Google Die sielkundige reis en herinneringe | Ziets' Ramblings

Tuesday, 24 January 2012

Die sielkundige reis en herinneringe

2011-12-17 21h00



Ons is nou behoorlik in die trope en sal waarskynlik binne een week die ewenaar kruis. Ons is so twee dae se seil van die naaste land af, drie dae van Fortalesa in Brasilië af en daar is nog so twee weke en 'n paar dae se seil oor op die totale reis. Ons begin reeds die effek van die seestroom langs die Brasiliaanse kus te sien. Dit gee ons tans so halwe knoop ekstra spoed.

My navigasie is nou op standaard. Die fout op 'n oornag seil, lesings en berekeninge is steeds in die orde van 10 myl maksimum. Die sekstant se vermoë bly 'n probleem. Ek sal in die daglig die instrument se spieël uithaal en die montering versien.

Die weer bly maar effens wispelturig. Die wind is maar swak en wisselvallig in die dag, dan weer effens sterker in die nag. Renier verwag wind van so 25-30 knope langs die kus, maar daarvan is daar nog geen teken nie.

Ons het een byt gehad vandag. Ons sleep die kunsaas elke dag. Tot dusver het ons drie byte gehad in die laaste week, maar almal het losgekom. Ek het die minste byte sover. Ek het al die kunsaas geruil, maar sonder sukses. More is dit tyd vir 'n ander een.

Dit was Drikus se beurt om te kook. Hy het weer sy “sticky sweet fish”-dis gemaak, bedien saam met kapokaartappels. Dis 'n hengse lekker dis en ek sal dit tuis ook maak. Maar vir nou, hier aan boord, is dit Drikus se eie dis.

Ek lyk nie meer soos 'n bleeksiel nie, synde ek nou kleur op my lyf het. Maar ek sal 'n plan moet maak met 'n gordel; Ek het genoeg gewig verloor dat my swembroeke begin afval. En nie een het eers 'n lang veter om as 'n gordel te kan gebruik nie. Hoe mis ek nou my staptoer- en jag-dae. Toe het altyd 'n ekstra stel stewel-veters byderhand vir sulke gebeurlikhede. Ek sal maar weer so iets aanskaf. Mens gaan dit telkens gebruik na 'n paar dae aan boord, so wanneer jy die vetrolle begin afskud.

Die sosiale lewe aan boord is steeds heel gesellig. Ons het nou 'n standaard kaartspel-kompetisie in die middag so net na 12h00. Die kwinkslae is skreeusnaaks!

So tussendeur worstel ek met die boek “The Source” van James Michener. Ek gebruik die woord “worstel” omdat die storielyn ietwat uitgerek is. Die boek gaan oor die geskiedenis van die Jode en die kookpot van hulle land se ontstaan, beginnende omtrent 15000 jaar gelede, selfs vroeër. Elke era het sy eie stuk storie endis waar die skrywer miskien die spoor byster raak. Hier in die middeleeue en die kruistogte raak dinge bietjie dik vir 'n daalder met die beskrywings, grafies nogal, van die vervolging van die Jode. Telkens word daar derduisende mense afgemaai, gesinne word verbreek, moord en doodslag. Daarna word die agtergeblewenes, of die oorlewendes, ver oor die wereld heen versprei. Mens kan agterkom dat selfs my opsomming uitgerek begin word!

Ek wonder of Carol weg is vir die langnaweek, miskien om by haar Sus Rosa en Dolf te kan kuier. Sy het nog nie hierdie week weer 'n SMS gestuur nie., hoewel dit vir haar verniet is. Ek het nie 'n manier om te weet hoe sake verloop tuis nie, so 'n mens haal maar diep asem en gaan aan. Ek hoop egter dat sy sal verstaan dat sy meer gereeld iets kan aanstuur, al kry sy net een per week terug. Ek hoop van harte sy doen iets uit haar gewone roetine oor die langnaweek, dis mos vryetydsbesteding by uitnemendheid. Aan die ander kant mag die logistiek wat saam met die katte se versorging gaan haar idess varander. Dis in elk geval haar keuse van tydverdryf en lewenstyl.

My rekenaar het skaars gewerk tot op St Helena. Ek sal bietjie liedjies rondskuif op die stokkie en kyk of ek 'n paar kan omskakel na mp3-formaat. Ons kry die idee dat die klankspeler aan boord nie al die musiekformate verstaan nie. Ek sal ook 'n paar rekenaarprogramme kopieer vanaf Drikus en Renier se rekenaars.

Dis navigasie en reisbeplanning-programme. As jy 'n GPS-ontvanger aan die rekenaar koppel het jy dan 'n volledige navigasie-hulpmiddel teen 'n redelike prys. Ek gaan 'n plan moet maak met die verkryging van paierkaarte, die goed is vrek duur.

Genoeg van dinge, ek begin nou verlang na my vriende ook. Om met hulle te gesels en bietjie nuus uit te ruil. En ook om my ervaring te deel.

Dis nogal 'n ding, hierdie ervaring. Jy gaan op reis om nuwe plekke te ontdek en te ervaar en om nuwe dinge te sien en ander kulture te ervaar. En op die ou end is die ontdekking iets van binne in jouself. 'n Ontdekking en ervaring van dele van jou eie ek wat jy waarskynlik nie van geweet het nie, maar wat jy nou gebruik tydens die reis, nie by die vertrekpunt of die bestemming nie. Jou verwysingsraamwerk en jou waardestelsel verander tydens die reis. So, die reis is meer sielkundig as fisies. Die fisiese deel kan met baie minder fisiese moeite en beslis minder sielewroeging gedoen word deur bloot per vliegtuig te reis. Maar die bootreis maak dit 'n dieper ervaring met meer fasette.

Hierdie joernaal is een van die uitings van die sielkundige reis, skat ek. Ek is bly ek het my ervaring begin opskryf, al voel dit net so effens. Dis deel van die ontdekkingsreis en 'n mens kan godsonmoontlik alles onthou om dit dan later te boekstaaf.

En jy wil spesifiek nie alles probeer onthou nie, dis een van die eerste sondes wat stres tot gevolg het. Oorlading van jou geheue. Jou korttermyn geheue is die eerste wat in die hek duik. Hierdie reis is ook bedoel om te ontspan, nie net werk nie. Al is ek 'n glorified afleweringsjonge, soos wat die fraaie juffrou Cronje destyds gesê het toe ons by die Amerikaanse konsulaat gesit en wag het vir ons visums. Dit voel soos baie lank gelede wat daardie gesprek plaasgevind het, nogal.

Ek staan verstom oor my eie denke tans. Daar was nog geen nostalgie of hartseer op hierdie sielkundige reis van my nie. Daar is wel herinneringe van werner en sy oorlye, en die mense wat my gedra het. Ek skat dis nog deel van die rouproses. Daar het ek mildelike kans voor gehad tot nou toe op hierdie reis, veral in die nagte wanneer dit bewolk en baie donker is, met niks om jou gedagtes te versteur nie. Ek kan voel dat die emosies van Werner se oorlye beduidend minder is . Daar is groot berusting en baie mooi herinneringe wat oorbly.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment