Thursday 19 January 2012

Chili con carne en navigasielesse

2011-12-12 23h58


Ek het vanmiddag uitgevind hoekom daar 'n afset is tussen my navigasie en die GPS. Dis omdat ek 'n konsekwente fout gemaak het tussen my berekeninge en die plot. Ek sal netnou dit oordoen, dan behoort die fout weg te wees. Ek kon nie verstaan waar die konstante verskil inkom tussen die GPS en my berekeninge nie, toe vra ek vir Drikus om te help. Die fout spring toe uit die oomblik wat hy die berekening op sy eie herhaal.


Dis interessant hoe baie ons geleer het uit daardie uur se saamwerk. Ons het ook 'n noen-meting opgestel, voorberei en geneem. Dit gee 'n mens se breedtegraad, omdat jy spesifiek die meting se tyd kies om die son op sy hoogste te kry, wat regbo jou is. Die lesing gee 'n lyn van posisie op die kaart, wat parallel is met die breedtegraad. Eenvoudig, as jy verstaan wat jy doen.

Ek het vandag heeldag sonder 'n hemp geloop. Ek het met hom aan geslaap en toe vanoggend om 06h00 hom uitgetrek toe ek aan diens kom. Ek het hom weer aangetrek vir aandete, daarna hom uitgetrek. Dis gewoon te warm. More sal ek die blik Game oopmaak, dat 'n mens iets kan drink wat jou koud maak en rehidreer.

Ek het vandag weer kos gemaak. Eers skottelgoed gewas op my diensbeurt van 06h00-09h00, toe kos gemaak op die volgende skof van 15h00-18h00.

Chile con carne

Bestanddele
1 blik botterbone
1 blik rooi bone
1 blik tamaties
1 koevert tamatiepasta
1 ui, gekap
2 brandrissies, gekap
skeut sojasous
½ teelepel varsgemaalde swart peper
sout na smaak
500 g maalvleis
1 teelepel knoffel
1 koppie rys/ 1-1 ½ koppie bruin rys
Ek het botter gebruik in plaas van olie om die vleis, uie en knoffel in te braai.

Metode

Braai die vleis alleen, sonder sout of ander geurmiddels, in 'n pan tot bruin. Botter maak dit mooi bruin. Voeg 'n skeut sojasous by, verwyder van die hitte en laat rus eenkant.

Braai nou die knoffel, uie en brandrissie tot dit begin bruin word. Voeg die tamaties, al die bone en die tamatiepasta by. Kook deur en voeg dan weer die uitgeruste vleis by die pan. Kook deur en skakel dan die stoof af of verwyder die pan van die hitte, sodat die hele dis kan rus. Voeg die gemaalde swart peper by en bevestig die soutinhoud.

Wag tot die rys gaar is en dien op.

Renier het gewetensbesware teen geblikte bone van enige aard. Blykbaar bang vir die winde. Hy het gesmul aan die dis. Hierdie dis gee nie vir jou winde nie. Maar dit moet die manne maar self uitvind. Interessant, Drikus weet te vertel dat die bone nogal lae GI is. Ek het dit nie geweet nie, maar dis iets om te koester en te onthou. Veral as daar 'n storm dreig en jy weet daar gaan vir 'n lang tyd nie behoorlike kans wees vir kosmaak nie. Die dis is maklik en werk ook oor 'n sny brood.


Dit is nou na 00h00, dus die 13e. Aan die einde van hierdie dag is ons amptelik op die helfte van die beplande tyd vir die reis. Dan is daar nog drie weke oor. Dis half nostalgies om daaraan te dink. Oor drie weke gee ons die boot af, vlieg terug huis toe en spat uitmekaar. Wel, hopelik tot die volgende aflewering. Vir my lĂȘ daar nog eers 'n kursus voor by Sail Due South vir Yachtmaster Offshore alvorens ek die volgende aflewering aanpak. Die volgende aflewering is darem teen betaling van sakgeld en die reis terug.


Ek sien nogal uit daarna om weer so aflewering te doen. Die wye oseaan het sy bekoring in die eie-tyd tot jou beskikking. Daarbenewens is mens nogal besig aan boord, hoewel nie te fisies uitputtend nie. 'n Lekker soort van luilekker aftree-joppie. Dit help geweldig baie om nie ledig te wees nie. Ek het myself besig gehou met die navigasie-studies. Die ander manne praat van 'n taal aanleer. Daar is gewis genoeg tyd daarvoor. Dit hou mens se verstand ook besig. Ek lag lekker in my mou. Dit kom uit dat die ander manne ook lekker aan die spoke besweer is. Smaak my dis 'n ding wat jou gryp so in die allenigheid, veral in die nag.


Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment