Volgende keer sal ek oorweeg om 'n vulpen te bring, maar dan moet ek die bagasie se gewig in ag neem en die bottel ink weggooi aan die bestemming se kant, aleer ek op die vliegtuig klim.

Ons is nou al elf dae op reis en het nog nie een volledige sonnige dag gesien nie. Die weer is besig om beduidend warmer te word, maar ek dra nog steeds 'n kortmou én 'n langmou T-hemp op die brug. In die nag kom my reënbaadjie by. Die ander manne dra al 'n kortbroek, maar ook maar 'n ding wat warm is en die wind afkeer. Hopelik sal die weer nog warmer word binnekort. Die weer is in elk geval meer gematigd as in Kaapstad. Dis iets om oor bly te wees. Ons het groot golwe gehad vir die eerste vyf dae van ons reis. Dit was nie aangenaam nie. Veral nie nadat die avontuur van die nuwe ervaring bietjie afgewerk geraak het nie. Dis maar 'n leerskool waardeur 'n mens gaan.

Ek het vir die eerste keer fosforligte in die water gesien. Dis asof iets die reaksie aan die gang sit, dan flits daar so klomp ligte langs die boot. Ek kon nie uitmaak of dit visse of 'n mikro-organisme in die water is nie. Dis nogal mooi, herinner so bietjie aan 'n klomp kameraflitse by 'n glansgeleentheid, met myself op die verhoog.

No comments:

Post a Comment