Google Bepeinsinge en sosiale interaksie | Ziets' Ramblings

Monday, 16 January 2012

Bepeinsinge en sosiale interaksie

30 November 2011

Vandag was dit die skipper se kookbeurt. Ons het varktjops, koolslaai en broek-en-baadjie aartappels geëet. Met Oros koeldrank daarby. Daarna het ons 'n paar potte kaart gespeel. Poenskop. Ek dink dis 'n goeie beskrywing om te sê dis 'n variasie van vreetkaart. 'n Pot duur so tussen vyf en tien minute en daar is min vaardigheid ter sprake. Mens kan die kaarte tel, dit help. Dis lekker sosiaal en ons drie kuier lekker. Dit begin 'n ritueel word elke aand na ete.

Vandag het ek verder gestoei met die sterrenavigasie. Reduksie vvan observasies. Dit knor maar so tussen die onkunde en die verskillende boeke met veelvuldige parameters en tabelle wat geraadpleeg word. Dan eindig elke lesing as 'n enkele lyn op die plot. 'n Leë vel papier met 'n paar lyne en 'n kompasroos word skielik 'n kaart met 'n strepie op. Dis nou die strepie wat aandui waar jy dink jy behoort te wees.

Interessante proses: Mens neem 'n lesing met 'n ingewikkelde instrument, die sekstant. Dan maak jy 'n paar maklike berekeninge en raadpleg dik boeke met baie tabelle en syfers. Daarna gebruik jy die antwoorde wat voortspruit uit jou gewigtige navorsing in die boelke en trek 'n paar lyne op 'n vel papier.

En as jy perdalks die ko-ordinate verkeerd gekies het, is jou plot van die papier af. Dis amper soos om van die plat aarde oor die rand te val. En om jou lê die eindelose oseaan. Jou enigste aanduiding van 'n verskil tussen gister en vandag is die kalender op jou horlosie en die strepie of kruisie op die papier.

Dis nou as jy nie van die aarde afgeval het nie.

Mens wonder soms hoe die seevaarders in die geskiedenis gevoel het sonder 'n horlosie aan boord. Hulle sou sekerlik 'n kalender kon byhou, maar dis altydmeting wat hulle gehad het. Daar was nie eers kaarte nie, so die strepei op dioe papier was waarskynlik weinig meer meer werd as die broodkrummel-spoor uit Hansie en Grietjie se storie.

Dis nou al twee dae bewolk genoeg dat ek nie sekstantlesings kan neem nie. Nogal romanties in die nag, veral as ons seil. Jy kan nie die horison uitmaak nie, alles is swart. Buiten nou die ligkring om die bootse navigasieligte.

Dan sit jy op die brug met 'n windjekker aan en bepeins jou dag en sommer alles wat jou altyd gepla het. Ook veral al die mooi dae en goeie dinge in jou wedervaringe. Dis interessant dat mens se negatiewe gevoelens, die donker gedagtes en 'n hele boel vrese so sommer in 'n paar uur verdwyn.

Vandag het die skipper vlieëende visse gesien. Ek moet nog. Hy reken dis 'n goeie teken, dis 'n aanduiding dat daar roofvis ook kan wees. Ek sien nogal uit om ook so 'n roofvis te vang.

Byvoordele van die werk, nogal. En dis nie belasbaar nie...

Ons is nou reeds 1200 seemyl van Kaapstad af. Net so vier dae weg van St helena, ons eerste stop. Die dae vloei so ineen, dit voel nie soos 'n week of meer op die boot nie.

Ek sien uit na die stop by St Helena. 'n Tydkapsule uit die Victoriaanse era en vroeër. 'n Plek waar tyd stilstaan. 'n klein stukkie land geisoleervan die westerse wereld se geroesemoes. En dit het 'n rol gespeel nog in my eie geskiedenis.

Iewers langs die pad het ek agtergekom dat die ander manne se gedragspatrone normaal is vir vreemdelinge wat vir die eerste keer saamgegooi word. Die vrese wat ek gehad het oor “downers” was in my kop, deel van die menigvuldige spoke wat besweer is. Daar is nie nydigheid of afguns op die boot nie. Elk geval nie tot dusver op hierdie reis nie. Maar die manne kom uit met rillers oor ander reise.

Rillers van meesal boeliebief en tamatiesmoor eet, van heetyd op die brug wees in jou diensbeurt. En van afknouery wat gebeur.

Interessant verder: Ten spyte van 'n voorraad whiskey en bier het nie een van ons nog lus gehad vir 'n dop nie. Miskien het dit iets te doen met die roetine aan boord: daar is gewoon nie tyd daarvoor nie. En aan die einde van jou wagbeurt is mens nie lus daarvoor nie.

Nou dat ons nader aan St Helena kom, wonder ek hoe dit by die huis gaan. Met Carol en die katte en die Volvo. Dit moet al lekker somer wees daar. En ek hoop van harte dat die Volvo nou uiteindelik behoorlik herstel is.

Die katte moet nou al groot wees: een rooi kat, een swart kat en 'n bont wyfiekat. Die rooie sal seker bly wees om weer speelmaats te hê van sy eie grootte.

Ek verlang ook na my vrou en 'n bed wat stilstaan! Hoewel, dis nou deel van die avontuur op die oomblik en ook vir die afsienbare tyd.

Authored by Johan Zietsman
Last updated on 2012-12-12

No comments:

Post a Comment