Google Die kokon van stilte om jou | Ziets' Ramblings

Monday, 16 January 2012

Die kokon van stilte om jou

30 November 2011 02h10

Die wind het opgekomm en waai nou so teen 13-16 knope. Ons seil lekker met die wind so oor die bakboord-agterstewe.

Ek het gister verder gestoei met die sterrernavigasie, Vandag en gister is terme wat neig om inmekaar te vloei. Ek verloor sommer maklik die datum. Al wat my herinner is hierdie joernaal en die navigasie-oefening. Ek weet hoe laat dit is, want my lewe word oorheers deur die diensrooster; 3 ure aan, 6 ure af. Die 15h00-18h00 skof maak ete vir almal, die volgende dag se 06h00-09h00 skof was skottelgoed en ruim op.

Ek het gister vir die eerste keer sedert ons vertrek uit die Kaap. Behoorlik gewas. Dit was 'n koue stort, die boot het nie warm water nie. Daar is nie 'n warmwater stelsel aan boord nie. Ook weer skoon onderklere aangetrek en die vuiles gewas.

Dit voel nie snaaks om nie te was nie.Mens is nie regtig vuil nie, maar begin erg ruik van die ou sweet. Gelukkig was dit maar koud en koel tot nou toe.

Ek voel geetelik heel uitgerus. En vrolik. Daar is nie snaakse verhoudingsprobleme of idiosinkrasieƫ aan boord nie. Die gebrek aan media is waarskynlik 'n seƫn. Dit maak dat mens jou medemens se geselskap waardeer. Die gebrek aan eksterne media maak dat jy meer fokus op jou eie vermaak en afleiding. Die roetine aan boord gee ook meer as genoeg eie tyd. Veral in die nag, soos nou.

Ek lees ook baie. Ewald en Nicola het 'n boek persent gegee: Atlantic, deur Simon Winchester. Dis 'n effe geromantiseerde geskiedenis van die Atlantiese oseaan, nogal moeilik om te lees, maar baie interessant. Noudat ek dit klaar gelees het, lees ek sommer gewone storieboeke, die eerste keer in 'n lang tyd. Nogal lekker vir 'n verandering. Ek begin dit selfs oorweeg om 'n elektroniese leesboek soos 'n Amazon Kindle aan te skaf. Dan verdwyn die klomp storieboeke uit mens se boekrak. Die klomp boeke wat ek aan boord gebring het gaan ek in elk geval weggooi in Tortola. Hulle neem plek en gewig op in my bagasie vir die terugreis.

Interessant hoe mens se verwysingsraamwerk verander. Die ander manne het persoonlike iPads en so aan en massas musiek waarna hulle luister met oorproppe. Ek sit en verlustig my in die kokon van van stilte hier om my. Daar is ander geluide hier naby, maar die kokon is van stilte.

Die water ruis en borrel by die boot verby. Soms klap die water teen die romp, soms klap dit hard tussen die rompe. Dis die boot se eie geluide. Die paneelwerk binne kreun en kraak soos die boot vervorm. Soms klap die katrolle soos die boot wieg op die water, veral as die wind swak is. Die seil klap ook so van tyd tot tyd as die wind swak is.

Maar dit alles dra by tot die kokon van stilte hier om my.

Dan is daar ook die boot se beweging. Nou is dit sag en wiegerig in die kalm see. Die deining is so tussen een en twee meter. Dis anders in 'n sterk wind. Dan raas die boot en stamp baie. En maak ander geluide, minder rustig. 'n Mens ontwikkel naderhand 'n gevoel vir die omgewing en die weer op grond van die geluide. Jy stel dan die seil om gelukkige geluide te hoor.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment